Dinamika glip verby Middies met een-paaltjie
 Hoërskool Dinamika het Saterdag sy derde agtereenvolgende sege in Afdeling C van die Finsbury-reeks ingepalm.
Hoërskool Dinamika het Saterdag sy derde agtereenvolgende sege in Afdeling C van die Finsbury-reeks ingepalm.
Die span van Alberton is na die eerste drie rondes die enigste onoorwonne span, nadat hulle met ‘n naelskraapse sege van een paaltjie teen Hoërskool Middelburg koning gekraai het.
Kaptein, Dean van Onselen, se terugkeer na die span blyk Dinamika se resep vir sukses te wees. Van Onselen was verlede jaar vir ‘n geruime tyd buite aksie met ‘n ernstige besering.
Hy is vanjaar sommer vroeg-vroeg reeds stewig op dreef. Die voorslagkolwer se vyftigtal Saterdag was sy derde agtereenvolgende een in soveel rondes.
Mark van den Berg het die voortou geneem met die bal. Die aanvangsbouler het, saam met sy vennoot Jayden Smith (2/9), amok gesaai onder die Middie-kolwers. Hulle is goed bygestaan deur Nathan Visagie (2/15) en Tyrone Whateley (2/16).
Gavin Genis (53) het die kollig in die Middies se kolforde gesteel. Sy vyftigtal, tesame met bydraes deur Lohan Botha (29) en Shuan Taljard (25), het die span van Mpumalanga uit die moeilikheid tot ‘n totaal van 156 gestuur.
Daarna was Middelburg se boulers aan die beurt. Eduan Strydom (3/37) het van voor gelei om sy span enduit in die wedloop te hou. Goeie ondersteuning deur Hendre Nel (2/32) en Gavin Genis (2/36) het Dinamika hard laat spook. Dit was egter nie genoeg nie en Dinamika kon die telling in die 43ste beurt verbysteek.
Hoër Volkskool Heidelberg het hulself goed van hulle taak gekwyt deur Hoërskool Merensky met 38 lopies te klop. Dave Pelzer was weer op sy stukke met die kolf en het gekapitaliseer op enige swak bal om ‘n onoorwonne 82 lopies tot sy span se totaal te voeg.
Die aanvangsvennootskap tussen Matthew Wentzel (63) en Marko Hartkoph (50) het vooraf die platform vir Pelzer gelê. Die twee het puik gekombineer vir ‘n gesamentlike 85 lopies voor Xander Schoeman (1/62) Hartkoph terug pawiljoen toe gestuur het.
Luka Heinlein was weer met mening op dreef vir die Plasies. Sy boulsyfers van drie paaltjies vir 42 lopies was die Tzaneeners se beste op die dag. Die draaier, Rinaldo Bornman (2/30), het hom goed bygestaan.
Die Plasies se talentvolle JP Botha het die besoekers so hittete tot ‘n onwaarskynlike oorwinning gelei. Botha se verwoestende beurt van 81 lopies, van slegs 69 aflewerings, is egter uiteindelik deur die akkurate boulwerk van Vaughn Steynvaart beëindig.
Kyle Crous (36, 50b) het ‘n waardevolle ondersteuningsrol gespeel, maar beduidende boulskofte deur Gerrit Henken (2/27) en Dave Pelzer (2/30) het verseker dat die Plasies slegs 228 bereik.
Uplands College se Kai Taylor het sy span tot ‘n gemaklike oorwinning van ses paaltjies oor HTS Middelburg gelei. Naylor het vyf Middelburg paaltjies laat kantel vir slegs 15 lopies. Leam van Zyl was ewe indrukwekkend met boulsyfers van vier paaltjies vir 22 lopies.
Net die Middelburgers se kaptein, Toy Engelbrecht, was opgewasse teen die Uplands-aanslag . Hy het meer as die helfte van sy span se totaal aangeteken met sy bydrae van 48 lopies.
Marley Waspe se beurt van 29 lopies was genoeg vir die span van Mpumalanga om HTS Middelburg se teleurstellende telling van 83 in slegs 22 beurte verby te steek.
Beknopte telkaarte:
Hoërskool Middelburg: 156 (Gavin Genis 53, Lohan Botha 29, Shaun Taljaard 25; Mark van der Berg 3/35, Jayden Smith 2/9, Nathan Visagie 2/15, Tyrone Whateley 2/16). Hoërskool Dinamika: 157/9 (Dean van Onselen 55; Eduan Strydom 3/37, Hendre Nel 2/32, Gavin Genis 2/36, Ivan Deale 2/38). Dinamika wen met een paaltjie.
Hoër Volkskool Heidelberg: 262/7 (Dave Pelzer 82*, Matthew Wentzel 63, Marko Hartkoph 50; Luka Heinlein 3/42, Rinaldo Bornman 2/30). Hoërskool Merensky: 228 (JP Botha 81, Kyle Crous 36, Logan Janse van Rensburg 24, Xander Schoeman 23; Gerrit Henken 2/27, Dave Pelzer 2/30). Volkskool Heidelberg wen met 38 lopies.
HTS Middelburg: 83 (Toy Engelbrecht 48; Kai Naylor 5/15, Leam van Zyl 4/22). Uplands College: 85/4 (Marley Waspe 29; Ethan Dreyer 2/17). Uplands College wen met ses paaltjies.
 
 
 
 




 
  
  
  
  
  
  
  
  
 