Diamonds wil sake regstel teen Uppies

Hoërskool Diamantveld het, van 2008 tot 2015, hul jaarlikse bepaling teen Hoërskool Upington gedomineer, maar met die hervatting van die twee spanne se wedywering verlede jaar was dit Uppies wat koning gekraai het.
Saterdag pak die twee mekaar weer, dié keer in Kimberley, en die Diamonds sal die bordjies so gou as moontlik wil verhang om weer hul plek as die toonaangewende span in die Noord-Kaap te herwin.
Beleef die aksie regstreeks op SuperSport Schools – Registreer nou – Skakel na die wedstryd
Die span van Upington se ster op senter, Ruwin Isaks, het 23 punte met die stewel bygedra in verlede jaar se sege, maar slegs drie van daardie seisoen se staatmakers het oorgebly. Roelof Slabbert, wat verlede jaar op haker gesak het, begin in die no. 8-trui; Louwan Harper skuif van vleuel na skrumskakel; en Ruan Janse van Rensburg is weer op slot in aksie.
Die Uppies sal staatmaak op die ervaring van bogenoemde trio wanneer hulle Saterdag probeer om verlede jaar se sukses te herhaal in Kimberley.
Die Diamonds lyk boonop na ‘n totaal ander span vanjaar.
Daar is ‘n kerngroep van spelers, soos die medekapteine, FJ de Vries en Simon Liversage, wat ook verlede jaar reeds die ligbloutrui gedra het, en tot dusver lyk Diamantveld slaggereed om ‘n nuwe hoofstuk te skryf.
Die Diamonds het reeds twee indrukwekkende seges in die Wesgrow-reeks behaal, en kon gedurende die vakansie hul deelname aan die St Stithians-fees afsluit met ‘n klinkende sege van 53-11 oor Hoërskool Secunda, nadat hulle op die eerste dag teen Helpmekaar Kollege vasgeval het.
Voor die seisoen het Diamantveld met 10-33 teen Affies verloor, terwyl Upington by dieselfde geleentheid met 10-38 die knie gebuig het teen die Pretorianers se tweedespan. Die tuisspan sal dus voel dat hulle hierdie kragmeting behoort te wen.
Upington het egter verlede jaar gewys dat hulle nie hulself steur aan vorige uitslae nie, en reg is om op ‘n gegewe dag enige span die stryd aan te sê.
Die spanne:
Diamantveld t. Upington om 12:00:
Hoërskool Diamantveld: 15 Kyle Taute, 14 Carel Viljoen, 13 Clinton Brits, 12 Simon Liversage, 11 Jonathan Harding, 10 Marno Greeff, 9 Ethan Marnus, 8 Enrique Boshoff, 7 Jayden de Klerk, 6 Paul Cronje, 5 Zuan Rautenbach, 4 Daniël Kühn, 3 Heinrich Nel, 2 De Wet du Plooy, 1 FJ de Vries.
Hoërskool Upington: 15 Hercules Hudson, 14 Dali Gubula, 13 LJ Izaaks, 12 Tony van Kradenburg, 11 Laymian Snyders, 10 Cayden Daniels, 9 Louwan Harper, 8 Roelof Slabbert, 7 Petri Fourie, 6 Walter Warkus, 5 Ruan Janse van Rensburg, 4 Jaden Williams, 3 Nathan Manyora, 2 Jade Coetzee, 1 Monqoba Hinana.