SuperSport Schools Plus

Die Bowl bly in Potch, maar kan Volkies vir Gimmies onttroon?

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-08-24 Tags: , , , , , ,

FOTO: Potchefstroom Volkskool op Facebook.

Die SDC Noordvaal Cup se Bowl-trofee sal weer vanjaar in Potchefstroom staanplek kry. Die groot vraag is net, waar? Weer by Potchefstroom Gimnasium, óf by Potchefstroom Volkskool?

Herleef al die SDC Noordvaal Bowl-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

Gimmies het die kanse om hul titel suksesvol te verdedig lewendig gehou deur vir Hoërskool Jeugland met 22-18, op die Piet Malan-veld, te verslaan.

Die besoekers van Kempton Park het dit egter geensins maklik gemaak vir die verdedigende kampioen nie.

Jeugland se agterste driehoek, met heelagter, King Agbanzo, aan die spits, het die Gimmies se verdediging by meer as een geleentheid oorhoeks gehad. Agbanzo en sy twee vleuels, Jan Romano en Thando Ngomane, het elkeen gaan druk om die druk vierkantig op die Gimmies te plaas.

Heelagter, Josh Pretorius, het egter tot die tuisspan se redding gekom. In straks sy beste vertoning van die jaar, het Pretorius twee keer deurgewals om die Gimmies terug in die wedstryd te kry, nadat hulle met 8-13 agtergeloop het teen rustyd.

Losskakel-generaal, Zandré Da Silva, het nie alleen ook agter die besoekers se doellyn gaan draai nie, maar albei Pretorius se drieë verdoel en met ‘n kritieke strafdoel geslaag om sy span oor die wenstreep te help kry.

Potchefstroom Volkskool was self in ‘n hewige stryd met Bergsig Akademie gewikkel. Die ervaring van staatmakers, Lourenzo Louw en Lethabo Riet, het ‘n sleutelrol gespeel in Volkies se sege van 26-24. Die duo was nie slegs dodelik op die aanval nie, maar hul verdediging het grootliks gehelp om die Eagles van ‘n plek, vir die eerste keer ooit, in die Bowl-eindstryd te weerhou.

Skrumskakel, Juhan Geldenhuys het ook sy deel bygedra vanaf die skopkegel. Die drie strafdoele en een doelskop waarmee hy geslaag het was ongetwyfeld ‘n bepalende faktor, terwyl plaasvervangers, Joshua van der Westhuizen en Nolan Roets, die nodige woema vanaf die bank gebied het vir die naelskraapse sege.

Hoewel aan die verloorkant, het die span Rustenburg gewys dat hy in dié afdeling hoort. Met drie spanne wat in die halfeindronde uitgedraf het, lyk die toekoms by die Eagles rooskleurig onder die vlerk van Martin Pelser en voorspelerafrigter, Kosie Jansen van Vuuren.

Puntemakers: 

Potchefstroom Gimnasium 22 (8) – Drieë: Josh Pretorius (2), Zandré Da Silva. Doelskoppe: Da Silva (2). Strafdoel: Da Silva. Jeugland 18 (13) – Drieë: Jan Ramano, Thando Ngomane, King Agbanzo. Strafdoel: Agbanzo.

Potchefstroom Volkskool 26 (16) – Drieë: Lethabo Riet, Juan Fourie, Louis Fourie. Doelskop: Juhan Geldenhuys. Strafdoele: Geldenhuys (3). Bergsig Akademie 24 (14). 

Ander spanne: 

o.16: Merensky 38, Bergsig Akademie 24; Eldoraigne 31, Dinamika 16.

o.15: Eldoraigne 31, Bergsig Akademie 15; Ermelo 22, Dinamika 17.

o.14: Potchefstroom Gimnasium 27, Dinamika 11; Jeugland 17, Ermelo 7.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.