SuperSport Schools Plus

Dit reën drieë op Dag 2 van Robday Bergsig-fees


FOTO: Marius Nortjé.

Dit het behoorlik drieë gereën Saterdag op die tweede en laaste dag van die jaarlikse Robday Bergsig-rugbyfees in Rustenburg.

Herleef al die aksie op Supersport Schools – (www.supersportschools.com) 

Dit het as geen verrassing gekom dat die twee Affie-spanne, die Rooiharte en Geel Kobra’s, wat reeds op die Dag 1 beïndruk het, ook die toon aangegee het op die laaste dag nie.

Die Geel Kobra’s, Afrikaanse Hoër Seunskool se vierde span, het vir Hoërskool Rustenburg se uitnodingspan, bestaande uit spelers van die tweedes en derdes, ‘n yslike rugby les geleer. Die Pretorianers het hul vernuftige spelpeil voortgesit om 15 keer agter die Rustenburgers se doellyn te gaan draai vir ‘n wegholsege van 96-0.

Heelagter, Reuben van Niekerk, het dié uitstappie terdeë geniet en die fees se tweede driekuns aan drieë behaal, terwyl Len Muller, Stephen Archibald, Bernu Kleynhans en Ryan Brett elk ‘n tweekuns aangeteken het.

Old School

Die Rooiharte het op hul beurt agt drieë ingeryg om vir Hoërskool Dinamika met 52-10 te laat les opsê. Met haker, Francois de Beer, aan die spits het die pak weer die grondslag gelê vir hul giftige agterlyn om na hartelus aan te val.

Jim Fouché het ook sy beste vir die laaste dag gelos. Die Bloemfonteiners het vir Hoërskool Hans Moore gewys waar Dawid die wortels gegrawe het om met 67-17 koning te kraai.

Die ervare Franco Oberholzer, wat vir ‘n tweede agtereenvolgende jaar in die span van Bloemfontein se lostrio diens doen, het uitgetroon voorlangs. Oberholzer, heelagter, Bendré Vermaak, en buitsenter, Adrian de Necker, ook ‘n begaafde krieketspeler, het elk die doellyn twee keer oorgesteek.

Barnabas Nyamagape, Hoërskool Frikkie Meyer se bedrieglike losskakel, het sy span tot ‘n indrukwekkende sege van 40-0 oor Hoërskool Overkruin aangevoor. Die Frikkies het duidelik heelwat selfvertroue geput uit hul naelskraapse nederlaag teen Hoërskool Witteberg, om een van hul beste vertonings tot dusver vanjaar op te dis.

Die einste Hoërskool Witteberg het, danksy ‘n puik vertoning deur sy staatmaker op binnesenter, Sedwin Gysman, vir Hoërskool Randburg met 40-20 verslaan om die fees onoorwonne af te sluit.

Puntemakers: 

Affies Rooiharte 52 – Drieë: Francois de Beer, Dehan Vlok, Juan Venter, Markus Geyser, Jean Ferreira, Khumo Manakana, Josh Robertson, Morné Curtayne. Doelskoppe: Loje Geyser (6). Dinamika 10 – Drieë: Jayden Smith, Shane Serfontein.

Affies Geel Kobras 96 – Drieë: Reuben van Niekerk (3), L Muller (2), Stephen Archibald (2), Bernu Kleynhans (2), Ryan Brett (2), Liam Wilkinson, Morné Curtayane, Kayden Terblanche, Righardt Dreyer. Doelskoppe: Fourie (8). Hoërskool Rustenburg Oranje 0. 

Jim Fouché 67 – Drieë: Franco Oberholzer (2), Bendré Vermaak (2), Adrian de Necker (2),  Juan Swart, Itumeleng Mokate, Franco Greyling, JG Noeth. Doelskoppe: Duart Bester (4). Hans Moore 17 – Drieë: Dian Briz (2), Hanriqué Cronje. Doelskop: Troy Strydom.

Frikkie Meyer 40 – Drieë: Barnabas Nyamagape (2), Prince Sekobane (2), Ockert Erasmus, Stefan Mulder. Doelskoppe: Nyamagape (4), MC Barnard. Overkruin 0. 

Witterberg 40 – Drieë: Tshepo Motloung, K Morati, Sedwin Geysman, Qlin Booyse, Buks Davel. Doelskoppe: Evan Niewoudt (3). Randburg 20 – Curwin Hill, Jayden Oosthuizen, Josh Wigget. Doelskop: Wigget. Strafdoel: Wigget.

Linden 36 – Drieë: Zacky Crow, Joshua Liebenberg, Schuylar van den Berg, William Joubert, Morné Steyn. Doelskoppe: Van den Berg (3). Bergsig Hawks 26 – Drieë: Tristan Walters, Connor van Dalen, Daniel Addinal, Arthur Barret. Doelskop: Renaldo Prinsloo.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.