Diamantveld verhang bordjies teen Uppies

Hoërskool Diamantveld het ‘n stelling gemaak met ‘n klinkende sege van 40-7 oor Hoërskool Upington, en sodoende die bordjies verhang na verlede jaar se skoknederlaag van 31-43 met die hervatting van die twee spanne se jaarlikse interskole.
Beleef die aksie weer op SuperSport Schools – Registreer nou – Skakel na die wedstryd
Die Diamonds het die tuisskare binne die eerste vyf minute reeds op hul voete gehad toe heelagter, Kyle Taute, op die teenaanval deur die Uppies-verdedigers gesny en binnesenter, Simon Liversage, weggestuur het vir die eerste drie.
Liversage het self sy drie verdoel, en met nog vier doelskoppe geslaag vir ‘n bydrae van 15 punte in sy span se spogsege.
Die span van Kimberley se pak het voorlangs die oorhand geniet, met kaptein, FJ de Vries, en haker, De Wet du Plooy, wat elk ook gedruk het in die eerste skof om die halftydtelling op 21-0 in hul guns te staan te bring.
In die tweede helfte is die sluise heeltemal oopgemaak, met vleuel, Carel Viljoen, wat onderskep het vir buitesenter, Clinton Brits, om eerste te druk na die omdraaislag, en die ander vleuel, Jonathan Harding, wat die Uppies-verdediging twee keer aan flarde gehardloop het om die oorwinning bo alle twyfel te stel.
Die besoekers het egter nooit hul koppe laat sak nie en in die laaste 10 minute steeds gapings in die Diamantveld-verdediging probeer ontgin. Een so ‘n briljante stukkie samespel tussen agsteman, Roelof Slabbert, en kaptein, Ruan Janse van Rensburg, het gesorg dat die span van Upington ook punte op die bord kon kry.
Vir Diamantveld behoort hierdie uitslag te dien as die begin van ‘n splinternuwe hoofstuk. Die trotse span van Kimberley het reeds twee puik seges oor Voortrekker Hoërskool en Hoërskool Trio behaal in die Wesgrow Sentrale Skolesport-reeks, en nou het hulle ook verlede jaar se Noord-Kaap ligakampioene verslaan.
Volgende naweek pak hulle vir Hoërskool Duineveld in Upington. Die Velties het die afgelope naweek vir Hoërskool Kalahari met 38-9 oorrompel en het vroeër, by die NMI Noord/Suid-toernooi, vir ‘n witwarm Hoërskool Noordheuwel laat sweet vir ‘n naelskraapse oorwinning van 33-32.
Daar wag dus tawwe stryd op die manne van Diamantveld.
Puntemakers:
Hoërskool Diamantveld 40 (21) – Drieë: Jonathan Harding (2), FJ de Vries, De Wet du Plooy, Simon Liversage, Clinton Brits. Doelskoppe: Liversage (5). Hoërskool Upington 7 (0) – Drie: Ruan Janse van Rensburg. Doelskop: Hercules Hudson.
Ander uitslae
o. 19 – Diamantveld II 60, Upington II 10.
o. 16 – Upington 30, Diamantveld 19; Diamantveld B 29, Upington B 21.
o. 15 – Diamantveld 19, Upington 17.
o. 14 – Diamantveld 64, Upington 0.