Die Anker voor groot Marais Viljoen-toets
Hoërskool Die Anker sal Saterdag behoorlik getoets word wanneer hulle teen ‘n sterk Hoërskool Marais Viljoen in die NWU Prestige-reeks te staan sal kom.
Die span van Brakpan het reeds ‘n wedstryd agter die rug, maar moes ongelukkig met 7-30 teen die Rooibulle van HTS Middelburg die knie buig.
Die kranige agtsteman, Ruben Herbst, wat reeds ‘n jaar se ondervinding op eerstespanvlak het, sal die span aanvoer. Hy sal ook, soos oudergewoonte, voorlangs die vuur in die pak wil aansteek.
Agterlangs behoort die skrumskakel, Danie Smit, die Marais Viljoen-verdedigers op hulle tone te hou. Smit sal ook wil verseker dat sy balverspreiding uit die boonste rakke is.
Die rede hiervoor is dat die gevaarlike Branden Crous op binnesenter soveel as moontlik geleentheid gebied moet word om die voordeellyn aan te val.
Vir die span van Alberton, sal hul losskakel, Rekkie Gerber, die leiding neem. Gerber se visie en vermoë om spasie vir die gevaarmanne, Claudo de Couto en Brandon Els, aan sy buitekant te skep, kan kopsere vir die span van Brakpan besorg.
Tyron Bouw sal ook daarna uitsien om giftige teenaanvalle vanaf heelagter te loods.
Voorlangs beskik Marais Viljoen oor ‘n groot dog beweeglike pak. Die steelkantflank, Dian Scheepers, behoort in die vaste los te woel. Scheepers se rotsvaste verdediging is ook van kardinale belang vir sy span. Die voorry, bestaande uit Clayton Gagiano, Tiaan Bruyns en Sifiso Shongwe, sal die platform met goeie vaste fassete wil lê.
Hoërskool Zwartkop verwelkom Saterdag vir Hoërskool Ellisras van Limpopo op tuisbodem. Die Pretorianers sal die Rassies voorlangs wil sag maak, en in dié opsig het die Zwarries se slotpaar, Logan Knott en Abri Visser, ‘n bepaalde fisieke rol om te speel. Brian Smith, wat sy posisie op agtsteman inneem, sal ook moeilik gestuit word wanneer hy met sy kenmerkende stormlope vorendag kom.
Losskakel Luhardt Booyens sal die rol van generaal agterlangs vervul, met Denilson Metcalfe, die Zwarries se puntemasjien van 2023, wat oudergewoondte op regtervleuel diens doen.
Die Rassies se pak is egter nie te versmaai nie. Deon Otto, die span van Limpopo se haker, behoort uitgehonger te wees vir die fisieke stryd wat wag. Saam met Otto sal sy steelkantflank, Derick Besseling, ook die vuur onder die Rassie-voorspelers wil aansteek. Besseling is ‘n tier op die los bal en sal die lewe by die afbreekpunte bemoeilik vir die Zwarries.
In die agterlyn sal Anzio Swartbooi, wat op losskakel diens doen, goed dopgehou moet word. Swartbooi beskik nie net oor die instinktiewe vermoë om spasie te skep nie, maar ook oor ‘n giftige systappie wat die Zwarrie-verdedigers vir die volle 70 minute kan besig hou. Aan sy buitekant, wag FJ Drotskie op die Pretorianers se middeveld.
Hoërskool Pietersburg verwelkom Hoërskool Montana in Limpopo se hoofstad. Die Pieties het ‘n gros spelers van 2023 behou, met die skakelpaar, Divan Brown en Vincent Luckhoff, wat albei verlede jaar op provinsiale vlak diens gedoen het, terwyl die Cravenweek-buitesenter, Hanno Coetzee, ook weer ‘n gevaar in die middeveld bied.
