SuperSport Schools Plus

Die Anker herwin ritme, Potch Gimmies roer Monties

By Franco Oberholzer , in Rugby | News , at 2024-04-22 Tags: , , , , , , ,

‘n Kapteinsbeurt deur Die Anker se kaptein, Ruben Herbst, het gehelp dat die span van Brakpan stadig maar seker momentum begin opbou vir die res van die seisoen.

Herbst, wat reeds vir die tweede jaar op agsteman vir die span van Brakpan diens doen en ook die span vanjaar aanvoer, het sy stempel met sy kragtige lopies op die aanval afgedruk.

Hy het gewoeker in sy span se sege van 32-10 oor Hoërskool Zwartkop, in die voorlaaste ronde van die NWU Prestige-reeks.

Herbst en slot, Gerhard Oosthuizen, het elk ‘n tweekuns behaal, terwyl haker, Siya Shongwe, die heerskappy voorlangs voortgesit en verseker het dat al vyf Die Anker se drieë, met ‘n vyfpunter van sy eie, deur die groot manne voor gedruk is.

Potchefstroom Gimnasium se linkervleuel, Toks Becker, het, met die hope spasie wat vir hom aan die buitekant geskep is, ook met ‘n tweekuns uitgeblink in sy span se spogsege van 39-22 oor Hoërskool Montana.

Dit was egter ‘n goed afgeronde spanpoging deur die Gimmies, wat na ‘n  splinternuwe span gelyk het namate hulle verdere sout in die Monties se wonde gevryf het met nóg vyf drieë.

Deacon Loots, Hoërskool Klerksdorp se losskakel, het persoonlik 20 van sy span se punte, wat twee drieë ingesluit het, aangeteken in dié se wegholoorwinning van 52-13 oor Hoërskool Oosterlig. Regtervleuel, Yuran Malete, was ewe indrukwekkend het, nes Loots, ‘n tweekuns behaal.

Heidelberg Volkskool se Kayle Venter het oudergewoonte ‘n sleutelrol gespeel om ‘n naelskraapse oorwinning van 19-15 oor Potchefstroom Volkskool te verseker. Venter het ‘n drie en twee doelskoppe bygedra, wat op die ou end die verskil tussen die twee spanne beteken het.

Puntemakers: 

Die Anker 32 (17) – Drieë: Ruben Herbst (2), Gerhard Oosthuizen (2), Siya Shongwe. Doelskoppe: Ruan Smith (2). Strafdoel: Smith. Zwartkop 10 (10).

Potchefstroom Gimnasium 39 (10) – Drieë: Toks Becker (2), Dian Smith, Jhanco de Beer, David Ndlala, Lourens Jacobs, PC Schutte. Doelskoppe: Jean Groenwald (2). Montana 22 (3) – Drieë: Daelin Ludick, Martin Venter, JF Venter. Doelskoppe: Ruwald Goosen (2). Strafdoel: Goosen.

Klerksdorp 52 (21) – Drieë: Deacon Loots (2), Yuran Malete (2), Tiaan Swanepoel, Leonard van Rhyn, Strafdrie. Doelskoppe: Deacon Loots (5). Oosterlig 13 (13) – Drie: Joel Jordaan. Doelskop Jaydon Bouwer. Strafdoel: Bouwer.

Heidelberg Volkskool 19 (7) – Drieë: Kayle Venter, Stefan Botha, Christopher Makgongoane. Doelskoppe: Kayle Venter (2). Potchefstroom Volkskool 15 (10) – Drieë: Juhan Geldenhuys, Wikus van Aswegen, Lorenzo Louw.

 

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.