Boishaai ‘n appeltjie met dié Bulle van Oakdale te skil
Die Hoër Jongenskool Paarl het vanjaar ‘n appeltjie met Oakdale Landbou te skil wanneer die twee eerstespanne mekaar om 13:00 op De Eike net buite Riversdal ontmoet. Al die wedstryde op die De Eike-veld word regstreeks op OakNet via DigiTV.co.za gebeeldsend.
Dié Bulle van Oakdale het verlede jaar ‘n roemryke sege van 47-29 oor Boishaai op Brugstraat in die Paarl behaal. Dit was die span van Riversdal se eerste sege oor Boishaai sedert 2002. In die span van 2002 was die voormalige Springbok Meyer Bosman asook oud-Puma Doppies le Roux albei nog in hul graad 11 jaar.
Oakdale se slot Corné Rahl het met ‘n paar stewige vertonings vir homself naam tydens die 56ste Cravenweek vir hoërskole in Bloemfontein gemaak. Die Suidwestelike Distrikte was sonder twyfel een van die beste spanne in aksie in die Rosestad.
Die Volstruisboere het met hul opwindende spel heelwat aanhangers bygekry. Rahl behoort danksy sy inklimspel ‘n sterk aanspraakmaker op ‘n plek in die die Suid-Afrikaanse Skole-span te wees. Nog ‘n sleutelspeler van Oakdale wat ook ‘n staatmaker op die Cravenweek was, is die binnesenter, Alwich van der Linde.
Boishaai kom met ‘n gedugte span in Riversdal aan. Dit is veral die twee haastige vleuels, Angelo Osch en Javier Farmer, wat deur Oakdale hokgeslaan moet word. Boonop word die span se middelveld deur die Westelike Provinsie se twee senters, Tyler Bocks en Quan Horn, beman. Die duo het ‘n sleutelrol gespeel in WP se verowering van die nie-amptelike titel as kampioen.
Bocks se naam behoort in die SA Skole-span uitgelees te word, wanneer die span bekend gemaak word. Die span se losskakel, Kian Meadon, was ook op sy stukke tydens die Cravenweek en behoort ook een van die nasionale spanne te haal. Meadon het vanjaar reeds 159 punte vir Boishaai se eerstespan opgestapel.
Voorlangs sal die agtsteman, Gideon van Wyk, fyn dopgehou moet word. Hy vind altyd ‘n manier om ‘n draai agter die doellyn te gaan maak. Hy het al 12 keer vanjaar die doellyn vir sy skoolspan oorgesteek. Hoewel die losskopstut, Rhynardt Rijnsburger, nie aanvanklik die Streeptruie se eerstekeuse stut vir die Cravenweek was nie, sal daar ver gesoek moet gaan word vir ‘n beter loskop wat tydens die week in aksie was.
Die spanne is:
Oakdale Landbou: 15 Janco Goosen, 14 Keaton Bush, 13 Creflo Witbooi, 12 Alwich van der Linde, 11 Elkan Willemse, 10 Hendrik Victor, 9 Nico Pietersen, 8 Gerbrandt Conradie, 7 Sybrand van Dyk, 6 Janus Ferreira, 5 Corné Rahl, 4 Gustav Smit, 3 Neil Francis, 2 Herman Otto, 1 Petri Steyn.
Hoër Jongenskool Paarl: 15 Jacques Rousseau, 14 Angelo Osch, 13 Quan Horn, 12 Tyler Bocks, 11 Javier Farmer, 10 Kian Meadon, 9 Wian van der Sandt, 8 Gideon van Wyk, 7 Eon van der Berg, 6 Stass Nel, 5 Niel Venter, 4 Evan Roode, 3 Sebastian Lombard, 2 Allister Williams, 1 Rhynardt Rijnsburger.
[powr-comments id=”d0b50f31_1562916658177″]





