SuperSport Schools Plus

Brandfort-duo saai amok teen Sand du Plessis

By Willem Louw , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2024-04-28 Tags: , , , , , ,

FOTO: Ri-Mari van Heerden

Greyven Dempsey en Xander van Heerden het gesamentlik 10 drieë vir SPS Brandfort ingeryg in dié span se wegholsege van 62-8 oor Sand du Plessis op Pagepark.

Dempsey, die groot agsteman, het ses keer agter die doellyn gaan kuier. In Brandfort se drie voorafgande wedstryde het hy ook 10 drieë aangeteken en daar blyk geen keer aan die Brandfort-breker te wees nie.

Van Heerden (haker) het self vier drieë gedruk om tot Sand du Plessis se verdriet by te dra, terwyl losskakel, Amolang Maloisane, 12 punte met die stewel bygevoeg het.

Puik vertonings deur die kaptein en binnesenter, Franco de Klerk, asook Pieter Bezuidenhout en MJ Wolmarans, het verder gehelp om die grondslag te lê vir Brandfort se reuse oorwinning.

Die besoekers se binnesenter, Keanu Rafferty, kon darem daarin slaag om die verdediging ‘n enkele keer uit te oorlê, met Zander du Toit wat ook met ‘n strafdoel geslaag het, maar die Bloemfonteinse span sal taamlike selfondersoek moet doen alvorens hulle eerskomende Dinsdag vir Hoërskool Bloemfontein die stryd aansê.

Die span van Winnie Mandela is eers weer volgende naweek in aksie, teen President Steyn.

Malwethu Magidela, Zastron se binnesenter, was ewe giftig in sy span se kragmeting met Hoërskool Bloemfontein, met sy driekuns wat grootliks bygedra het tot ‘n sege van 40-19. Zastron se dinamiese heelagter, Lechabile Leballo, het ook 15 punte met ‘n drie en vyf doelskoppe aangeteken.

Volgende naweek wag daar ‘n reuse stryd wanneer Zastron vir die Landbouskool Hendrik Potgieter in Reddersburg aandurf.

Die Reddersburg seuns het Saterdag hul stempel afgedruk teen Bloemfontein-Suid om met 53-0 te seëvier. Tumi Pholoane het van die bank af twee van sy span se nege drieë gedruk.

Vroeër in die week het St. Andrew’s hul indrukwekkende begin tot die seisoen voortgesit om vir Heatherdale met 52-0 te verslaan. Saints het agt drieë opgestapel om hul aanhangers te vermaak en verdere momentum te bou, nadat hulle vir Hoërskool Bloemfontein verlede naweek in hul eerste liga-bepaling kon kasty.

Puntemakers

SPS Brandfort 62 (33) – Drieë: Greyven Dempsey (6), Xander van Heerden (4). Doelskoppe: Amolang Maloisane (6). Sand du Plessis 8 (5) – Drie: Keanu Rafferty. Strafdoel: Zander du Toit.

Zastron 40 (19) – Drieë: Mawethu Magidela (3), Lechabile Leballo, Jaco Coetzee, Jacques-Philip Franzsen. Doelskoppe: Leballo (5). Hoërskool Bloemfontein 19 (5).

Landbouskool Hendrik Potgieter (Reddersburg) 53 – Drieë: Tumi Pholoane (2), Damian Viljoen, Justin Williams, Denver Jacobs, Bin Laden Macholo, JW Mortlock, Janco Roberts, Boitshepo Nthipe. Doelskoppe: Sterling Batties (4). Bloemfontein-Suid 0.

St. Andrews School 52 – Drieë: Matthew Fletcher, Alex Eliades, Harry Marangellis, Olin Hirwa, Nathan Gouws, Tumelo Lebepe, Kamogelo Leshupi, Hloni Mkwhane. Doelskoppe: Naude Botha (6), Mlungisi Lepesa. Heatherdale 0.

 

Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.