Hardus Otto, die Pieties se agtsteman, behoort ‘n doring in die vlees van die Monties te wees. Dewald de Beer, wat op haker diens doen, sal Otto die nodige ondersteuning bied wanneer dit by die span se vaste fasette kom.
Vir Montana sal Ruwald Goosen ‘n kernrol op losskakel hê om te vertolk. Goosen se verdeging sal verál van belang wees, asook sy vermoë om spasie te skep. Braam Schutte, op skrumskakel, sal daarop uit wees om skoon en vinnige bal aan Goosen te verskaf.
Luhan Theunissen sal voorlangs die pap dik aanmaak. Die vurige haker sal staatmaak op sy twee kollegas in die voorry, Marinus Oberholzer en Ruan Louw, om die Pieties se vaste fassete onder druk te plaas, vernaam wanneer dit by die skrums kom.
Die spanne:
Die Anker t. Marais Viljoen om 12:30 in Brakpan:
Hoërskool Die Anker: 15 Paul Schutte, 14 Jayden Steenkamp, 13 Ruan Smith, 12 Branden Crous, 11 Sean Schoeman, 10 Callum Nel, Danie Smit, 8 Ruben Herbst, 7 Tian Mills, 6 Duvan Booyens, 5 Xander Fraser, 4 Gerhard Oosthuizen, 3 Shandrey Barnard, 2 Rico Goosen, 1 Zander Nell.
Hoërskool Marais Viljoen: 15 Tyron Bouw, 14 Jonathan Morkel, 13 Brandon Els, 12 Claudo do Couto, 11 Ethan Welderman, 10 Rekkie Gerber, 9 Weon van der Vyver, 8 Rio Tshimbalanga, 7 Dian Scheepers, 6 Loyd Shoko-Schenk, 5 Rynier Welgemoed, 4 Bjorn Pieterse, 3 Sifiso Shongwe, 2 Tiaan Bruyns, 1 Clayton Gagiano.
Zwartkop t. Ellisras om 12:30 in Pretoria:
Hoërskool Zwartkop: 15 Justin Julies, 14 Denilson Metcalfe, 13 Milton Naude, 12 Neil Gouws, 11 Zulu Mona, 10 Luhardt Booyens, 9 Layton Wilson, 8 Brian Smith, 7 Reuben Barnard, 6 Adriaan Janse van Vuuren, 5 Logan Knott, 4 Abri Visser, 3 Brogan Ackerman, 2 Jaden-Lee Cronwright, 1 Julian Lubbe.
Hoërskool Ellisras: 15 Mashaba Phooko, 14 Rabadiba Lebo, 13 FJ Drotskie, 12 Reon Naude, 11 Ashley Monyelo, 10 Anzio Swartbooi, 9 Ethan Miller, 8 Funi Simba, 7 Derick Besseling, 6 Hanno Kay, 5 Daniel Leahy, 4 Rigby Hobarath, 3 Boela van Heerden, 2 Dean Otto, 1 Wessel Strooh.
Pietersburg t. Montana om 12:30 in Pietersburg:
Hoërskool Pietersburg: 15 Brydan Retief, 14 Lerisch Duba, 13 Hanno van Zyl, 12 Nick Jones, 11 AJ Loots, 10 Vincent Luckhoff, 9 Divan Brown, 8 Hardus Otto, 7 FC Smith, 6 Keegan Baker, 5 Juan Jansen van Vuuren, 4 Ettienne van Jaarsveldt, 3 Elardus Erasmus, 2 Dewald de Beer, 1 Floris Venter.
Hoërskool Montana: 15 Marq de Villiers, 14 Tyron van Rooyen, 13 Hendrew Schoeman, 12 JF Venter, 11 Sam Schoeman, 10 Ruwald Goosen, 9 Braam Schutte, 8 Richard Botha, 7 Reinardt van den Berg, 6 Stehan van Niekerk, 5 Justin Herbst, 4 Martin Venter, 3 Ruan Louw, 2 Luhan Theunissen, 1 Marinus Oberholzer.




