Bosch weer die gróót verskil in Potch-derby


Potchefstroom Gimnasium is, na straks die opwindendste plaaslike derby in jare, Saterdagmiddag vir die derde agtereenvolgende keer as die “Prinse” van Potch gekroon.
Lees al die nuutste Noordvaal Nuus op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die Gimmies moes nietemin hard werk om vanjaar se gevaarlike Potchefstroom Volkskool uiteindelik met 21-12 af te stof. Dit was boonop ‘n heel gepaste inwyding vir die nuutgedoopte Piet Malan-veld (A-veld).
Soos wat normaalweg met ‘n derby die geval is, het dit ‘n groot naam geverg om uit te staan. Vir die Gimmies was dit, vir die soveelste keer die afgelope paar seisoene, binnesenter en onderkaptein, Elrich Bosch. Bosch was eenvoudig briljant, met sy tweekuns aan drieë wat uiteindelik die verskil tussen die twee spanne beteken het.
Die Gimmies se kaptein, Reuel Potgieter, het self voorlangs gewoeker en die toon vir die res van die pak aangegee. Die kantman was verál van onskatbare waarde op die verdediging en het ook in die los en vastelos sy lyf op die spel geplaas.
Die Volkies was egter geensins te versmaai nie en, hoewel hulle hierdie slag vasgeval het, is ‘n herontmoeting met die Gimmies in die latere stadiums van die SDC Noordvaal Cup se Bowl-afdeling ‘n besliste moontlikheid aangesien dié twee spanne vroeg reeds na vore tree as van die sterkste aanspraakmakers op die titel.
Agterlangs het losskakel, Lorenzo Louw, sake netjies dikteer met sy visie en aanvoeling wat die Gimmies dikwels aan die raai gehad, terwyl regtervleuel, Lethabo Riet, weer in ‘n aanvallende bui was om een van Volkies se twee drieë te druk. Hy en buitesenter, Hennie Pretorius, het by meer as een geleentheid hul vaart tentoongestel om die Gimmies se verdedigers na grashalms te laat gryp.
Dit was egter nie genoeg om deur die tuisspan se uitmuntende verdediging in die laaste kwart te breek nie, en dus kon Gimmies vasbyt vir ‘n welverdiende sege.
Puntemakers:
Potchefstroom Gimnasium 21 (14) – Drieë: Elrich Bosch (2), MJ Viljoen. Doelskoppe: Zandré Da Silva. Potchefstroom Volkskool 12 (7) – Drieë: Lethabo Riet, Hennie Pretorius. Doelskop: Juhan Geldenhuys.
Ander spanne:
o.16: Potchefstroom Gimnasium 17, Potchefstroom Volkskool 17.
o.15: Potchefstroom Volkskool 24, Potchefstroom Gimnasium 7.
o.14: Potchefstroom Gimnasium 24, Potchefstroom Volkskool 15.