Botes draai web om Pietersburg kolwers
Declan Botes se uitstekende boulsyfers van vyf paaltjies vir 50 lopies het beteken dat Marais Viljoen se telling van 263 meer as genoeg was. Die wegbreekbouler se heldedade het die Hoërskool Pietersburg tot slegs 114 beperk.
Die span van Alberton het sodoende hul rekening met ‘n oortuigende oorwinning van 149 lopies oopgemaak. Botes was egter nie alleenlik verantwoordelik vir die sege nie.
Adullah Tadwala (3/10) en Nathan Coleske (2/28) het elkeen ook waardevolle paaltjies ingepalm.
Jaden Govender was uitstekend met die kolf. Die aanvangskolwer het sy vermoë behoorlik tentoongestel en was die voorste lopievraat met ‘n telling van 67.
Tiaan Khun (52, 52b) het ook ‘n vyftigtal behaal, terwyl Nathan Coleske (26) ook met die kolf uitgestaan het.
Vir die Pieties was dit ‘n lang dag in die veld. Slegs Hanno van Zyl (3/32) en Nicholaas Oerlemans (2/36) kon enige indruk maak met die bal in die hand.
Stephan Swanepoel was die uitblinker met die kolf. Die voorslagkolwer se beurt van 66 lopies was die meeste aan die kant van die Pieties. Philip Weterman (23) het goeie ondersteuning gebied, maar daar was ongelukkig niemand anders wat dit kon opvolg nie.
Janco van Heerden het sy Finbury-toernooi op goeie dreef begin. Sy 81 lopies vroeg op die kolflys en drie paaltjies vir slegs 22 lopies was genoeg om Hoërskool Lichtenburg stert tussen die bene huis toe te stuur.
Saam met van Heerden het Maarten Nortje (62) ook uitgeblink met die kolf in die hand. Met die bal was dit Xander Senekal (2/2) en Jonathan Wiseman (2/30) wat goeie ondersteuning gebied het.
Ona Senekwane was die voorste Liggie-bouler met goeie boulsyfers van drie paaltjies vir 53 lopies. Sy mede boulers het wel later in die beurt hard gespook om ‘n goeie terugvegpoging af te rond.
Dit was egter net Lethabo Memani (30, 62b) wat gelyk het of hy enige antwoorde op die vrae van die Midstream boulers gehad het. Luan Snyman (22) en Delvaughn Dyers (21) het tevergeefs probeer en die span van Lichtenburg is vir slegs 142 uitgeboender.
Hoërskool Zwartkop het sy kompetisie met ‘n oortuigende oorwinning teen Hoërskool Ben Vorster afgeskop.
Nicholaas Conradie het die wind uit die Tzaneeners se seile gehaal met ‘n pragbeurt van 94 lopies. Wihan Gelderblom (57) het hom goed bygestaan met ‘n vyftigtal van sy eie. Dit het Zwartkop se telling na 239 opjegaag.
Nhlalala Malungana was die voosrste Vossie-bouler met syfers van 3/36.
Die Zwartkop-boulers was egter in ‘n verwoestende bui. Die Vossies kon slegs 44 lopies behaal voor die laaste kolwer pawiljoen toe gestuur is. Wynand Frylinck (2/2) was grotendeels verantwoordelik vir die Vossies se ondergang. Hy het egter goeie ondersteuning in Rowan Mclaren (2/13) en Zandre van Staden (2/15) gevind.
Die trio se onderskeie boulskofte het, saam met ‘n goeie vertoning met die kolf, die span van Tzaneen ‘n behoorlike loesing van 195 lopies toegedien.
Beknopte telkaarte:
Marais Viljoen: 263 (Jaden Govender 67, Tiaan Khun 52, Nathan Coleske 26; Hanno van Zyl 3/32, Nicolaas Oerlemans 2/36); Hoërskool Pietersburg: 114 (Stephan Swanepoel 66, Philip Weterman 23; Declan Botes 5/50, Abdullah Tandwala 3/10, Nathan Coleske 2/28). Marais Viljoen wen met 149 lopies.
Midstream College: 285/9 (Janco van Heerden 81, Maarten Nortje 62, Dian die Villiers 27; Ona Senekwane 3/53, Lethabo Memani 2/43, Luan Snyman 2/46, Delvaughn Dyers 2/60); Hoërskool Lichtenburg: 142 (Lethabo Memani 30, Luan Snyman 22, Delvaughn Dyers 21; Janco van Heerden 3/22, Xander Senekal 2/2, Jonathan Wiseman 2/30). Midstream College wen met 143 lopies.
Hoërskool Zwartkop: 239 (Nicholaas Conradie 94, Wihan Gelderblom 57, Vincent Matraiotti 21; Nhlalala Malungana 3/36, Anton Lourens 3/50, Hlulani Mhlongo 2/32); Hoërskool Ben Vorster: 44/9 (Nhlalala Malungana 17; Wynand Frylinck 2/3, Rowan Mclaren 2/13, Zandre van Staden 2/15). Zwartkop wen met 195 lopies.




