Briljante Behrens goed op dreef vir Klofies
Divan Behrens se derde agtereenvolgende telling van meer as 50 lopies het aan die Hoërskool Waterkloof sy derde oorwinning in vanjaar se Finsbury-reeks besorg.
Behrens se 76 lopies teen Menlopark kom na bydraes van 75 en 101 in sy vorige twee beurte teen onderskeidelik Hoërskool Rustenburg en Centurion. Dit plaas hom in ‘n stewige posisie as een van die kompetisie se voorste lopiemakers.
Marcus Bakker, ook lekker op dreef, het ondernemend gekolf om sy tweede vyftigtal in vanjaar se reeks te behaal.
Verdere bydraes deur Riley Miller (32) en die kaptein en paaltjiewagter, Beukes van den Berg (28), het verseker dat die Klofies ‘n goeie telling van 266 op ‘n oneweredige blad kon aanteken.
Menlopark se boulers het hulself, teen ‘n sterk Klofie-kolflys, nietemin puik van hul taak gekwyt.
Die span se twee draaiers, GN van Zyl (2/34) en Gerhard Engelbrecht (2/51), was die span se uitblinkers met vier paaltjies tussen die twee van hulle.
Dian van Zyl se pragbeurt van 84 lopies, vanaf 108 aflewerings, was uit die boonste rakke. Die voorslagkolwer se beurt, saam met James Bronkhorst se bydrae van 39 lopies, het die span in ‘n uiters gunstige posisie geplaas.
Die Klofie-boulers het hulle egter nie daardeur laat onderkry nie. Jaydon Blom het na ‘n strawwe begin met die bal sy ritme gevind en vyf kolwers terug paviljoen toe gestuur het. Hy het 46 lopies afgestaan.
Jacques van Niekerk was die Klofies se goedkoopste bouler. Die aanvangsbouler was uit die staanspoor in die kol, en sy knaende lyn en lengte boulwerk het vir hom vier paaltjies vir slegs 16 lopies in die sak gebring.
Wian Ruthven, wat in sy honderste wedstryd vir die Klofies gespeel het, het sy kant gebring in die veld. Die aanvangskolwer was genadeloos met enigiets wat deur die lug na sy kant toe gevlieg het. Ruthven het ‘n indrukwekkende vyf vangskote deur die loop van die Parkies se kolfbeurt benut.
Potchefstroom Volkskool het Hoërskool Centurion ‘n behoorlike krieketles geleer. Die span van Noordwes se kolwers was op hul stukke in Centurion se uitstekende kolftoestande.
Sy aanvangskolwer Diaan van der Merwe se pragbeurt van 112 lopies was sy span se voorste kolwer. Louis van Wyk (83) het homself ook goed van sy taak gekwyt, terwyl Ruan Smit in die middelorde verdere ondersteuning met ‘n bydrae van 52 lopies gebied het.
Die Woeries se kaptein, Charl Prinsloo, het van voor met ‘n waardevolle beurt van 69 lopies gelei. Dit was ook die tuisspan se beste vertoning met die kolf. Judah Phillips (39) het ook hard probeer om sy span verby die Volkies se reusetelling van 334 te kry.
Dian Liebenberg was egter nie van plan om dit maklik te maak vir die Woerie-kolwers nie. Liebenberg het uitgeblink met ‘n merkwaardige boulskof van vyf paaltjies vir 31 lopies. Devan Oberholzer (2/27) het die nodige ondersteuning gebied om te verseker dat Volkies met ‘n allemintige 171 lopies as oorwinnaars uit die stryd tree.
Beknopte telkaarte:
Waterkloof 266/9 (Divan Behrens 76, Marcus Bakker 51, Riley Miller 32, Beukes van den Berg 28, Alex Volschenk 21; GN van Zyl 2/34, Gerhard Engelbrecht 2/51); Menlopark 218 (Dian van Zyl 84, James Bronkhorst 39; Jayden Blom 5/46, Jacques van Niekerk 4/16). Waterkloof wen met 48 lopies.
Potchefstroom Volkskool 334/5 (Diaan van der Merwe 112, Louis van Wyk 83, Ruan Smith 52, Berno de Klerk 35, Attie Liebenberg 28; Morne Prinsloo 2/47); Hoërskool Centurion 163 (Charl Prinsloo 69, Judah Phillips 36; Dian Liebenberg 5/31, Devan Oberholzer 2/27). Potchefstroom Volkskool wen met 171 lopies.