SuperSport Schools Plus

Diamonds, Wit Bulle slaags in Kimberley

By Willem Louw , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2024-03-07 Tags: ,

FOTO: Asjas Fotos

Na ‘n indrukwekkende vertoning in hul eerste wedstryd van die seisoen, is Hoërskool Diamantveld oorgehaal vir hierdie naweek se reuse uitdaging waneer die Afrikaanse Hoër Seunskool besoek in die Diamantstad aflê.

Beleef die wedstryd regstreeks op SuperSport Schools – Registreer nou – Skakel na die wedstryd

Affies wil die geleentheid in Kimberley aanwend om hul seisoen van stapel te stuur en hul staal te toets voor die jaarlikse Noord/Suid-toernooi, wat hulle teen die einde van Maart weer in Pretoria aanbied.

Vanjaar gaan Affies kragte meet met Hoërskool Stellenberg en Paul Roos Gimnasium, maar hul fokus is vir eers op die Diamantvelders wat eerskomende Saterdag in Kimberley op hulle wag.

Die Wit Bulle het verlede jaar vir die Diamonds met mening getref om 27 punte sonder antwoord aan te teken. Vir Diamantveld bied 2024 egter ‘n splinternuwe blad, met ‘n aantal van hul spelers wat in verlede jaar se nederlaag betrokke was en hul lippe sal aflek vir ‘n geleentheid om die bordjies te verhang.

Kyle Taute het in hul vorige ontmoeting op senter begin, maar moes die veld met ‘n besering verlaat. Saterdag is Taute op heelagter in aksie, waar hy verlede naweek ‘n veilige laaste vesting was in die sege van 18-6 oor Voortrekker Hoërskool waarmee Diamonds hul seisoen kon afskop.

Marno Greeff (losskakel) en Simon Liversage (senter) was ook lede van verlede jaar se span  en het die afgelope naweek uitgeblink teen die Trekkers.

Affies se Cravenweek-senter, Janco Purchase, en sy Wit Bul-makkers bied egter ‘n totaal ander uitdaging .

Die losskakel, Ruben Pienaar, was verlede jaar ook ‘n doring in Diamantveld se vlees, derhalwe rus daar ‘n enorme verantwoordelikheid op die skouers van die tuisspan se lostrio, bestaande uit Enrique Boshoff, Jayden de Klerk en Stiaan van Loggerenberg, om te probeer verhoed dat Pienaar en kie die krane oopdraai.

Die spanne:

Diamantveld t. Affies om 16:10:

Hoërskool Diamantveld: 15 Kyle Taute, 14 Carel Viljoen, 13 Lehan van der Westhuizen, 12 Simon Liversage, 11 Driaan Jacobs, 10 Marno Greeff, 9 Ethan Manus, 8 Enrique Boshoff, 7 Jayden de Klerk, 6 Stiaan van Loggerenberg, 5 Zuan Rautenbach, 4 Daniël Kuhn, 3 Dian Ellis, 2 De Wet du Plooy, 1 FJ de Vries.

Afrikaanse Hoër Seunskool: 15 Ruben Groenewald, 14 Hugo Snyman, 13 Theuns Maritz, 12 Janco Purchase, 11 Nic Grobler, 10 Ruben Pienaar, 9 Hendré Schoeman, 8 Ruan Lippold, 7 Albert Smit, 6 Lohan Potgieter, 5 JD Hattingh, 4 Muntingh Hamman, 3 Ruan Smuts, 2 Ethan van Dyk, 1 Werner Vrey.

 

Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.