SuperSport Schools Plus

Diamantveld bult spiere voor Wildeklawer

By Willem Louw , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2024-04-25 Tags: , , ,

FOTO: Asjas Fotos

Diamantveld se eerstespan het Woensdagaand die tafel gedek vir ‘n opwindende Absa Wildeklawer-toernooi, wat volgende week in Kimberley afskop, deur vir Fichardtpark met 41-12 af te stof.

Met hierdie indrukwekkende sege druk die Diamonds verder hul stempel af op vanjaar se Wesgrow Sentrale Sportreeks en spog hulle steeds met ‘n onoorwonne rekord.

Beleef die wedstryd weer op SuperSport Schools – Registreer nou Skakel na die reeks

Die span van Kimberley beleef ‘n merkwaardige reeks tot dusver, en nadat hulle verlede seisoen in Bloemfontein teen die Fichies verloor het behoort hierdie oorwinning selfs soeter te smaak.

Skrumskakel, Dirk van Heerden, was deurlopend ‘n uitblinker vir die Diamonds en het slegs sewe minute nodig gehad om die eerste van sy twee drieë aan te teken.

Die Fichie-Leeus het gedurende die eerste helfte nietemin goeie rekenskap van hulself gegee om binne trefafstand te bly, en Zaine van Zyl het kort na Diamantveld se eerste drie ook sy span se rekening oopgemaak.

Van Heerden het daarna uitstekende tussenspel deur die Diamantveld-agterlyn afgerond om sy tweede drie in te ryg, en binnesenter, Simon Liversage, het Diamonds se derde drie gedruk vir ‘n voorsprong van 19-5 na die eerste halfuur.

Die Bloemfonteiners se skrumskakel, Devanté Claasen, het weereens uitgeblink vir sy span en het die agterstand tot slegs sewe punte laat krimp kort voor rustyd. Hy is reeds sedert verlede seisoen ‘n opwindende speler om dop te hou en is een van die Fichardtpark-spelers wat weer ‘n plek in vanjaar se Cravenweekspan kan losspeel, nadat hy in 2023 reeds vir die Vrystaat uitgedraf het by die byeenkoms.

Dit was ‘n kragtige lopie deur die groot agsteman, MJ Herbst, wat tot Claasen se drie gelei het, en Herbst het ook die doelskop behartig om die rustydtelling op 19-12 te staan te bring.

Diamantveld het egter in die tweede helfte die skroewe styf vasgedraai met drieë deur Liversage, Stiaan van Loggerenberg, Jonathan Harding en Carel Viljoen, terwyl die Fichies nie weer hul verdediging kon oopsluit nie.

Van Loggerenberg, wat beloon is met die laaste drie, en Enrique Boshoff het weer die veld vol gespeel vir die Diamonds, en hul groot voorry het die besoekers swaar laat leef in die vaste aspekte van die spel.

Hul agterhoede het ewe goed saamgewerk, en hierdie vertoning sal vir die span van Kimberley se selfvertroue ‘n beduidende hupstoot bied voor die komende week se Wildeklawer-fees. Die laerskoolspanne is reeds in aksie in Kimberley, terwyl van die beste hoërskoolspanne in die land van 1 tot 4 Mei vergader om kragte te meet.

Puntemakers:

Diamantveld 41 (19) – Drieë: Dirk van Heerden (2), Simon Liversage (2), Stiaan van Loggerenberg, Jonathan Harding, Carel Viljoen. Doelskoppe: Liversage (2), Ethan Manus. Fichardtpark 12 (12) – Drieë: Devanté Claasen, Zaine van Zyl. Doelskop: MJ Herbst.

Al die uitslae:

o. 19 – Diamantveld II 46, Fichartpark II 14; Diamantveld III 34, Fichardtpark III 0; Diamantveld IV 15, Landboudal III 14.

o. 16 – Diamantveld A 29, Fichardtpark A 24; Diamatveld B 59, Fichardtpark B 7.

o. 15 – Diamantveld A 26, Fichardtpark A 10; Diamantveld B 31, Fichardtpark B 22.

o. 14 – Diamantveld A 43, Fichardtpark A 14; Diamantveld B 35, Fichardtpark B 0.

Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.