SuperSport Schools Plus

Die Blou Leeus asook die Leeu van die Noorde brul hard in NWU 16-reeks


Die kompetisie in die NWU 16-reeks het die afgelope paar jaar al hoe strawwer geword.

Na die eerste twee rondes ligawedstryde is dit reeds bekend dat daar vanjaar ‘n nuwe kampioen op eerstespanvlak gekroon sal word.

Die verdedigende kampioen, Hoërskool Riebeeckrand, is in albei sy kragmeting tot dusver teen Hans Strijdom (12-35) en die Hoërskool Alberton (14-17) uitoorlê.

Die groepwedstryd tussen Alberton en Hans Strijdom van Mookgophong eerkomende Saterdag sal bepaal wie van Groep C tot die halfeindronde sal deurdring. Dié kragmeting sal dus vir alle akademiese doeleindes as ‘n kwarteindstryd dien.

Die Allies het vir Riebies met 17-14 in ‘n klipharde tweestryd verslaan. Die verdedigende kampioen het met die omdraaislag ‘n skrale voorsprong van 7-5 geniet.

Riebies se twee flanke, Marko Grobler en Kobus Malan, het die veld vol gespeel, terwyl die skrumskakel, Aiden Botes, agterlangs ‘n doring in Alberton se vlees was.

Hans Strijdom het Saterdag vir Leeuwenhof Akademie op laasgenoemde se tuisveld met 38-0 gekarnuffel. Die besoekers het teen rustyd ‘n voorsprong van 19-0 opgebou met sy regtervleuel, Louis Joubert, wat twee keer in die helfte ‘n draai agter die doellyn gemaak het.

In die tweede helfte was dit die agtsteman, Kian du Plessis, se beurt om twee keer te gaan druk. Die wenspan se flank en kaptein, Janneman Benson, was op die dag sy span se beste speler, terwyl Du Plessis en Tebogo Mopologela (heelagter) ook uitmuntend vertoon het.

Die wenner van die kragmeting tussen Alberton en Hans Strijdom sal teen Ben Viljoen van Greoblersdal in die reeks se halfeindronde te staan kom. Die span van Groblersdal het nog een ligawedstryd teen Pretoria-Noord oor, maar is die gunsteling om die kragmeting volgende week in die Jakarandastad te wen.

Ben Viljoen was met 19-12 in ‘n strawwe tweestryd soos gewoonlik teen die Hoërskool Ellisras baas. Teen rustyd met die telling op 6-elk was daar niks tussen die twee spanne te kies nie.

Die wenspan se binnesenter, Chris Jordaan, het 14 van sy span se punte met sy skopskoen aangeteken. Hy het vier strafdoele deur die pale geklits asook sy span se enigste drie deur die flank Jac-Johan Gouws verdoel. In totaal het die skeidsregter 40 strafskoppe tydens die kragmeting toegestaan.

Dit is dan ook geen verrassing dat al 12 Ellisras se punte deur sy losskakel, Anzio Swartbooi, met strafdoele aangeteken is nie. Die twee spanne het mekaar verlede jaar laas in die Limpopo-einstryd gepak met Ellisras wat toe met 27-19 baas was.

In Groep B blyk dit dat Sarel Cilliers van Glenco tot die halfeindronde sal deurdring. Die Blou Leeus van Sarel Cilliers was op hul stukke teen Volskrust met ‘n oortuigende oorwinning van 90-19. Soos wat die telling aandui het die verloorspan egter nooit handdoek ingegooi nie.

Sarel Cilliers se buitesenter en onderkaptein, Nzuzo Lembethe, was witwarm in die middelveld en het vier van sy span se 14 drieë afgerond. Sy sentermaat, Adriaan de Beer, het saam met hom amok gemaak.

Die skrumskakel, Thando Mnisi, het tien van dié drieë vir ‘n persoonlike bydrae van 20 punte verdoel. Mnisi was boonop op die dag sy span se beste agterspeler, terwyl die slot en kaptein, Simphiwe Zuma, voorlangs die pap dik aangemaak het.

Sothando Sangweni, Sipho Dube en Browin Martins het moedig vir die verloorspan probeer.

Pionier vanaf Vryheid het Ferrum van Newcastle se kanse om tot die halfeinronde deur te dring met ‘n sege van 23-18 beëindig. Dit was die wenspan se losskakel, Gerber Diedericks, was die meeste skade aangerig het. Hy het self een van sy span se twee drieë gedruk, albei verdoel en ook drie strafdoele tussen deur die pale gejaag.

