Bornman se 64 help Merensky om Wessies te pootjie
Daar is ‘n rede hoekom T20 krieket groot getalle toeskouers lok. Dit is omdat die verkorte weergawe altyd die moontlikheid vir ‘n span bied om enige van die ander spanne op ‘n gegewe dag te klop.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Dit is presies wat Merensky Landbou Akademie op die middag van Dag 3 by die Kovsie Smash-toernooi vermag het.
Om wedstryde, wat weens onspeelbare toestande op Dag 1 nie kon plaasvind nie, in te haal, moes die Plasies met die onoorwonne Hoërskool Wesvalia, oorweldigende gunstelinge om die kragmeting te wen, swaarde kruis. Dit was egter ál motivering wat die Plasies se voorslagkolwer, Rinaldo Bornman, nodig gehad het.
Bornman het ‘n puik boulvertoning deur die draaier, Cashan Jacobsz, opgevolg. Jacobsz het amok gesaai onder die sterk Wessie-kolflys om vier paaltjies vir net 13 lopies in drie beurte laat kantel.
Bornman, wat op nr. 3 kolf, moes reeds na die eerste bal van die Plasies se beurt, nadat Waldo Mouton in die stof gebyt het, die Wessies se boulaanslag trotseer. Dit het hom soos ‘n handskoen gepas.
Bornman het aanvanklik sy tyd geneem om sy voete te vind, maar spoedig losgetrek om sy beurt onoorwonne op 64, van 55 balle, af te sluit. Schalk Rossouw (26*) verdien ook ‘n klop op die skouer vir sy aandeel in die Plasies se sege met sewe paaltjies.
Goudveld se Louw Fouché (3/23) en Keagan Frankenfeld (53) het skitterend saamgespan om Hoërskool Kalahari se onoorwonne segetog te beëindig. Fouché het puik lyn en lengte gehandhaaf om die kolwers uit Kuruman tot net 110/9 in die toegelate 20 beurte te beperk.
Frankenfeld het dit meesterlik opgevolg met ‘n 50-tal wat die koel deur die kerk gejaag en ook ‘n oorwinning met sewe paaltjies verseker het. Die aanvangskolwer se beurt het van 43 aflewerings gekom en sewe viere en ‘n ses ingesluit.
Edrich Fulls (4/16) en Luke Venter (3/14) het die grondslag vir Oos-Moot se gemaklike oorwinning met 74 lopies oor Duineveld gelê en met hul dodelike boulwerk ‘n telling van 143/6 suksesvol verdedig. Elrich Visagie se onoorwonne beurt van 35 was die hoogtepunt van die Oosies se kolfbeurt.
Beknopte telkaarte:
Wesvalia 108/5 (Eduard Dreyer 38, Ethan Walker 21; Cashan Jacobsz 4/13); Merensky 112/3 (Rinaldo Bornman 64*, Schalk Rossouw 26*; Marneau Dreyer 2/9). Merensky wen met sewe paaltjies.
Kalahari 110/9 (Janko Noeth 24; Louw Fouché 3/23, Motsitsi Mototo 2/19); Goudveld 113/3 (Keagan Frankenfeld 53, Teagan Saayman 32; Janko Noeth 2/24). Goudveld wen met sewe paaltjies.
Oos-Moot 143/6 (Elrich Visagie 35*, Chrisjan van Staden 29, Danie Corbett 24; Xander O’Connell 3/21, Niekie Smit 2/16); Duineveld 69 (Niekie Smit; Edrich Fulls 4/16, Luke Venter 3/14, Anthony Schwan 2/19). Oos-Moot wen met 74 lopies.