SuperSport Schools News

Daar is die naweek ‘n jol in Upington, ‘n Groot Interjol!

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2022-08-12

NewsG DuineveldDit is weer tyd vir die Groot Interjol in Upington.

Die gebeurtenis in die grootste in die Noordweste van Suid-Afrika – met almal vanaf Grootdrink, Stofbakkies, Karasburg, Askham en selfs Putsonderwater wat belang het in die tweestryd tussen Duineveld en die Hoërskool Upington.

Die Velties is vanjaar die gasheer vir vanjaar se groot stryd. Die skeidsregter vir die eerstespan-wedstryd is Niel Bosman van die Blou Bulle se skeidsregtersvereniging.  Bosman het op sy dag ook op losskakel vir Affies uitgedraf.

Ander skeidsregters wat al die eer gehad het om dié wedstryd te hanteer sluit in Jonathan Kaplan, Lourens van der Merwe en Ben Crouse.

Duineveld het vroeër vanjaar tydens die Klein Interjol met 10-3 in ‘n klipharde tweestryd as oorwinnaars van die veld gestap. Die Velties het vanjaar vier spelers tot Griekwaland-Wes se span vir die Cravenweek in Kaapstad bygedra.

Die viertal is AJ Wiese (haker), Juan Agenbag (vaskopstut), Freddie Collen (flank) en Wyndham Bouwer (buitesenter). Uppies het self drie spelers tot die Poubloues se span bygedra met Neil Pedro (skrumskakel), Macniell Hendriks (buitesenter) en Jaco Fourie (agtsteman) wat in die Moederstad in aksie was.

Hendriks het op agtsteman tydens die Cravenweek uitgedraf, terwyl Wiese op vaskopstut vir die provinsiale span diens gedoen het.

Die kragmeting behoort ‘n titaniese tweestryd tussen die voorspelers van Duineveld en die vlugvoetige agterspelers van Upington te wees. Veral die skrumskakel, Pedro van Uppies, het al vanjaar gewys dat niemand ‘n oog kan knip rondom die losskrums nie, anders is hy daar verby.

Uppies het ‘n trotse rugby-geskiedenis met hul nuutste Springbok, Jasper Wiese, wat vandag op Ellispark teen die All Blacks in aksie sal wees. Sy jonger broer, Cobus Wiese, is ook ‘n produk van die skool.

Ander Springbokke wat die Hoërskool Upington opgelewer het sluit in Tiaan Strauss, Daantjie Rossouw en Willem Barnard.

Die Velties se bekendste uitvoerproduk op die rugbyveld in Kees Lensing wat Namibië op die rugbyveld aangevoer het.

Die spanne is: 

Duineveld: 15 Mighael Coetzee, 14 Wian Joubert, 13 Wyndham Bouwer, 12 Alwyn Kotze, 11 Shamaro de Klerk, 10 DJ Wandrag, 9 Jandre Marais, 8 Stefan Klindt, 7 Malan Geldenhuys, 6 Freddie Collen, 5 Gert-White Grobbelaar, 4 Ean le Rich, 3 Juan Agenbag, 2 AJ Wiese, 1 Janrich Agenbag.

Hoërskool Upington: 15 John-Joshua Steenkamp, 14 Khayalenkosi Maganga, 13 Macniell Hendriks, 12 Shaldon Cloete, 11 Siphe Msebenzi, 10 Emlyhn Jacobs, 9 Neil Pedro, 8 Jaco Fourie, 7 Murry Louw, 6 Sipho Li’ingi, 5 PA Karsten, 4 Franco Odendaal, 3 Vrele du Toit, 2 LJ Kotze (kaptein), 1 Niel Visser.

Afskop: 15:50
Skeidsregter: Niel Bosman (Blou Bulle).

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.