Burger beklink eerste Bowl-sege vir Ermelo


Hoërskool Ermelo se oopkantflank, Duan Burger, het met slegs 90 sekondes oor op die horlosie deurgebreek om agter die doellyn van Hoërskool Eldoraigne te gaan kuier en ‘n naelbytsege van 32-29 te beklink.
Herleef al die Bowl-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Dit was ‘n welverdiende oorwinning vir die Erries, wat oor die laaste paar rondes van die SDC Noordvaal Cup se Bowl-afdeling hard aan die deur geklop het. Burger se uitklophou het aan hulle hul eerste sege as nuweling in die Bowl besorg.
Dit was van meet af aan duidelik dat die die skare in Ermelo vir die volle duur van die kragmeting op die punte van hul stoele vasgenael sou bly. Hoewel die tuisspan teen rustyd met 15-12 voorgeloop het, was dit nog nie naastenby ‘n uitgemaakte saak wie sou wen nie.
Om die waarheid te sê, die tweede 35 minute het ‘n allemintige wipplankstryd afgegee met die spanne wat soos wafferse boksers houe uitgedeel het. Die Erries het gedoen wat hulle die beste doen deur die bal soveel as moontlik lug te gee, en dit het by twee geleenthede die Eldos se verdediging onkant betrap vir heelagter, WJ Pretorius, en linkervleuel, Thabo Mokwena, om elk ‘n drie te druk.
Die Drake het in die tweede skof ook hul spelpatroon aangepas en, nes die Erries, die bal begin rondgooi. Dit het bykans onmiddelik vrugte afgewerp met slot, Esdee Kotze, wat vanaf ‘n goed uitgewerkte lynstaanbeweging deurgebars het vir ‘n drie. Losskakel en kaptein, Darren Bruwer, se balverspreiding was ook uit die boonste rakke.
Dit kon die Erries, met die tuisskare agter hulle, egter nie stuit nie. In die aanloop tot Burger se wendrie, was die tuisspan genadeloos op die aanval en die volgehoue druk het uiteindelik op ekstase vir Erries en hul ondersteunders uitgeloop.
Puntemakers:
Hoërskool Ermelo 32 (15) – Drieë: Duan Burger, Francois Homan, WJ Pretorius, Thabo Mokwena, Noaha Goslin. Doelskoppe: WJ Pretorius (2). Strafdoel: Pretorius. Eldoraigne 29 (12) – Drieë: Hugo Theron, Kyle de Bruin, Esdee Kotze, Kevin Earle, Hanno Jacobs. Doelskoppe: Darren Bruwer (2).
Ander spanne:
o.16: Eldoraigne 49, Ermelo 12.
o.15: Ermelo 20, Eldoraigne 0.
o.14: Ermelo 39, Eldoraigne 12.

Click here for everything you need to know about the SDC Noordvaal Cup




