Drake spuug vuur tot die bittereinde om Jeugland te troef

Nie eens ‘n agterstand van 15 punte, met skaars 10 minute oor, was genoeg om die vuur van Hoërskool Eldoraigne se Drake te blus nie.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.superpsportschools.com)
Die Eldos het Saterdagmiddag tuis in Centurion verbete teruggeveg met 25 punte in slegs sewe minute om dié agterstand om te swaai in ‘n sege van 27-20 oor Hoërskool Jeugland in die Bowl-afdeling van die SDC Noordvaal Cup.
Die Drake se staatmakerflank, Cameron Killian, was sy vurige self in die los en goud werd vir die tuisspan by die afbreekpunte. Dit het die vuur onder sy lostrio-kollegas, Justyn Meintjies en Esdee Kotze, aangesteek, met elkeen van die drietal wat agter die doellyn gaan draai het.
Uiteindelik was dit linkervleuel, Hugo Theron, wat die kersie op die koek aangesteek het deur, met speeltyd bykans verstreke, oor te duik vir die wendrie.
Andrew Khoza, buitesenter van Kempton Park, was die besoekers se groot gevaarman. Hy het die Eldos se middeveld deurentyd beproef met skerp aanvalslyne en het sierlik tussen die pale oorgeduik vir een van die Kempies se twee drieë.
Potchefstroom Volkskool, een van vanjaar se sterk aanspraakmakers op die Bowl-titel, het tuis sy veldtog gesaghebbend afgeskop teen Bergsig Akademie. ‘n Puik spanpoging het op ‘n oortuigende sege van 40-28 uitgeloop en, soos wat die geval was in die vorige ontmoeting tussen dié twee spanne, was dit die tuisspan se Lethabo Riet (regtervleuel) en Arno Nel (heelagter) wat Bergsig laat bontstaan het agterlangs.
Riet het by twee geleenthede uitstaande stukkies aanvalswerk afgerond, terwyl Nel vir ‘n tweede keer vanjaar agter die Arende se doellyn gaan kuier het. Vir die Arende het steelkantflank, Thatano Bagwase, sy lyf op die spel geplaas in sowel die vastelos as op die verdediging.
Die verdedigende kampioen, Potchefstroom Gimnasium, het in die eerste ronde nie op hom laat wag nie en gemaklik met 47-19 met die nuweling, Hoërskool Ermelo, afgereken.
Agsteman, De Wet Grobler, was weer die uitblinker onder die Gimmie-voorspelers, met loskopstut, Jeandré Barends, kort op sy hakke. Thabo Mokwena het nietemin uitgeblink op Ermelo se linkervleuel met sy bedrieglike vaart en aanvalsvernuf wat uiteindelik tot ‘n tweekuns aan drieë gelei het.
Hoërskool Randburg moes self ‘n agterstand van 18 punte uitwis om vir Hoërskool Dinamika met 29-18 te troef.
Die Randburgers se Graad 11-slot, Phillip Rykaart, was aan die spits van die terugvegpoging met nogmaals ‘n blink vertoning met die bal in hand en is met ‘n tweekuns beloon. Heelagter, Josh Wiggett, en linkervleuel, Vino Prince, het ook dikwels hul slag op die aanval uitgestal.
Puntemakers:
Eldoraigne 27 (5) – Drieë: Justyn Meintjies, Cameron Killian, Esdee Kotze, Hugo Theron. Doelskop: Shepang Motsomane. Strafdoel: Motsomane. Jeugland 20 (13) – Drieë: Levino Domingo, Andrew Khoza. Doelskoppe: Koketso Maphopa (2). Strafdoele: Mophopa (2).
Potchefstroom Volkskool 40 (23) – Drieë: Lethabo Riet (2), Arno Nel, Hennie Pretorius, Koan Smit. Doelskoppe: Juhan Redelinghuys (3). Strafdoele: Geldenhuys (3). Bergsig Akademie 28 (13) – Drieë: Thatano Bagwase, Alzandro dos Santos, Keabetswe Dale, Carlo de Jager. Doelskop: Bradley Stonehouse. Strafdoel: Stonehouse.
Potchefstroom Gimnasium 47 (19) – TBC. Hoërskool Ermelo 19 (7) – Drieë: Thabo Makwena (2), Janco Kleynhans. Doelskoppe; Willie Pretorius (2).
Hoërskool Randburg 29 – Drieë: Phillip Rykaart (2), Victor van Blerk, Vino Prince, Josh Wiggett. Doelskoppe: Wiggett (2). Dinamika 18 – TBC.
Ander spanne:
o.16: Eldoraigne 41, Jeugland 0; Bergsig Akademie 14, Potchefstroom Volkskool 13; Ermelo 34, Potchefstroom Gimnasium 21; Randburg 20, Dinamika 17.
o.15: Eldoraigne 33, Jeugland 21; Bergsig Akademie 19, Potchefstroom Volkskool 14; Ermelo 22, Potchefstroom Gimnasium 17; Dinamika 26, Randburg 15.
o.14: Jeugland 47, Eldoraigne 3; Potchefstroom Volkskool 13, Bergsig Akdemie 7; Ermelo 29, Potchefstroom Gimnasium 26; Randburg 16, Dinamika 16.
Click here for everything you need to know about the SDC Noordvaal Cup




