SuperSport Schools Plus

De Lange dag vir Monnas op die Ras

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-06-01 Tags: , , , , , , ,

EUGENE DE LANGE, steelkanflank van Helpmekaar Kollege, op pad na die doellyn in sy span se sege oor Monument in Krugersdorp. FOTO: Marius Nortjé.

Helpmekaar Kollege se Eugene de Lange het die wendrie gedruk vir die besoekers om Hoërskool Monument se doppie te klink met 53-43, Saterdagmiddag op Monnas se tuisveld, die Ras van Rooyen in Krugersdorp.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

De Lange se vyfpunter was nie slegs die kersie op die koek vir Helpies nie, maar ook ‘n gepaste beloning vir straks die uitstaande individuele vertoning van die dag.

Nadat die tuisspan soos ‘n veldbrand weggespring het in die eerste 15 minute, het De Lange die momentum stelselmatig geswaai met sy vernietigende barslopies waarmee hy bykans elke keer deur die eerste linie van verdediging gebreek het.

Daarmee het Helpies die druk toenemend toegepas, wat die grondslag gelê het vir vleuels, Xander van Niekerk en Francois Tonkin, om elk ‘n tweekuns aan drieë te behaal.

Benewens De Lange, het die besoekers se voorry ook uitgeblink in die vas en vastelos, met vernaam vaskopstut, Dylan Engelbrecht, wat uitsonderlike vaardighede tentoongestel het. Agsteman, Llewelyn Vermaak, het gewoel in die los en was, nes De Lange, een van die Helpies se gevaarlikste wapens.

Die Monumentare het egter nooit gaan lê nie, selfs toe hulle in trurat was kort voor rustyd. Dit was egter in die eerste 25 minute van die tweede helfte, dat hulle na hoogste versnelling oorgeskakel het. Met dr. Jannie du Plessis en, nou ook, oud-Leeu, Willie Britz, as deel van die afrigtingspan, het die tuisspan beslis ‘n mate van “Leeuemoed” uitgestal.

Hulle het vir die Helpies by ‘n paar geleenthede in spasie gelooi met puik hardlooprugby, wat gelei het tot die eerste drie drieë in die tweede 35 minute. Loghan Langeveldt, wat vandeesweek op heelagter uitgedraf het, het vir die twee agtereenvolgende week deurgewals vir ‘n tweekuns.

Buitesenter, Ruan Genis, was straks die Wit Bulle se beste speler, terwyl skrumskakel, Evan Bernhardi, ook goed vertoon. Voorlangs het oopkantflank, Caleb Sparks, die vonke laat spat, vernaam by die afbreekpunte.

In Pretoria het 2024 se Beker-naaswenner, Hoërskool Waterkloof, 26 punte in die laaste 14 minute aangeteken om sy stryd met Hoërskool Rustenburg gemaklik met 40-15 te wen.

Die Rusties het die lewe vir die Klofies moeilik gemaak in die eerste helfte. Nadat hulle met die omdraaislag met 14-3 voorgeloop, het die Klofies se lostrio na rustyd aan die werk gespring met opkantflank, Divan Botha, wat die eerste van twee Bothas was om agter die doellyn te gaan draai. Binnesenter, Dylan Botha, het kort daarna oorgebars vir die Klofies se laaste drie.

Haker, Ruan Jacobs, het tong uitgesteek vir die Blou Bulle se keurders deur twee keer te gaan druk, terwyl agsteman, Marko Kok, weer van voor gelei het met ‘n kragtige vertoning op die aanval.

Die Rusties se Bradley Snyers, kleinneef van Lorenzo Snyers, het sy span se enigste twee drieë gedruk en gaan later vanjaar die Luiperds se Cravenweekspan, in Middelburg, verteenwoordig.

Puntemakers: 

Helpmekaar Kollege 53 (36) – Drieë: Xander van Niekerk (2), Francois Tonkin (2), Ty Ax, Dylan Englebrecht, Jandré Botha, Eugene de Lange. Doelskoppe: Wian Storm (5). Skepdoel: Storm. Monument 43 (17) – Drieë: Ruan Genis (2), Loghan Langeveldt (2), Vincent Roberts, Reghard Ernst, Jason Joubert. Doelskoppe: Cameron Kourie (2), Caylum Schooney (2).

Waterkloof 40 (14) – Drieë: Ruan Jacobs (2), Jedri Swart, Divan Botha, Marko Kok, Dylan Botha. Doelskoppe: Ronan Bastiaanse (5). Hoërskool Rustenburg 15 (3) – Drieë: Bradley Snyers (2). Doelskop: Ayden Willemse. Strafdoel: Willemse.

Ander spanne: 

o.16: Monument 35, Helpmekaar 15; Waterkloof 27, Rustenburg 24.

o.15: Helpmekaar 29, Monument 5; Rustenburg 16, Waterkloof 10.

o.14: Monument 22, Helpmekaar 20; Waterkloof 41, Rustenburg 15.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.