SuperSport Schools News

Dit is die rolspelers in vanjaar se Afdeling 2 van die Virsekerbeker

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2019-07-12

VirsekerBekerlogoMeeste van die rolspelers in Afdeling 2 van die Virsekerbeker is reeds bekend, dit is nou slegs die roete wat vir die spanne voorlê wat nog bepaal moet word. 

Albei die Goue Leeus se twee spanne in Saterdag se eindstryd om 13:50 tussen die Hoërskool Alberton en Randburg is reeds verseker van hulle plekke in die uitspeelrondes. Die kampioen van die Leeus sal in die uitspeelronde teen die Hoërskool Ermelo om ‘n plek in die kwarteindronde van die reeks uitspook. Die verloorder sal teen die naaswenner van die Pumas te staan kom. 

Randburg en Alberton het met 25-elk gelykop in die liga-wedstryd teen mekaar gespeel, so daar kan ‘n titaniese eindstryd tussen die twee spanne verwag word. 

Die Puma-eindstryd vind eers volgende Saterdag tussen Secunda en die Ligbron Akademie plaas. Interresant is dat Secunda en Alberton ook vroeër vanjaar in die NWU-Pukke se Sportreeks met 17-elk gelykop gespeel het. Dit is vanjaar die vyfde jaar op ‘n streep dat Secunda in die Puma-eindstryd in aksie sal wees. 

Die Valke se eindstryde vind Saterdag by Die Anker in Brakpan plaas. Die gasheer kom teen Vereeniging Gimnasium in die eindstryd te staan. Hans Moore van Benoni en Oosterlig van Boksburg sal sake om die derde verteenwoordiger van die Valke in die Virsekerbeker uitspook. 

Die Valke se kampioen sal in die uitspeelwedstryde teen die Luiperds se naaswenner te staan kom. Die naaswenner het net so moeilike taak in die uitspeelwedstryde teen die Blou Bulle se naaswenner. In die Luiperds se eindstryd pak die Hoërskool Klerksdorp en Wesvalia mekaar. Klerksdorp het die liga-wedstryd tussen die twee spanne vroeër vanjaar met 29-19 gewen. Wesvalia het wel op ‘n stadium in die wedstryd ‘n voorsprong van 19-3 geniet. 

Die Luiperds en Limpopo se kampioene sal waarskynlik die vroeë gunstelinge wees om die kroon as Virsekerkbeker-kampioen te dra. Die Limpopo-eindstryd vind volgende Saterdag in Mookgophong (voorheen Naboomspruit) plaas tussen die Hoërskool Pietersburg en Frikkie Meyer van Thabazimbi. 

Die Pieties het vanjaar nog net teen Frikkie Meyer (19-22) die knie gebuig. Die span van Thabazimbi is nog onoorwonne vanjaar. Die kampioen van Limpopo sal teen die Blou Bulle se derde kwalifiseerder in die uitspeelrondes te staan kom. Ellisras wat in die halfeindstryd teen Pietersburg met 22-46 die knie gebuig het sal Limpopo se derde verteenwoordiger in die reeks wees. 

Die Blou Bulle se halfeindstryd vind Saterdag tussen Overkruin en Pretoria-Noord plaas. Die verloorder van die stryd sal ‘n veel moeiliker pad na die kwarteindronde van die Virsekerbeker as die wenner hê. Midstream College is reeds van sy plek in die Blou Bulle se eindstryd verseker. 

[powr-comments id=”d3ad5f0c_1562954665707″]

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.