Die Griffon-titel is terug in Welkom, maar die Gimmies moes sweet

Voortrekker van Bethlehem het Welkom Gimnasium Saterdag behoorlik laat sweet in die Griffon-liga eindstryd in die Noordwes-stadion in Welkom.
Gimmies het egter karakter gewys om uit te hou en met ‘n sege van 29-26 seker te maak dat die trofee weer staanplek in Welkom kry. Hoërskool Trio van Kroonstad het verlede jaar die kroon gedra toe hy in sy eerste seisoen vir Voortrekker in die eindstryd met 26-22 verslaan het.
Kyk die wedstryd weer op SuperSport Schools – Registreer nou
Dit was niemand anders as Welkom Gimnasium se goue seun, die losskakel, Ronaldo Kiewiet, wie weer in hierdie wedstryd die pas gestel het nie.
Kiewiet kon nog twee drieë druk, om hom moontlik die voorste driedrukker in die land hierdie seisoen te maak. Die dinamiese spelbreker van Welkom het ook met drie doelskoppe en ‘n strafdoel geslaag, om op die ou end die verskil vir sy span te maak.
Die Trekkers het in die eerste helfte gesukkel om die onophoudelike Welkom Gimnasium aanval in te perk, maar kon na die breuk hul staal wys om van 19-0 af terug te kom om met slegs drie punte te verloor.
Kaneng Komane, die span van Bethlehem se heelagter, het uitgeblink vir sy span en kon self weer agter die doellyn gaan kuier.
Kamohelo Moses, wie nog heel jaar vir die Trekkers in die agterste driehoek uitblink, het na halftyd sy plek op die vleuel ingeneem van die reserwebank af en ‘n onmiddelike impak gehad met sy span se eerste drie.
Welkom Gimnasium het vroeër in die seisoen relatief gemaklik met 43-8 met Voortrekker gereken, maar die manne van Bethlehem het hul spel gelig in die eindstryd om die Gimmies vir ‘n oomblik te laat skrik, voor Kiewiet die strafdoel kon oorskop om vir sy span ‘n veilige buffer te gee.
Die Trekkers het in die laaste vier minute van spel ook ‘n kans gehad om ‘n strafskop te verdoel, wat hulle weer binne trefafstand van die Gimmies sou sit, maar die oomblik was net te groot, en ten spyte van ‘n laaste drie deur hul binnesenter, Craig Mann, in die laaste oomblikke, kon hulle nie die gaping wat Welkom in die eerste 35 minute gemaak het inhaal nie.
Benewens Kiewiet, het Gimmies se agsteman, Ethan Jones, ook weer baie goed gelyk, en kon ‘n pragdrie afrond nadat sy slot, Tristan Appollis, vir die soveelste keer die seisoen sy besonderse balvaardighede ten toon gestel het en sy aangee so à la Lukhanyo Am in kontak kon uitkry.
Welkom Gimnasium kwalifiseer dan ook vir die Kovsiestreekkompetisie se Shimla-liga. Die span van Welkom sal teen die Vrystaatse kampioen, Jim Fouché, in die halfeindstryd van dié liga te staan kom. Die kragmeting sal eerskomende Saterdag in die Noordwes-stadion beslis word.
Puntemakers:
Welkom Gimnasium 29 (19) – Drieë: Ronaldo Kiewiet (2), Ethan Jones, Raylin Kirsten. Doelskoppe: Kiewiet (3). Strafdoel: Kiewiet. Voortrekker 26 (0) – Drieë: Kamohelo Moses, Dawie Fourie, Kaneng Komane, Craig Mann. Doelskoppe: Johan Whitehead (3).
Ander uitslae:
o.19B – Welkom Gimnasium II 30, Hentie Cilliers 17.
o.16 – Welkom Gimnasium 28, Hentie Cilliers 8.
o.15 – Voortrekker 35, Witteberg 17.
o.14 – Hoërskool Trio 21, Voortrekker 13.




