SuperSport Schools Plus

Centurion skok EG Jansen vir plek in Virsekerbeker halfeind

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2017-08-13 Tags: , , , , , , , ,

NewsGEathanWentzelDit was ‘n geskiedkundige dag vir die Hoërskool Centurion met sy eerste rugbyspan wat vir die grootste opskudding gister gesorg het deur EG Jansen van Boksburg met 33-26 in die kwarteindronde van die Virsekerbeker vir Makroskole uit te skakel.

Centurion se eerstespan het hiermee vir die eerste keer in die skool se geskiedenis daarin geslaag om tot die halfeindronde van die oudste skolerugby-kompetisie in Suid-Afrika deur te dring. Die Virsekerbeker het voorheen as die Administrateursbeker en Beeldtrofee bekend gestaan.

Centurion se groot held was sy losskakel, Eathan Wentzel, wat met sy skopskoen spel dikteer het. Hy het ook met sy stelskopwerk die telbord aan die rol gehou.

Centurion is in 1967 gestig as die Hoërskool Lyttleton en het ook later as Verwoerdburg bekend gestaan.

Wentzel kan wel vandag elk van sy span se pak voorspelers ‘n klop op die skouer gee. Dit was hulle wat met hul inklimspel gehalte balbesit aan hom verskaf het.

Die Woeries se flank en kaptein, Lian du Toit, het sy span voorlangs aangevuur.

EG Jansen se span wat daarvoor bekend is dat hy oor ‘n fisieke agttal beskik moes voorlangs ‘n reuse aanslag trotseer.

Vir die Jansies het sy plaasvervanger-flank, Jonathan O’Neill, goed vertoon. Die Jansies was verlede jaar die naaswenner en het sonder twyfel as die gunsteling op die veld gedraf.

Centurion sal volgende Saterdag na Mbombela moet reis om Hoërskool Nelspruit die stryd in die halfeindronde aan te sê. Nelspruit se Rhinos het Menlopark met 36-0 behoorlik laat les opsê in hulle kwarteindstryd.

Die verdedigende kampioen, Garsfontein, moes hard werk om Kempton Park met 37-27 in nog ‘n kwarteindstryd te klop. Garsies se haker, Stephen Billings, was woelig voorlangs. Kempies het nooit gaan lê nie en heeltyd vir Garsfontein op sy tone gehou.

In Middelburg moes Monument self sweet om HTS Middelburg met 19-13 te klop. Monnas en Garsfontein sal mekaar volgende Saterdag in die halfeindronde ontmoet.

Dit was ‘n klipharde wedstryd en Monnas se senter Luke Rossouw asook die Rooi Bulle se vleuel André van der Merwe is na ‘n onderonsie met rooikaarte van die veld gejaag.

In die Virsekerbeker se Grootskole-afdeling is dit duidelik dat Helpmekaar en Transvalia nie sommer vanjaar gestuit sal word nie. Helpies se buitesenter, Jeremy Randell, het sy terugkeer met ‘n driekuns aan drieë in sy span se oorwinning van 45-10 oor Dr. Malan van Meyerton gevier.

Helpies sal nou in die halfeindronde teen Oos-Moot te staan kom. Oos-Moot het in ‘n senutergende kragmeting op sy tuisveld met 37-33 oor Frikkie Meyer van Thabazimbi geseëvier.

Transvalia het nie veel probleme ondervind om Dinamika met 64-0 kaf te draf nie. Transvalia sal in die ander halfeindstryd vir Potchefstroom Gimnasium pak.

Potch Gimmies het ‘n goeie sege van 29-25 oor Secunda weg van die huis behaal.

In die Middelskole-afdeling het twee van die vroeë gunstelinge, Schweizer-Reneke en Zeerust, in die stof gebyt. Zeerust het sy rieme met 32-29 teen Belvedere styfgeloop, terwyl Schweizer-Reneke met 33-18 teen Steelcrest vasgeval het.

Die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria moes veel harder as die afgelope paar jaar werk om met 36-20 oor Pretoria Boys’ High in die oudste interskole in Pretoria koning te kraai. Affies het tydens die vorige twee kragmetings tussen die skole elke keer rekordseges behaal.

Louis Botha is die Vrystaatse A-liga kampioen na hy Jim Fouché met 35-21 in die eindstryd verslaan het. Louis Botha het teen rustyd reeds ‘n gerieflike voorsprong van 28-0 opgebou.

