SuperSport Schools Plus

Die span wat Mediumskole-kroon wil dra moet eers verby Vryburg kom

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2015-08-03 Tags:

Beeld Noordvaal Trofee Logo 250mmDie span wat as kampioen van die mediumskole in die Beeld Noordvaal Trofee gekroon wil word, sal eers verby die verdedigende kampioen, die Hoërskool Vryburg, moet kom.

Die verdedigende kampioen het sy uitspeelwedstryd Saterdag in Pretoria teen Die Wilgers gemaklik met 32-7 gewen. Stoffberg van Brakpan sal in die kwarteindronde op sy tuisveld probeer om vir Vryburg te stuit.

Vryburg se skitterende heelagter, Francois Pelser, was weer op sy stukke. Hy het twee bewegings vanuit die laaste vesting afgerond.

Brandwag van Benoni het net buite Magaliesburg vir Bekker met 26-17 verslaan. Die span se losskakel, Martin Steyn, het twee keer oor die doellyn geduik om sy getal drieë vir dié seisoen na 20 op te stoot.

Die sege is egter deur die lostrio Jamie Erasmus, Ruan Vermeulen en Mardo Botha bewerkstellig. Hulle inklimspel het aan Steyn die nodige ruimte verskaf.

Bekker se agtsteman en kaptein, Dirk Erlank, was op die dag sy span se beste speler. Brandwag sal Saterdag na Groblersdal moet reis waar die Limpopo kampioen, Ben Viljoen, op hom wag.

Piet Potgieter was op sy tuisveld in Potgietersrus met 48-29 oor Penryn College baas. Die span se vleuel Collin Steyn het met sy lopies langs die kantlyn af beindruk.

Die wenspan se heelagter, Marnus Uys, het ook ’n goeie wedstryd beleef. Hy het een van sy span se sewe drieë gedruk waarvan hy vyf verdoel het en ook ’n strafdoel sekuur tussen deur die pale gestuur het.

Die span van Potgieterus sal in die kwarteindronde teen die Leeus se kampioen, Trinityhouse, te staan kom.

Hoërskool Brits het tot die kwarteindronde deurgedring deur vir Oosterland van Secunda met 24-10 te verslaan. Petrus Ramolotsi het albei Oosterland se drieë gedruk. Die wenspan sal nou na Pretoria vir sy ontmoeting in die kwarteindstryd teen Midstream College reis.

Puntemakers: 

Brandwag (Benoni) 26 – Drieë: Martin Steyn (2), Mardo Botha, Corné van der Linde. Doelskoppe: Van der Linde (3). Bekker 17 – Drieë: 

Vryburg 32 – Drieë: Francois Pelser (2), Gert Jonker, Joe van Huysteen, Billy Venter. Doelskoppe: André Kock (2). Strafdoel: Kok. Die Wilgers 7 – Drie: Emmanuel Mapalakanye. Doelskop: Chad Sias.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.