SuperSport Schools Plus

Charlie Hofmeyr stoomroller die kompetisie op Riversdal


Charlie Hofmeyr 1ste Span (Foto verskaf)

Nadat donderweer aanvanklik die laaste paar wedstryde op dag twee van die Klein Karoo Saadproduksie-rugbyweek vertraag het, was dit weer die span van Hoërskool Charlie Hofmeyr wat uitgeblink het op die plaas in Riversdal.

Hoërskool Merensky het op die eerste dag aandag getrek met die grootste oorwinning van die dag, maar hulle het gesukkel om dieselfde ritme teen die manne van Ceres te handhaaf.

Charlies het die Tzaneeners met 24-7 afgestof, danksy drieë deur Izak Vin van Wyk, Philip du Plessis en Luan Giliomee.

Giliomee se visier was ook weer ingestel om al drie drieë te verdoel en met ‘n strafdoel te slaag, terwyl Merensky eers in die tweede helfte, met ‘n drie deur senter, Ulrich Maré, hul rekening kon oopmaak.

Charlie Hofmeyr se laaste twee seges het vir hulle ‘n plek in Maandag se hoofwedstryd verseker, waar hulle sal kragte meet met die span van Hoërskool Brackenfell, wat ook nog onoorwonne is hierdie naweek.

Die gasheeer, Hoër Landbouskool Oakdale, se verteenwoordigende vyftiental het nóg ‘n indrukwekkende oorwinning behaal, wat daarop dui dat rugby by Oakdale kerngesond is.

Oakdale se eerstespan, wat die naweek in Pretoria by die Noord/Suid-toernooi in aksie is, het Vrydag ‘n stelling gemaak deur vir Hoërskool Garsfontein met 23-17 te klop. Die feit dat hulle vyftiental ook nog onoorwonne is by hul tuistoernooi, spreek boekdele oor die skool se rugbydiepte .

Hoërskool Middelburg kon vir die tweede agtereenvolgende wedstryd slegs 10 punte aanteken, maar hierdie keer was dit genoeg vir ‘n oorwinning met drie punte (10-7) oor Hugenote Hoërskool, Wellington.

Hugenote se enkele drie, deur Hugo Steenkamp, was genoeg om vir hulle ‘n voorsprong te bied voor halftyd, maar hulle kon na die breuk nie weer punte aanteken nie terwyl die Middies net genoeg skietgoed gehad het om hul telling verby te steek, danksy Matthew Abbey se geoefende skopskoen.

Potchefstroom Gimnasium en Hoërskool Bredasdorp het albei spiere gebult in wegholseges, altwee met 43-10, oor onderskeidelik Langenhoven Gimnasium en Westering High School.

David Ndala van Potch Gim het ‘n tweekuns teen die span van Oudtshoorn behaal, terwyl Albert Lambrecht dieselfde vermag het vir Bredasdorp teen Westering.

Hoërskool Upington het Donderdag net-net verloor teen die Potch Gimmies, maar goed gedoen deur daardie terugslag agter hulle te sit om vir Hoërskool Vryburg Saterdag in ‘n riller te uitoorlê met 22-19. ‘n Strafdoel deur Hercules Hudson was al wat die twee spanne kon skei.

Maandag pak die Middies en Uppies mekaar in hul laaste wedstryd by die spogbyeenkoms.

Bepalings vir Dag Drie, 25 Maart:

De Eike-veld: 08:00 – Volkskool Graaff-Reinet t. Die Anker; 09:10 – Lichtenburg t. Merensky; 10:20 – Oakdale XV t. Robertson; 11:30 – Potch Gimnasium t. Swartland; 12:40 – Brackenfell t. Charlie Hofmeyr.

Populiersbos-veld: 08:00 – Oosterlig t. Bredasdorp; 09:10 – Pietersburg t. Hugenote; 10:20 – Hoërskool Middelburg t. Upington; 11:30 – Strand t. Kempton Park.

De Tuine-veld: 08:00 – Vryburg t. Langenhoven Gimnasium; 09:10 – Sentraal t. Overberg; 10:20 – Augsburg t. Hermanus.

De Boord-veld: 08:00 – Westering t. Montagu; 09:10 – Parel Vallei t. Zwartkop; 10:20 – Wagpos t. Labori.

Puntemakers, Dag Twee, 23 Maart:

Hoërskool Charlie Hofmeyr 24 (14) – Drieë: Izak Vin van Wyk, Philip du Plessis, Luan Giliomee. Doelskoppe: Giliomee (3). Strafdoel: Giliomee. Hoërskool Merensky 7 (0) – Drie: Ulrich Maré. Doelskop: Byron Hendricks.

Oakdale XV 24 (14) – Onbekend. Hoërskool Overberg 3 (3) – Strafdoel: Favian Arendse.

Hoërskool Middelburg 10 (0) – Drie: CW Hanekom. Doelskop: Matthew Abbey. Strafdoel: Abbey. Hugenote Hoërskool 7 (7) – Drie: Hugo Steenkamp. Doelskop: Lian Wiid.

Potchefstroom Gimnasium 43 (21) – Drieë: David Ndala (2), Tobias van Dyk, Jaap van der Westhuizen, Jhanco de Beer, Jean Groenewald. Doelskoppe: De Beer (6). Langenhoven Gimnasium 10 (5) – Drieë: Jayden Arends, Stephane du Plessis.

Hoërskool Kempton Park 23 (10) – Drieë: Joshua Meyer, Stian de Villiers. Doelskoppe: Tiaan Delport (2). Strafdoele: Delport (3). Hoërskool Swartland 18 (15) – Drieë: Kaylen Kotze, Tyrese Parlow. Doelsop: Carlo van der Merwe. Strafdoele: Van der Merwe (2).

Hoërskool Lichtenburg 19 (7) – Onbekend. Hoërskool Strand 18 (10) – Drieë: Sherwin April, Uwen Januarie. Doelskop: Darren Dramat. Strafdoele: Dramat, Jayden Steenkamp.

Hoërskool Upington 22 (10) – Drieë: Roelof Slabbert, Jade Coetzee, Sylvester Hoffman. Doelskoppe: Hercules Hudson (2). Strafdoel: Hudson. Hoërskool Vryburg 19 (19) – Drieë: Jordan Rathepe, Tefo Sejake, Kenan Joseph. Doelskoppe: Jayden Starke (2). Strafdoel: Starke.

Hoërskool Bredasdorp 43 (24) – Drieë: Albert Lambrecht (2), Miquyel Johnson, Kyle Willeman, Nolez Sedras, Markus de Villiers, Naide April. Doelskoppe: Willeman (3), Fortune Goni. Westering High School 10 (3) – Drie: Lusanele Mbenga. Doelskop: Lemuel Kramer. Strafdoel: Kramer.

Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.