Diamonds moet dié week van stampkar na Ferrari gaan
Die Hoërskool Diamantveld se eerste rugbyspan se kanse om sy titel as kampioen van die Wesgrow-reeks suksesvol te verdedig hang aan ‘n dun draadjie.
Die wedstryd word regstreeks op DigiTV.co.za via Diamantveld TV gebeeldsend.
Diamonds kom Vrydag om 15:40 op sy tuisveld in Kimberley teen Voortrekker van Bethlehem in sy laaste groepwedstryd van die reeks te staan. Die span van die Diamantstad benodig ‘n oorwinning van 25 punte en moet ook vyf drieë in die proses druk om sy titelkanse lewendig te hou.
Spanne in die Wesgrow-reeks verdien ‘n bonuspunt vir drie drieë asook ‘n addisionele bonuspunt indien hulle vyf keer ‘n draai agter die doellyn gaan maak.
Voortrekker benodig slegs ‘n enkele punt om sy plek in die halfeindronde te bespreek. Die Trekkers moet dus slegs drie drieë druk of met minder as sewe punte verloor.
Daar is ook ‘n klein buitekans dat Jim Fouché vir Diamantveld ‘n guns kan bewys. JF kom Saterdag teen Goudveld-Hoërskool te staan. Gouties benodig slegs ‘n sege in die wedstryd om van sy plek in die uitspeelrondes seker te maak.
Goudveld het in die eerste wedstryd van die reeks vanjaar op Fichardtpark se McDonalds Sportdag vir Diamantveld met 21-12 geskok. Die Trekkers het op hulle beurt die Gouties naelskraap met 39-38 verslaan. Goudveld het egter ‘n waardevolle drie bonuspunte in die kragmeting verdien.
In die ander groep behoort Witteberg van Bethlehem en Noord-Kaap van Kimberley tot die halfeindronde deur ted ring. Die twee spanne moet mekaar egter nog in die reeks ontmoet om te beslis wie bo-aan hul groep sal eindig.
Diamonds se afrigter, Jaco Dames, het die moeilike taak die week gehad om sy span se taktiek van Blou Bul-rugby na die tradisionele Vrystaatse hardlooprugby te verander.
Diamantveld het verlede week vir Noord-Kaap met 32-14 in hul jaarlikse FNB Classic Clash verras. Die wenspan het slegs drie keer tydens die afskoppe die bal geskop om die balbesit van Northerns se gevaarlikse agterhoede weg te hou.
Vrydag sal Diamantveld egter ‘n baie meer oop wedstrydplan moet implementeer indien hy enige kans wil staan om sy titel suksesvol te verdedig.
Indien die Trekkers daarin slaag om genoeg gehalte balbesit in die hande van sy gevaarlikse vleuel Xavier Adams te sit, behoort die span sy doelwit van drie drieë te behaal.
Die tweestryd om na uit te sien sal tussen die twee spanne se buitesenters, Cole Arnoldus (Diamantveld) en Frans Postma (Voortrekker) wees.
Die spanne is:
Diamantveld: 15 Keanan Beckett, 14 Charl Burger, 13 Cole Arnoldus, 12 Hugh Murray, 11 Danie Botha, 10 Morné Matthewson, 9 Dennie Ludick, 8 Stefan Swart, 7 Ryno van Rensburg, 6 Sello Maketlo, 5 Niel Swartz, 4 Jano Badenhorst, 3 Rudolph Steinmann, 2 Louis Vermeulen, 1 Anrich Rosentrauch. Plaasvervangers: 16 Jan Potgieter, 17 Janrico Malan, 18 Jayden van Rooyen, 19 Niel Hefer, 20 Hennie Ludick, 21 Shakeel Rosen, 22 Brendon Greyling, 23 Devon Valentine.
Voortrekker: 15 Jan du Toit, 14 Xavier Adams, 13 Frans Postma, 12 Duncan Amsterdam, 11 Peter Mofokeng, 10 Cammy Roux, 9 Robbie Wiggett, 8 Justin Kritzinger, 7 Thabiso Mofokeng, 6 Renier Binneman, 5 Estiaan Louw, 4 Steyl Barnard, 3 Kamshen Moss, 2 WJ Hattingh, 1 Warren Louw. Plaasvervangers: 16 Bjorn Steinhobel, 17 Daniel Meader, 18 Janco Volschenk, 19 Kobus Wiggett, 20 Willie Oosthuizen, 21 Eddie Jackson, 22 Tshepang Morake, 23 Sakkie Pretorius.
[powr-comments id=”8536ff68_1558074086263″]




