Diamonds se sterre lyk blink teen Fichie Leeus op jaarlikse sportdag

Die Wesgrow-reeks skop dalk eers op 15 Maart amptelik af, maar die eerste skote van dié oorlog het reeds geklap.
Die Hoërskool Diamantveld het die Fichardtpark Leeus met 25-7 in die hoofwedstryd van die jaarlikse sportdag deur Hoërskool Fichardtpark gestamp. Standard Bank was vanjaar die hoofborg van die grootste sportdag in Suid-Afrika.
Die twee spanne sal mekaar later vanjaar op 24 Mei op dieselfde veld weer die stryd in ‘n Wesgrow-wedstryd die stryd aansê.
Die span van Kimberley het egter met dié sege ‘n belangrike sielkundige uitklophou vir later vanjaar geplant.
Die Diamonds, wat in geel truie uitgedraf het om nie met die gasheer se blou-truie te bots nie, het teen rustyd reeds ‘n stewige voorsprong van 15-0 opgebou. Die besoekers het vyf keer agter die doellyn gaan kuier, maar kon nie met ‘n enkele doelskop slaag nie.
Die wenspan se binnesenter, Jonathan Harding, het ‘n stewige vertoning opgedis. Hy is gewis ‘n speler wat vanjaar dopgehou moet word. Hy het ook twee van sy span se drieë afgerond. Hy en sy direkte teenstander, Junior Titoti, was in ‘n hewige stryd in die middelveld gewikkel.
Titoti is egter net voor rustyd koelkas toe gestuur. Diamonds het in die tweede helfte self vir ‘n ruk met net 13 spelers gespeel toe die disipline begin lostorring het. Die span se buitesenter, Jaco Beukes, is van die veld gestuur na hy sy tweede geelkaart weens ‘n ongeoorloofde duikslag ontvang het.
Die span se losskakel, Duran Makoni, is ook kort koelkas toe gestuur. Makoni het egter ‘n goeie wedstryd beleef met sy agttal wat voorlangs die botoon gevoer het. Sy skakelmaat, Ruben van der Linde, het ook op die voorvoet baljaar.
In die agttal het die slot Zuan Rautenbach, die haker Jaydrian Jacobs asook die losvoorspelers Enrique Boshoff en Jayden de Klerk goeie wedstryde beleef.
Vir die Fichies die heelagter, Unathi Ntuli, elke keer gevaarlik gelyk wanneer hy in besit geplaas is.
In die eerste wedstryd van die sportdag het die Hoërskool Bultfontein en Hopetown seker gemaak dat die ondersteuners wat vroeg uit die vere moes kom, nie teleurgesteld was nie.
Albei spanne het op die veld gedraf om aanvallende voetbal te speel. Bultfontein het die kragmeting met 12-5 gewen, maar dit was Hopetown wat in die eerste helfte die bal hope lug gegee het.
Hopetown se linkervleuel, Robin-Lee Eland, beskik meer oor die spoed van ‘n Rooihartbees as die van ‘n Eland. Hy het agter die doellyn gaan draai, maar die drie is weens ‘n vorentoe-aangee nie toegeken nie. Die skrumskakel, Faithden Jantjies, het Bultfontein besig gehou agter die oond en ook sy span se enigste drie na ‘n skerp breekslag gedruk. Die span se heelagter, Kabelo Poni, het ook verniet ‘n draai agter die doellyn gemaak.
Bultfontein het in die tweede helfte behoorlik ingeklim met sy plaasvervangers wat ‘n duidelike impak gemaak het. Veral Deon du Toit het op flank vanaf die plaasvervangersbank ‘n impak gemaak.
Die verloorspan se Le-ru Klok en Charl du Plessis (buitesenter) was hul span se beste spelers op die dag.
Puntemakers:
Diamantveld 25 (15) – Drieë: Jonathan Harding (2), Clinton Brits, Driaan Jacobs, Zuan Rautenbach. Fichardtpark 7 (0) – Drie: Dian Visagie. Doelskop: JM Rensburg.
Hoërskool Bultfontein 12 (0) – Drieë: Deon du Toit, Armand Olivier. Doelskop: Andries De Wet Steyl. Hopetown 5 (5) – Drie: Faithden Jantjies.
- Grey College favourites once again to be crowned Champion of Champions - 2025-09-19
- RUGBY | Grey College – 2025 - 2025-09-18
- Witwarm Wilgies sal Prieska se Gadeija moet hokslaan - 2025-08-30