Sy skakelmaat, Jaco Smith, kan ook tevrede met sy diens aan Diedericks voel. Voorlangs het Stephan Nel (loskopstut), Franco Jonker (slot) en Jacques Richter (flank) ook stewige vertonings opgedis. Vir Ferrum was sy flank Zander Struwig uitstaande. Hy het ook twee van sy span se drieë gaan druk.

In Groep D blyk dit dat die Hoërskool Vryburg weer bo-aan die puntelys sal eindig. Hy was met 10-8 baas in ‘n naelbytstryd Vrydag teen Wolmaransstad. Die wenspan het teen rustyd ‘n skrale voorsprong van 5-0 geniet.

Wollies se flank Attie Becker het egter met speeltyd reeds verstreke die tuisskare hoop gegee. Indien Becker se drie verdoel was sou die gelykopuitslag beteken het dat Wollies nog tot die halfeindronde kon deurdring.

Die Hoërskool Schoonspruit se binnesenter, Bevan Morkel, het met sy skopskoen vir Fochville ‘n paar benoude oomblikke in die eerste helfte van hul kragmeting laat beleef. Fochville wat die kragmeting met 20-6 as oorwinnaars van die veld gestap het, het teen lemoentyd ‘n voorsprong van 19-6 geniet.

Morkel het twee strafdoele waarvan een verder as 50 meter in die eerste oorgeklits om sy span in die wedstryd te hou. Sy kaptein en agtsteman, Dylan Prinsloo, was ook weer uitstaande.

Vir Fochville het Ryan O’Reilly dubbelle driedruk-plesier ervaar.

Puntemakers:

Fochville 20 (10) – Drieë: Ryan O’Reily (2), Simphiwe Ntuli, Athi Nqwele. Schoonspruit 6 (6) – Strafdoel: Bevan Morkel (2).

Vryburg 10 (5) – Drieë: Olerato Bonokwane, Marco Halgryn. Wolmaransstad 8 (0) – Drie: Attie Becker. Skepdoel: Lucraine Wyngaardt.

Hoërskool Alberton 17 (5) – Drieë: Joshua van Rensburg, Luke Joubert, Jayden Mostert. Doelskop: Jayden Mostert. Riebeeckrand 14 (7) – Drieë: Aiden Botes, Kobus Malan. Doelskoppe: Onthatile Moruledi (2).

Sarel Cilliers 90 (41) – Drieë: Nzuzo Lembethe (4), Fisokuhle Ndaba (2), Simphiwe Zuma (2), Manqoba Mkhize, Samkelo Ntombela, Adriaan de Beer, Katlego Makoni, Kgomotso Mtshali, Awonke Dlamini. Doelskoppe: Thando Mnizi (10). Volksrust 19 (7) – Drieë: Sipho Dube, Nqobani Mayisela, As’iphile Nkosi. Doelskoppe: Bronwin Martins (2).

Pionier 23 (11) – Drieë: Gerber Diedericks, Dylan Smit. Doelskoppe: Diedericks (2). Strafdoele: Diedericks (3).  Ferrum 18 (3) – Drieë: Zander Struwig (2), Phillip van Tonder. Strafdoel: Thando Masondo.

Hans Strijdom 38 (19) – Drieë: Louis Joubert (2), Kian du Plessis (2), Tebogo Mopologela, Nathan Pool. Doelskoppe: Henriko van der Colff (4). Leeuwenhof 0.

Ben Viljoen 19 (6) – Drie: Jac-Johan Gouws. Doelskop: Chris Jordaan. Strafdoele: Jordaan (4). Ellisras 12 (6) – Strafdoele: Anzio Swartbooi (4).

Ander spanne: 

o.16: Fochville 44, Schoonspruit 3; Riebeeckrand 28, Alberton 18; Leeuwenhof 12, Hans Strijdom 5; Ellisras 30, Ben Viljoen 28; Ferrum 14, Pionier 5.

o.15: Schoonspruit 12, Fochville 10; Riebeeckrand 55, Alberton 3; Leeuwenhof 75, Hans Strijdom 0; Ben Viljoen 21, Ellisras 8; Pionier 24, Ferrum 23.

o.14: Fochville 43, Schoonspruit 0; Riebeeckrand 38, Alberton 3; Leeuwenhof 17, Hans Strijdom 0; Ellisras 19, Ben Viljoen 10; Pionier 12, Ferrum 3.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.