SuperSport Schools Plus

Die tyd het aangebreek om te sien wie is baas in die Paarl

By Willem Louw , in Rugby | News , at 2023-08-04

FOTO: Louis D van Niekerk

Een keer ‘n jaar kom die Paarl tot stilstand waneer die grootste interskole in die wêreld afsluit met die hoogtepunt van die week se aktiwiteite met die twee trotse skole se eerste rugbyspanne wat mekaar aanpak in die Faurestraat-stadion.

Dit is ‘n tradisie wat sedert 1915 gekweek word, toe die spanne mekaar vir die eerste keer ontmoet het.

Volg die aksie regstreeks op SuperSport SchoolsRegistreer nouSkakel vir die hoofwedstryd, Saterdag om 16:00.

Verlede jaar kon die Hoër Jongenskool Paarl met die terugkoms van hul afrigter, Sean Erasmus, na ‘n periode by die Goue Leeus, die dorp weer blou verf na ‘n  26-24 oorwinning in ‘n klassieke Paarl-derby.

Divan Fuller, Paarl Boys’ High se SA skole flank, het in sy graad 11 jaar in daardie wedstryd uitgeblink, en sal, nes menigde ander spelers op die veld Saterdag, die laaste wedstryd van sy skolerugby loopbaan wil afsluit op ‘n hoë noot. Daar kan natuurlik net een wenner wees, en albei spanne sal slaggereed wees vir hierdie, die grootste bepaling op hul kalendar.

Tussen 2015 en 2018 het Boishaai, onder die leiding van Erasmus, ook die oorhand oor hul buurskool gehad, maar in 2019 was dit ‘n Gimmie span met Stravino Jacobs wie nou vir die Blou Bulle speel en Curwin Gertse, wie by die Sharks aangesluit het, wat in ‘n riller met 18-17 kon wen.

Dit was nie die eerste keer dat ‘n enkele punt die twee na 70 minute skei nie. Hierdie is jaar na jaar een van die hardste bepalings van die seisoen, met ‘n gemiddelde punteverskil van slegs vyf punte oor meer as 100 wedstryde.

Paarl Gimnasium het ‘n beter rekord hierdie seisoen, en lyk soos die in-vorm span in die Suide van die land.

Hulle het nog slegs teen Grey-kollege van Bloemfontein verloor (33-12) vroeër in die seisoen. Die enigste ander wedstryd wat hulle nie gewen het nie was teen Outeniqua, toe hulle in moeilike omstandighede, in George, teen die span wat hul honderste bestaansjaar vier, met 10-elk moes sussies soen.

Boishaai het egter die meeste verteenwoordigers in die onoorwonne Westelike Provinsie span by die Craven Week gehad hierdie jaar, en spog met drie SA Skole spelers in hul midde.

JC Mars (heelagter), Jameel de Jongh (vleuel) en Fuller is die Boishaai spelers in die SA Skole groep, terwyl Paarl Gim se losskakel, Kyle Smith, ook gekies is vir die span.

Paarl Boys’ High het egter ‘n moeilike seisoen beleef, en het al vyf keer vasgeval hierdie jaar teen Durbanville (26-25), Oakdale (20-17), Grey-kollege (39-30), Paul Roos (35-17) en onlangs teen Boland Landbou (26-22).

Laas wat Boishaai teen Boland Landbou verloor het was in 2009, toe Springbok-stut, Frans Malherbe, kaptein was van die Hoër Jongenskool eerstespan. Daardie einste 2009 groep het egter toe vir Paarl Gim met 24-12 geklop om ‘n vyf jaar onoorwonne streek tot ‘n einde te bring.

Saterdag word alle wenpersentasies, geskiedenis en nasionale ere egter vergeet waneer die twee spanne uitdraf. Dan is dit net die dertig seuns op die veld en die hop van die bal wat kan bepaal wat die volgende hoofstuk van hierdie eeu oue instelling sal bevat.

Die Gimmies se heelagter, Tazreeq Moerat, is nog heel seisoen ‘n uitblinker vir sy skool, en sy vleuel, Freek de Kock, senter, Hennie Otto, en slot, Danio Botha, is van die ander spelers wat ‘n groot rol mag speel in die wedstryd.

Vir Boishaai was hul graad 11 flank, Rubin Dames, en sy groot buitesenter, Bryan Burger, verlede naweek die helde.

Die spanne is:

Hoër Jongenskool Paarl t. Paarl Gimnasium om 16:00:

Hoër Jongenskool Paarl: 15 JC Mars, 14 Scott Nel, 13 Bryan Burger, 12 Daniel van der Merwe, 11 Jameel de Jongh, 10 Ruan van Willing, 9 Juan Loots, 8 Divan Fuller, 7 Chris Nel, 6 Rubin Dames, 5 Van Heerden Pretorius, 4 Michael Versfeld, 3 Alfie Holm, 2 HB Odendaal, 1 Michael Pretorius.

Paarl Gimnasium: (Moontlik) 15 Tazreeq Moerat, 14 Freek de Kock, 13 Hennie Otto, 12 Kobus Blankenberg, 11 Pieter-Nel du Plessis, 10 Kyle Smith, 9 Dawid Kotze, 8 Nicus van Coller, 7 Louw du Toit, 6 Adrúan Kotze, 5 Marco Steyn, 4 Danio Botha, 3 Nicholas Crous, 2 Jannie Grobbelaar, 1 Xander Mynhardt.

Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.