Diamonds sal nou moet duim vashou tot 8 Julie vir hul lot
Daar sal vanjaar straks ‘n nuwe kampioen in die Wesgrow-reeks gekroon word.
Diamantveld kon ondanks ‘n klinkende sege van 53-36 oor Voortrekker van Bethlehem nie daarin slaag self vir hom ‘n plek in die halfeindronde van vanjaar se reeks te bespreek nie. Diamonds sal nou tot 8 Julie moet wag om te weet wat sy lot is. Goudveld-Hoërskool en Jim Fouché se wedstryd is tot dan uitgestel weens te veel van laasgenoemde se spelers wat tans in die siekeboeg is.
Indien JF daarin kan slaag om Gouties te verras, kan Diamantveld nog ‘n plek in die halfeindronde vul. Voortrekker het slegs ‘n enkele bonuspunt Vrydag teen Diamonds benodig om sy plek in die uitspeelrondes te bevestig.
Die Trekkers het na slegs agt minute se spel in die wedstryd reeds ‘n voorsprong van 12-0 opgebou. Die span van Bethlehem moes egter tot tien minute in die tweede helfte wag om sy derde drie te druk om sy plek met ‘n bonuspunt in die halfeindronde te bespreek.
Diamantveld het hard teruggeveg om teen lemoentyd ‘n voorsprong van 26-12 te geniet. Diamonds moes die wedstryd met 25 punte wen asook vyf drieë druk in die proses om sy plek te bespreek. Die tuisspan moes ook die Trekkers van ‘n enkele bonuspunt weerhou.
Die Trekkers het met sy ses drieë twee bonuspunte terug na die Riemland geneem. Diamonds se haker, Louis Vermeulen, het behoorlik gewoel in die los en drie keer agter die doellyn gaan draai. Die tweestryd tussen die twee buitesenters, Cole Arnoldus (Diamantveld) en Frans Postma (Voortrekker), het hope vuurwerk opgelewer.
Albei die senters het daarin geslaag om twee keer die teenstanders se doellyn oor te steek.
Puntemakers:
Diamantveld 53 (26) – Drieë: Louis Vermeulen (3), Cole Arnoldus (2), Rudolph Steinmann, Keanan Beckett, Morné Matthewson. Doelskoppe: Matthewson (5). Strafdoel: Matthewson. Voortrekker 36 (12) – Drieë: Frans Postma (2), Bjorn Steinhobel, Steyl Barnard, Peter Motloung, Thabiso Mofokeng. Doelskoppe: Cammi Roux (3).
Ander spanne – o.16: Diamantveld 18, Voortrekker 14. o.15: Diamantveld 24, Voortrekker 5. o.14: Voortrekker 36, Diamantveld 14.
PUNTESTAND:
[powr-comments id=”c49471e7_1558247342759″]




