Cravenweek bepalings vir 2016
Die nie-amptelike kampioen van die Cravenweek, die Westelike Provinsie, sal sy aanslag op volgende jaar se 53ste toernooi in Durban teen sy bure Boland afskop.
Die Cravenweek en Akademie-week word volgende jaar by Kearsney-kollege in Durban in dieselfde week aangebied. Daar word verwag dat van die wedstryde ook op Glenwood gespeel gaan word.
Die Streeptruie het die grootste sege ooit in die hoofwedstryd van die Cravenweek behaal toe hy vir Oostelike Provinsie vanjaar met 95-0 in Stellenbosch verniel het.
Die span van die Baai sal op die eerste dag in die hoofwedstryd teen die gasheer, KwaZulu-Natal te staan kom. Dit sal die eerste keer sedert 1990 wees wat die Cravenweek in Durban aangebied word. Dit is ook die laaste jaar waarin KwaZulu-Natal in die hoofwedstryd van die toernooi in aksie was.
Die Blou Bulle is ook beloon vir hulle goeie vertoning op vanjaar se toernooi en sal op die tweede dag in die hoofwedstryd teen Grens te staan kom. Die Ligbloues is welverdiend as die tweede beste span van vanjaar se toernooi gegradeer.
Die bepalingskomitee van die Suid-Afrikaanse Skolerugby-vereniging (SASRV) het met dié bepalings vir volgende jaar se toernooi die eerste keer in ‘n hele paar jaar daarin geslaag om behoorlik raak te vat.
Die Leeus kom op die tweede dag in die hoofvoorwedstryd teen Suidwestelike Distrikte te staan. Die wenner van die kragmeting sal waarskynlik die Blou Bulle op die vierde dag pak.
Die Vrystaat is ook in die groep geloot en kom teen die Valke in sy eerste wedstryd te staan. Indien die Vrystaat met ‘n oortuigende sege in die wedstryd vorendag kom, kan die loting vir die vierde dag se wedstryde interresant raak.
Die Griffons wat verlede jaar vir hulle goeie vertonings sedert 2011 se toernooi in Kimberley beloon is, sal teen die Pumas in sy eerste wedstryd van die toernooi te staan kom. Die Pumas kon die afgelope twee jaar nie ‘n enkele sege op die Cravenweek behaal nie.
Die bepalings is:
Dag 1 – Griekwa-platteland t. Zimbabwe; Griekwas t. Namibië; Griffons t. Pumas; Westelike Provinsie t. Boland; KwaZulu-Natal t. Oostelike Provinsie.
Dag 2 – Limpopo Blou Bulle t. Grens-platteland; OP-platteland t. Luiperds; Vrystaat t. Valke; Suidwestelike Distrikte t. Leeus; Blou Bulle t. Grens




