De Jager witwarm vir Middies, terwyl Rhinos kanse vir promosie lewend hou

Die Noordvaaltrofee in die Plaat-afdeling gaan vanjaar iewers in Mpumalanga staanplek kry.
Die Hoërskool Nelspruit se Rhinos sal op sy tuisveld vir die Hoërskool Middelburg in die eindstryd pak.
Daar is wel vir Nelspruit meer as net die titel as kampioen in die eindstryd op die spel.Dié skool sal met seges in die eindstryd van die eerstespanne asook die o.16-eindstryd teen Montana verby die Hoërskool Rustenburg op die promosie/relegasie puntelys skuif.
Dit sal beteken dat die Rhinos weer volgende jaar tussen die kroonwild in die Beker-kompetisie sy spiere kan bult.
Die Rhinos het sy plek in die eindstryd met ‘n sege van 38-17 oor Kempton Park bespreek, terwyl Middies met 52-0 oor heeltemal te veel skietgoed vir die Hoërskool Rustenburg beskik het.
Middies se buitesenter, Grant de Jager, het met nog ‘n puik vertoning gewys dat hy vanjaar onder die voorste skolespelers in sy posisie in Suid-Afrika tel. Hy was met ‘n driekuns drieë aan die voorpunt van sy span se klinkende sege oor Rusties.
Indien ‘n unie hom nog nie opgeraap het nie, moet ‘n paar van die tjekboekjagters dringend in Middelburg ‘n draai gaan maak.
Die wenspan se agtsteman, Ben Jansen van Vuuren, het ook ‘n goeie dag op kantoor beleef en twee keer gaan druk. Hy is ‘n handvol wanneer hy die bal onder die arm vasknyp.
Nelspruit se slot Leonard Bornman was vir sy span goud werd in hul sege oor Kempies. Hy het uitstekend gerank in die lynstane waarvandaan sy span die rolmaalbeweging tot groot sukses kon inspan. Bornman het ook ‘n hele paar keer sy span met stormramlopies oor die voordeellyn gekry.
Agterlangs het die losskakel, Danny van Staden, goeie spel gelewer en die twee senters, Drikus Greeff en Ricardo Correira, met gehalte balbesit gevoer. Die senterpaar was ook uitstaande.
Die flanke Francois Odendaal en Bernard van Esch verdien elk ook ‘n klop op die skouer vir hul vertoning in die sege.
Kempies se flank Sarel Erasmus en slot Milano Hattingh kan vandag breëbors rondloop na hul goeie vertonings in die halfeindstryd.
Puntemakers:
Hoërskool Nelspruit 38 (19) – Drieë: Leonard Bornman (2), Ryan Venter, Danny van Staden, Ricardo Correira, Francois Odendaal. Doelskoppe: Van Staden (5). Kempton Park 17 (5) – Drieë: Sarel Erasmus (2), Keagan Trollip. Doelskop: Henco Potgieter.
Hoërskool Middelburg 52 (18) – Drieë: Grant de Jager (3), Ben Jansen van Vuuren (2), Mnqobi Nkonde, Philasane Ntshapela, AJ Oberholzer, Simtha Maseko. Doelskoppe: Oberholzer (2). Strafdoel: Oberholzer. Hoërskool Rustenburg 0.
Ander spanne:
o.16: Nelspruit 13, Rustenburg 12; Montana 21, Kempton Park 14.
o.15: Rustenburg 13, Transvalia 5; Middelburg 14, Nelspruit 7.
o.14: Rustenburg 31, Kempton Park 13; Transvalia 9, Zwartkop 7.