SuperSport Schools Plus

Dreyer sool Wessies tot sege, Gimmies skop af met ses van die bestes

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-03-10 Tags: , , , , , , ,

Reba Moalosi, linkervleuel van Potchefstroom Gimnasium, duik sierlik oor vir een van sy span se ses drieë Saterdag teen Hoërskool Wagpos. FOTO: Potchefstroom Gimnasium op Facebook.

Eduard Dreyer se stewel was Saterdag in Klerksdorp die beslissende faktor in Hoërskool Wesvalia se eerste sege van die jaar, in die NWU Prestige-reeks.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

Dit het soos verwag ‘n uiters fisieke stryd afgegee tussen die Wessies en Die Anker, met die Klerksdorpers wat uiteindelik met 26-24 die pyp kon rook.

Die besoekers van Brakpan het, na slegs ‘n paar minute se spel, hul agsteman en kaptein, Ruben Herbst, met ‘n besering verloor. Hulle het hulself egter nie deur dié terugslag laat onderkry nie, met vernaam slot, Brendan van Lutterfield, wat eenvoudig sy fokus verder verskerp het om die Wessie-pak met mening aan te vat. Daarvoor is Van Lutterfield met twee drieë beloon.

Dit het die res van die Brakpanse agttal aangevuur om die pap nóg dikker aan te maak voorlangs, terwyl binnesenter, Edrick Pienaar, die telbord laat aanhou rol het met drie strafdoele en ‘n doelskop.

Dit was egter die Wessies se skerpskutter, Eduard Dreyer, wat die laaste sê sou hê.

Dreyer was uitstaande in die nr 10-trui. Die losskakel het onder druk geslaag om sy span op die voorvoet te hou met flink diens en skerp visie, en hy het self ‘n slag agter die doellyn gaan draai.

Dit was egter met die stewel dat hy die knoop vir Wesvalia deurgehak het. Vier strafdoele en twee doelskoppe, tesame met sy drie, het aan Dreyer ‘n persoonlike bydrae van 21 punte besorg – waarvan twee punte die verskil tussen wen en verloor beteken het.

Potchefstroom Gimnasium het sy 2025-seisoen en Prestige-reeks geloods met ‘n gemaklike sege van 38-12 oor Hoërskool Wagpos in Potchefstroom.

Die Gimmies het ses keer gaan druk, met agsteman, De Wet Grobler, wat vir twee van dié drieë verantwoordelik was en oor die algemeen beïndruk het met sy aanvalsvernuf. Die ervare binnesenter, Elrich Bosch, het ook sy goeie spelpeil van verlede seisoen gehandhaaf en behoort weer vanjaar ‘n angel in die middeveld te wees.

Die stryd tussen Hoërskool Marais Viljoen en Hoërskool Jeugland in Kempton Park was die derde van die Prestige-reeks bepalings vandeesweek wat met slegs ‘n enkele punt beslis is. Dit was ‘n wedstryd wat vir hope opwinding gesorg het, met albei spanne wat uiters gevaarlik op die aanval vertoon het.

Die stelskopstryd tussen die tuisspan se losskakel, King Agbanzo, en Marais Viljoen se heelagter, Raynardt Kruger, was egter deurslaggewend. Agbanzo was in die kol met drie doelskoppe en ‘n strafdoel, maar Kruger het daarop verbeter met twee doelskoppe, asook twee strafdoele, wat uiteindelik ‘n sege van 25-24 vir Marais Viljoen beklink het.

Puntemakers:

Wesvalia 26 (13) – Drieë: Quewen Fourie, Eduard Dreyer. Doelskoppe: Dreyer (2). Strafdoele: Dreyer (4). Die Anker 24 (10) – Drieë: Brendan van Lutterfield (2), Xavier Momberg. Doelskoppe: Edrick Pienaar (3). Strafdoel: Pienaar.

Potchefstroom Gimnasium 38 (19) – Drieë: De Wet Grobler (2), Matthew Redelinghuys, Reba Moalosi, Elrich Bosch, MJ Potgieter. Doelskoppe: Zandré da Silva (4). Wagpos 12 (5).

Marais Viljoen 25 (10) – Drieë: Rio Tshimbalanga, Sifiso Shongwe, Kabelo Thloane. Doelskoppe: Raynardt Kruger (2). Strafdoele: Kruger (2). Jeugland 24 (10) – Drieë: Joseph Ngoma-Ngoma, Beya Nyathi, Lesego Moitse. Doelskoppe: King Agbanzo (3). Strafdoel: Agbanzo.

Ander spanne:

o.16: Die Anker 27, Wesvalia 0; Wagpos 54, Potchefstroom Gimnasium 10; Marais Viljoen 29, Jeugland 14.

o.15: Wesvalia 15, Die Anker 0; Potchefstroom Gimnasium 24, Wagpos 3; Marais Viljoen 19, Jeugland 14.

o.14: Wesvalia 39, Die Anker 0; Wagpos 3, Potchefstroom Gimnasium 0; Jeugland 12, Marais Viljoen 10.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.