Cravenweek volgende jaar deur die Kwaggas in George aangebied
Die Cravenweek sal volgende jaar vir die eerste keer sedert 1999 na George toe terugkeer.
Die Hoërskool Outeniqua vier volgende jaar sy honderdste bestaanjaar en sal dan ook die gesogte toernooi aanbied. Die Kwaggas het al sedert 1923 ‘n totaal van vyf Springbokke in Faan Conradie (1965), Johan Heunis (1981), Marco Wentzel (2002), Warrick Gelant en Akker van der Merwe (2018) opgelewer.
Die Skotste vleuel Duhan van der Merwe (2020) wat ook verlede jaar die Britse en Ierse Leeus verteenwoordig het was ook ‘n lid van die Kwaggas se indrukwekkende span van 2013.
Manie Libbok kan moontlik later vanjaar die skool se sesde Springbok word. Die Kwaggas het ook vier Blitzbokke deur die jare opgelewer met Giscard Pieters, Wilton Pietersen, Dewald Human, en Gelant wat almal ‘n draai by die nasionale sewesspan in hul loopbane gemaak het.
Die skool spog met ‘n trotse rugby-geskiedenis en volgende jaar se Cravenweek beloof om een vir die boeke te wees. Rugby het ‘n sterk begin danksy die aanstelling van Sas de Kock by die skool in 1924 gekry. De Kock het in dieselfde jaar sy buiging vir die Springbokke gemaak.
Tydens die hoofwedstryd van 1999 se Cravenweek het die Westelike Provinsie die Oostelike Provinsie met 15-11 in die hoofwedstryd verslaan.
Heelwat toekomstige Springbokke was tydens die weergawe van die toernooi in aksie. Gary Botha (Waterkloof), Ashwin Willemse (Swartberg Sekonder), Ricky Januarie (Weston), Wian du Preez (Grey-kollege), Michael Claassens (Hoërskool Kroonstad), Pedrie Wannenburg (Oakdale Landbou), Schalk Brits (Paul Roos Gimnasium), Gurthro Steenkamp (Hoër Jongenskool Paarl) en Jean de Villiers (Paarl Gimnasium).
Buiten Claassens, Du Preez en Brits het was al die ander manne lede van Jake White se Springbokke wat in 2007 die Wereldbeker omhoog gehou het. De Villiers en Januarie het onderskeidelik vir WP en Boland se Akademie-spanne tydens die toernooi verteenwoordig.
Die Grant Khomo-week vir o.16-spelers sal volgende jaar by Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch aangebied word. Die o.16-toernooi het in 2003 ontstaan.
Die nasionale Akademie-week (o.18) sal volgende jaar by Jeppe High School for Boys’ aangebied word.




