SuperSport Schools Plus

Dit reën drieë in die Bosveld Interskole

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-05-18 Tags: , , , ,

Hoërskool Pietersburg vs Tom Naudé
FOTO: Pietie-Paparazzi/Hoërskool Pietersburg op Facebook.

Die groot skare wat na Hoërskool Pietersburg opgeruk het vir die jaarlikse Bosveld Interskole tussen die Pieties en Hoër Tegniese Skool Tom Naudé is met ‘n behoorlike drieëfees, aan albei kante, beloon.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

Die eerstespan-wedstryd het nie minder nie as 13 aanskoulike drieë opgelewer, met die tuisspan wat uiteindelik met 50-35 koning gekraai het. Dit was egter geensins ‘n maklike taak om die Tommies se begeesterde Tiere te tem nie. Hulle het selfs in ‘n stadium die Pietie-ondersteuners laat sweet toe hulle met 21-12 voorgeloop het.

Die span in wit, met die tuisskare agter hom, het egter na ‘n volgende rat oorgeskakel en sy punte in die tweede helfte meer as verdubbel, nadat hy voor rustyd reeds teruggeveg het om met die omdraaislag ‘n voorsprong van 24-21 te geniet.

Haker, Ziahn Lombard, is vir sy energieke, en fisieke vertoning met ‘n tweekuns aan drieë beloon, terwyl stut, Krissie Swanepoel, vir Lombard kragtig ondersteun het met sy oneindige barslopies.

Old School

Die Pieties se skakelpaar het, namate die stryd gevorder het, hul ritme gevind, met skrumskakel, Celliers van der Merwe, en loskakel, Juan Randall, wat spel netjies dikteer het.

Aan die kant van Tom Naudé was buitesenter, Fortune Sehlabane, verantwoordelik vir 15 van sy span se 35 punte met ‘n driekuns aan drieë, in straks sy grootste skolerugbywedstryd nóg. Dit is duidelik hoekom Sehlabane vir die Limpopo Blou Bulle by die Cravenweek in Middelburg sal verteenwoordig; sy aanvalsvernuf en dartellopies is van hoogstaande gehalte.

Binnesenter, Mahlatse Kekana, het ál vyf die besoekers se drieë verdoel vir ‘n persoonlike bydrae van 10 punte, en het beïndruk aan Sehlabane se binnekant met ‘n paar venynige lopies van sy eie.

Puntemakers: 

Hoërskool Pietersburg 50 (24) – Drieë: Ziahn Lombard (2), Krissie Swanepoel, Brent Vorster, FC Smit, Celliers van der Merwe, Juan Randall, Brydan Retief. Doelskoppe: Ryno Mienie (5). HTS Tom Naudé 35 (21) – Drieë: Fortune Selabane (3), Khatu Sikwheta, Mokibelo Matllhabaseletsi. Doelskoppe: Mahlatse Kekana (5).

Ander spanne: 

o.16: Pietersburg 54, Tom Naudé 5.

o.15: Pietersburg 31, Tom Naudé 3.

o.14: Pietersburg 12, Tom Naudé 3.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.