SuperSport Schools Plus

Dreyers en Walker woeker vir Wessies, Verwey moker 116 vir Helpies

By Franco Oberholzer , in Cricket | News , at 2024-09-26 Tags: , , , , ,

MARNEAU DREYER, een van Wesvalia se twee Dreyer-broers, speel ‘n kaphou. FOTO: Charl Rawlins.

Nie eers Jean Oosthuizen se asemrowende beurt van 181 was genoeg om Hoërskool Wesvalia se momentum op die Izintaba Gimmies-Krieketfees te stuit nie.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

Na die Wessies se Dreyer-broers haas onherstelbare skade vroeg in Hoërskool Brackenfell se kolfbeurt aangerig het, het Oosthuizen die verantwoordelikheid met die kolf op homself geneem.

Die Brakkies se voorslagkolwer het nie die doekies omgedraai nie om ‘n allemintige 181 lopies te moker. Sy beurt het van slegs 100 balle gekom, en 16 sesse en 14 viere ingesluit – wat beteken dat 152 ( 84%) van sy lopies deur grenshoue aangeteken is.

Die ouer Dreyer-broer, Marneau Dreyer, het uiteindelik Oosthuizen se kraantjie toegedraai om sy vierde paaltjie te neem. Ethan Walker was ook uitstaande met syfers van 3/46, terwyl die jonger Eduard Dreyer twee paaltjies vir 32 lopies laat spat het.

Marneau se heldedade was egter steeds nie gedaan nie en hy het die Wessies se jaagtog met ‘n blitsige en onoorwonne 78 lopies, van slegs 46 aflewerings, gelei. Luan Vermeulen het ook weer beïndruk met ‘n puik 59.

Die veelsydige Quewen Fourie het, saam met Dreyer, die Wesvalia-boot veilig tot in die hawe gelei met ‘n onoorwonne 51, terwyl Vermeulen en Fourie elk ook teen ‘n vinnige tempo gekolf het om te verseker dat die Wessies die Brakkies se telling in die 27ste beurt kon verbysteek.

Op dag drie het Juandre Verwey met die kolf uitgeblink vir Helpmekaar Kollege om Hoërskool Rustenburg met 105 lopies te troef. Die Helpies het oor die tydperk van drie dae hul kolfdiepte behoorlik uitgestal met verskeie spelers wat gesonde bydraes gelewer het.

Verwey het die gunstige kolftoestande in Potchefstroom ten volle benut om 116 van net 82 aflewerings te moker. Sy beurt, wat teen ‘n treftempo van 141 gekom het, het 11 viere en vyf sesse opgelewer. Die ervare Anrich Liebenberg het ook sy kolfvernuf tentoongestel om 56 lopies by te dra.

Henlo van Rooyen was die Rusties se suksesvolste bouler op die dag en het aan die einde van sy agt beurte met syfers van 3/42 gespog. Thian Labuschagne het hom bygestaan met drie paaltjies van sy eie. Verskeie ander bydraes deur die res van Helpies se kolwers was egter genoeg om die Johannesburgers tot ‘n reusetelling van 348/9 in die toegelate 50 beurte te help.

Rusties se Christivan Coetzer het op sy beurt vir die span van Rustenburg ‘n belowende platform geskep. Coetzer, wat daarvoor bekend is dat hy die bal ongelooflik skoon slaan, het sy 72 lopies van net 51 balle aangeteken.

Net Nathan Rossouw, wat ‘n welverdiende vyftigtal bereik het, en Thian Labuschagne (37) het egter verder noemenswaardige tellings aangeteken en die Rusties moes tevrede wees met ‘n totaal van 243. Anrich Liebenberg het vier paaltjies vir 34 lopies geneem.

Beknopte telkaarte:

Brackenfell 263 (Jean Oosthuizen 181; Marneau Dreyer 4/50, Ethan Walker 3/46, Eduard Dreyer 2/32); Wesvalia 264/4 (Marneau Dreyer 78*, Luan Vermeulen 59, Quewen Fourie 51*, Eduard Dreyer 26; Taige Niekerk 3/29). Wesvalia wen met ses paaltjies.

Helpmekaar Kollege 348/9 (Juandre Verwey 116, Anrich Liebenberg 56, Zuan Joubert 37, Zander Neethling 29, Xander Jackson 21, Kevin Olivier 21; Henlo van Rooyen 3/42, Thian Labuschagne 3/85, Marnus de Witt 2/54); Hoërskool Rustenburg 243 (Christivan Coetzer 72, Nathan Rossouw 50, Thian Labuschagne 37, Tristan van der Linde 25; Anrich Liebenberg 4/34, Aiden Pretorius 2/47). Helpmekaar Kollege wen met 105 lopies.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.