In die Vrystaatse B-liga het St Andrew vir Brandfort met 40-21 geklop om sy plek in die Kovsiestreek-kompetisie se Irawa-liga te bespreek.

Grey-kollege sal die Vrystaat in die Shimla-liga verteenwoordig. Die span sal op sy tuisveld teen Diamantveld te staan kom. Grey het Glenwood met 83-10 in die Rosestad verniel.

Noord-Kaap sal in die ander halfeindronde van die Shimla-liga teen die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad te staan kom.
AHS Kroonstad oftewel Rooiskool het met 22-elk gelykop teen Witteberg van Bethlehem in die Griffon-eindstryd gespeel. Witteberg kon egter nie nader aan die titel kom as wat hy gister was nie.

Rooiskool het die trofee omhoog gehou na albei spanne drie drieë in die eindstryd gedruk het en albei ook met 30 ligapunte na die uitklopfase gespog het.

Rooiskool is toe as gevolg van die volgende kriteria wat die uitslag van die liga-wedstryd tussen die twee spanne as kampioen gekroon. Hy het die wedstryd met 17-7 gewen.

Selborne College het sy 125ste kragmeting teen Dale College met 33-25 in hul jaarlikse Classic Clash gewen. Selborne sal belangrike selfvertroue na ‘n moeilike tyd uit die sege voor sy laaste kragmeting van die seisoen teen Grey High put.

In die Wes-Kaap was Paul Roos Gimnasium met 33-24 oor Boland Landbou baas, terwyl Outeniqua met 88-17 oor Durbanville baas was. Die Kwaggas se losskakel, James-Henry Mollentze, het 33 van sy span se punte met ‘n driekuns aan drieë en nege doelskoppe aangeteken.

Stellenberg is na gister ook sonder twyfel die voorste Premier B-liga skool na hy Brackenfell met 41-11 kaf gedraf het.

Al die uitslae: 

NOORDVAAL

Vriendskaplik: Affies 36, Pretoria Boys’ High 20; Jeppe 20, Parktown Boys’ High 18.

VIRSEKERBEKER KWARTEINDRONDE

Makroskole: Monument 19, HTS Middelburg 13; Centurion 33, EG Jansen 26; Nelspruit 36, Menlopark 0; Garsfontein 37, Kempton Park 27.

Grootskole: Potchefstroom Gimnasium 29, Secunda 25; Oos-Moot 37, Frikkie Meyer 33; Transvalia 64, Dinamika 0; Helpmekaar 45, Dr. Malan 10.

Mediumskole: Hoogenhout 32, Bergsig Akademie 29; Bekker 21, Stoffberg 5; Brandwag (Benoni) 38, Trinityhouse 34; Die Wilgers 15, Hans Strijdom 13.

Middelskole: Frans du Toit 40, Cullinan 13; Belvedere 32, Zeerust 29; Steelcrest 33, Schweizer-Reneke 18; Allen Glen 27, Parys 26.

Kleinskole: Curro Heuwelkruin 60, Sannieshof 0; Curro Roodeplaat 22, Hendrina 15.

VRYSTAAT/GRIEKWAS

Louis Botha 35, Jim Fouché 21; AHS Kroonstad 22, Witteberg 22; Grey-kollege 83, Glenwood 10; Hoopstad 42, Bultfontein 10; Riebeeckstad 36, Ficksburg 13; St. Andrew 40, Brandfort 21.

OOS-KAAP/KWAZULU-NATAL

Selborne College 33, Dale College 25; Brandwag (Uitenhage) 36, Nico Malan 13; Queen’s College 31, Hoërskool Grens 10; Graeme College 29, Muir College 3.

WES-KAAP

Paul Roos Gimnasium 33, Boland Landbou 24; Outeniqua 88, Durbanville 17; Stellenberg 41, Brackenfell 11; Rondebosch Boys’ High 25, Wynberg Boys’ High 16; Bishops 15, SACS 12; Montagu 17, Charlie Hofmeyr 11; Hugenote 74, Labori 10; Hoërskool Bellville 96, Tygerberg-klub 0; Dirkie Uys 22, Vredendal 22; Hermanus 27, Strand 5; Bredasdorp 34, Swellendam 13; DF Malan 41, Kasselsvlei 9; Tygerberg 26, De Kuilen 5; Worcester Gimnasium 25, Vredenburg 8; Table View 42, President 26; Punt 28, Despatch 10; HTS Drostdy 37, Diamantveld 28.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.