SuperSport Schools Plus

Charlies pluk Arende se vere in Strand

By Willem Louw , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2024-04-08 Tags: , , ,

FOTO: Monya du Plessis

Hoërskool Charlie Hofmeyr se eerstespan het die afgelope naweek momentum behou met nóg ‘n puik sege.

Die span van Ceres trek weer vanjaar aandag met hul opwindende spel en het dié spelpeil voortgesit om vir Hoërskool Strand met 27-10 te klop. Die twee spanne het verlede seisoen gelykop gespeel.

Beleef die wedstryd weer op SuperSport Schools – Registreer nouSkakel na die wedstryd

Die weersomstandighede het sake vir albei spanne moeilik gemaak om hul spelpatrone uit te voer, maar dit was die besoekers wat vinnigste by die toestande kon aanpas. Philip du Plessis, Charlies se drieëvraat op binnesenter, het vroeg eerste bloed getrek om tussen die pale te druk.

Die res van die eerste helfte was egter moeilik vir altwee spanne.

Die twee stutte van Ceres, Duran Shiba en Aaron Richter, het die veld vol gespeel en met hul kragtige dryfspel vir Charlie Hofmeyr op die voorvoet begin plaas.

Teen die einde van die eerste helfte het die besoekers ook meer balbesit geniet, maar klipharde verdediging deur, onder andere Wessel Cloete, Dewald Barnard en Chrismar Prinsloo, op Strand se doellyn, het die aanslag bly afweer.

Kort voor rustyd het Luan Giliomee ‘n vlymskerp teenaanval vanuit sy eie kwartgebied geloods wat die Strand-verdediging ontbloot het vir skrumskakel, Izah Vin van Wyk, om Charlies se tweede drie te druk.

In die doodsnikke van die eerste skof, het Strand-skrummie, Jayden Steenkamp, egter ook oorgeduik om sy span se rekening oop te maak en die rustydagterstand tot 5-14 te beperk.

Die tweede helfte was net so taai, met albei spanne wat alles in die stryd gewerp het om bresse te probeer slaan in die opponente se verdediging.

Ashraf Fanie het ‘n paar keer die bal met mening gedra vir Strand, maar niemand kon gedurende die eerste 22 minute na die omdraaislag enige gapings ontgin nie.

Met die wind agter hom, het Giliomee oplaas die telbord laat aanskuif met twee netjiese strafdoele.

Strand het weer teruggeslaan toe hul groot loskopstut, Wiehan Adams, oor die lyn kon bars, maar die span van Ceres het in die laaste vyf minute die sege beklink toe Zepinith Sass ore platgetrek het vir Charlie Hofmeyr se derde drie.

Volgende naweek pak Charlies vir Hoërskool Hopefield, voor hul eerste tuiswedstryd, op 20 April, wanneer Hoërskool Bredasdorp kom besoek aflê.

In Malmesbury het Hoërskool Swartland se losskakel, Carlo van der Merwe, sy span tot ‘n naelskraapse oorwinning van 26-24 gesool in ‘n klipharde kragmeting met Worcester Gimnasium.

Die Gimmies het vier drieë teenoor die twee van die tuisspan gedruk, met agsteman, Ryan Jacobs, wat twee keer agter die lyn gaan kuier het, en Luke Cupido en Wilfred Slingers wat ook gedruk het.

Van der Merwe het egter vier strafdoele oorgeklits om ‘n witwarm-Worcester Gim te pootjie.

Volgende naweek meet die Malmesbury-seuns vir Hoërskool Robertson aan, voor hulle die 20ste April in Upington kragte teen Hoërskool Duineveld.

Puntemakers:

Hoërskool Charlie Hofmeyr 27 (14) – Drieë: Philip du Plessis, Izah Vin van Vyk, Zepinith Sass. Doelskoppe: Luan Giliomee (3). Strafdoele: Giliomee (2). Hoërskool Strand 10 (5) – Drieë: Jayden Steenkamp, Wiehan Adams.

Hoërskool Swartland 26 – Drieë: Kailen Kotze, Liam Anthony. Doelskoppe: Carlo van der Merwe (2). Strafdoele: Van der Merwe (4). Worcester Gimnasium 24 – Drieë: Ryan Jacobs (2), Luke Cupido, Wilfred Slingers. Doelskoppe: Aiden Abrahams (2).

Ander tellings:

o. 19 – Strand II 28, Charlie Hofmeyr II 9; Strand III 32, Charlie Hofmeyr III 7; Swartland II 11, Worcester Gimnasium II 10; Worcester Gimnasium III 26, Swartland III 13; Swartland IV 25, Worcester Gimnasium IV 17.

o. 16 – Strand 17, Charlie Hofmeyr 5; Swartland 18, Worcester Gimnasium 7; Swartland B 20, Worcester Gimnasium B 0.

o. 15 – Strand 25, Charlie Hofmeyr 7; Strand B 24, Charlie Hofmeyr B 5; Worcester Gimnasium 19, Swartland 8; Worcester Gimnasium B 40, Swartland B 20.

o. 14 – Strand 55, Charlie Hofmeyr 0; Strand B 59, Charlie Hofmeyr B 0; Swartland 18, Worcester Gimnasium 17; Worcester Gimnasium B 31, Swartland B 10; Wesbank A 38, Swartland C 19.

Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.