Die Kloof kraai koning

PRETORIA -Die vreugdevure in die Kloof sou Saterdag hoog gebrand het nadat Hoërskool Waterkloof as die nuwe kampioen van die NWU Sportreeks gekroon is.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com).
Die Klofies het in ‘n taai en fisiese stryd met ‘n telling van 23-8 met Hoërskool Menlopark afgereken. Dit het ook beteken dat die Klofies die reeks as enigste onoorwonne span afsluit, met Menlopark die enigste ander span wat voor Saterdag ook nie verloor het nie.
Dit het aanvanklik ‘n taamlike gestoei vir heerskappy afgegee, met die twee spanne, wat later vanjaar weer in die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling kragte meet, wat mekaar soos gesoute boksers uitgevoel het. Teen rustyd kon elke span slegs een keer druk.
Die Parkies se haker, Declan Pelser, het sy span se enigste drie gedruk, maar nie soos normaalweg danksy ‘n dryfmaal nie. Hierdie slag het hy soos ‘n wafferse senter in die middelveld deurgebars om agter die Klofies se doellyn te gaan kuier.
Dennnis Obi, die Klofies se puntemasjien op linkervleuel, het oudergewoonte weer sy stempel afgedruk met sy span se eerste vyfpunter kort voor rustyd. ‘n Langafstand-strafdoel deur Parkies se regtervleuel, Ruben Herbst, het aan Menlopark ‘n rustydvoorsprong van 8-7 gebied.
Die Klofies het na die omdraaislag egter beheer oorgeneem.
Agtsteman, Marko Kok, was haas onkeerbaar op die aanval en het die Menlopark-verdedigers al hul dae gegee, terwyl losskakel, Franco Cronje, die Parkies se ongedissiplineerde spel gestraf het met drie strafdoele. Cronje het ook albei drieë verdoel om meer as die helfte van sy span se punte aan te teken.
Die indrukwekkende, Happy Makate, het kort voor die eindfluitjie oorgewals vir die finale spyker in Parkies se kis.
Hoërskool Dr. EG Jansen het hul terugkeer tot die wenpad gevier met ‘n spogsege van 36-3 oor Hoërskool Oos-Moot. Die Boksburgers se linkervleuel, Keanu van Loggerenberg, het sy uitstappie geniet en twee keer die bal agter die Oosies se doellyn geplant. Voorlangs, het oopkantflank, Zade-Leigh Rippenaar, en agtsteman, Storm Labuschagne, oudergewoonte die pap dik aangemaak.
Die Oosies verdien egter ‘n pluimpie, vernaam vir die fisiekheid wat die span van die Moot tafel toe gebring het. Hulle kon egter nie afrond nie, en die Jansies se kliniese vermoë om ongedwonge foute uit te buit was net een te veel vir die Oosies.
Puntemakers:
Waterkloof 23 (7) – Drieë: Dennis Obi, Happy Makate. Conversion: Franco Cronje. Strafdoele: Cronje (3). Menlopark 8 (8) – Drie: Declan Pelser. Strafdoel: Reinardt Herbst.
EG Jansen 36 (19) – Drieë: Keanu van Loggerensburg (2), Zade-Leigh Rippenaar, Storm Labuschagne, TK Ngobase, Matthew Bergman. Conversions: Bergman (3). Oos-Moot 3 (3) – Strafdoel: Ruwan Allen.
Ander uitslae:
o.16: Menlopark 17, Kempton Park 16 (eindstryd); EG Jansen 24, Nelspruit 17; Middelburg 16, Transvalia 9; Waterkloof 39, Oos-Moot 25; Eldoraigne 19, HTS Middelburg 15.
o.15: Middelburg 20, EG Jansen 12 (eindstryd); Menlopark 28, Waterkloof 21; Oos-Moot 29, Transvalia 17; Nelspruit 28, Kempton Park 14; Eldoraigne 18, HTS Middelburg 17.
o.14: Kempton Park 17, Middelburg 15 (eindstryd); Transvalia 11, Nelspruit 8; Oos-Moot 16, EG Jansen 10; Waterkloof 17, Menlopark 5; Eldoraigne 10, HTS Middelburg 3.




