SuperSport Schools Plus

Dokkies maak amok met die bal, Middies staan sterk op tuisveld

By Franco Oberholzer , in Cricket | Featured Cricket | News , at 2025-01-21 Tags: , , , , ,

Cricket Ball on BatHoërskool Dr. Malan se boulers het skitterend saamgespan om die Hoër Tegniese Skool Middelburg stert tussen die bene huis toe te stuur.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.superpsportschools.com) 

Die Dokkies se boulaanval het inderdaad ligte werk van die Middelburgers se kolforde gemaak.

Met Heinrich Janse van Rensburg (3/7) aan die spits, en puik ondersteuning van Qihan Swanepoel (3/18) en Tristan Ashwin (2/7), moes die Middelburgers met slegs 74 lopies in hul kolfbeurt tevrede wees. Janse van Rensburg se boulskof van vier beurte het nie minder nie as 20 leë balle ingesluit, terwyl Swanepoel met 24 in sy vyf beurte gespog het.

Die tuisspan se voorslagkolwer, Luka Pretorius, het die jaagtog in ‘n japtrap, met ‘n onoorwonne 25 lopies, afgesluit. Die aanvangskolwers van die span van Meyerton het waarskynlik ‘n sege met 10 paaltjies in die visier gehad, maar entoesiastiese veldwerk het gelei daartoe dat Kegan Meyer uitgehardloop word. Sy vennoot Jacques Nel se welverdiende 19 lopies het egter gehelp om die teiken vinnig te haal.

Hoërskool Middelburg het in 2024 reeds aangedui dat hy nie sonder handskoene op sy tuisveld aangedurf moet word nie en dit het Hoërskool Ben Vorster van Tzaneen Saterdag terdeë agtergekom.

Die besoekende Vossies, het nietemin belowend begin om die Middies vir 169 uit te haal, danksy ‘n uitmuntende vertoning met die bal deur Santag Ramatsuma, wat die Middies se groot name geensins toegelaat het om stoom op te bou nie. Ramatsuma het vyf paaltjies in sy agt beurte laat spat en net 28 lopies afgestaan.

Aanvangskolwer, Lohan Botha (37), en die ervare Hendré Nel (35) het ‘n vlugtige blik van hul kolfvernuf gegee en deurslaggewende rolle in hul span se totaal gespeel.

Die hotklou, Wilhelm Brümmer (2/22), en Kulani Mnisi (2/35) het Ramatsuma netjies ondersteun met die bal en ook die pas vir die Vossies aangegee met die kolf. Mnisi was die besoekers se voorste lopiemaker met 42, terwyl Brummer ‘n waardevolle 26 bygedra het.

Gavin Genis (3/20) was egter weer op sy stukke en het drie paaltjies laat kantel. JP Nel (2/7) en Hendré Nel (2/17) het handjie bygesit om die besoekers vir slegs 108 uit te boender en hul veldtog oortuigend met ‘n 61-lopie sege af te skop.

Beknopte telkaarte: 

HTS Middelburg 74 (Ruben Jooste 16; Heinrich Jane van Rensburg 3/7, Qihan Swanepoel 3/18, Tristan Ashwin 2/7); Dr. Malan 75/2 (Luka Pretorius 25*; Anthoni Smuts 1/13). Dr. Malan wen met agt paaltjies.

Hoërskool Middelburg 169 (Lohan Botha 37, Hendre Nel 35, Zubair Desai 24, JP de Jager 20, Ekstras 20; Santag Ramatsuma 5/28, Wilhelm Brummer 2/22, Kulani Mnisi 2/35); Ben Vorster 108 (Kulani Mnisi 42, Wilhelm Brummer 26; Gavin Genis 3/20, JP Nel 2/7, Hendré Nel 2/17). Hoërskool Middelburg wen met 61 lopies.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.