SuperSport Schools News

Boishaai gereed vir feesvieringe tydens Wêreld-skolerugbyfees

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2018-04-01 Tags: ,

Boishaai150Die Hoër Jongenskool Paarl eet nie van die vloer af nie en sal dit tydens dié skool se Wêreld-skolerugbyfees beaam.

“Ek roep vir Boy Louw, hy sal my hoor. Ek vra vir Corné Krige, bly op my spoor. Ek gee vir Carel du Plessis, hy pypkan jou man. Ek het vir Gürthro Steenkamp ook, maak hy jou bang? Ek pass vir Frans Malherbe, kan jy hom vat? Na Mannetjies Roux toe, hy’s gans te glad,” só ‘n verwerking van Steve Hofmeyr se Blou Bul-lied kan heel gepas opsom waar Boishaai van sy motivering vir fees sal kry.

Dit sal kom van al die spelers wat oor die afgelope 150 jaar voor vanjaar se span die skool op die rugbyveld verteenwoordig het.
Boishaai sal dié trotse rugbygeskiedenis as motivering gebruik om sy onoorwonne status op Suid-Afrikaanse bodem sedert 2015 te verleng. Die span het sy laaste 51 wedstryde in Suid-Afrika gewen. Sy laaste nederlaag was in 2014 in die eindstryd van Die Burger-toernooi teen Marlow Landbou (10-11).

Die span sal ook wel op ‘n bietjie hulp van Grey-kollege van Bloemfontein staatmaak.

Boishaai se enigste nederlaag sedert die begin van 2015 was verlede jaar teen Christchruch Boys’ High (36-38) op sy toer deur Nieu-Seeland. Die gasheer sal ook in die hoofwedstryd van die week teen Christchurch Boys’ High kans kry om wraak te neem.
Die span van Christchurch kom Woensdag teen Grey te staan. As daar na die afgelope agt jaar se wedstryde van Grey by die Wildeklawer-toernooi gekyk word, is dit duidelik dat spanne wat op die eerste dag teen die span van die Rosestad speel so ietwat van hul fut vir die tweede dag verloor.

In 2011 het Paarl Gimnasium met Springbok-losskakel Handré Pollard in sy midde met 10-14 teen Grey die knie gebuig, net twee dae later ‘n rekordnederlaag van 6-59 teen die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria op die lyf te loop.

In 2012 was dit Waterkloof met Bok-senter Rohan Janse van Rensburg in sy geledere wat met 37-20 teen Grey die knie gebuig het. Klofies het minder vuur vir sy tweede wedstryd teen Paarl Gimnasium gehad en met 11-38 in die stof gebyt.

Garsfontein met die skitterende Embrose Papier op skrumskakel het in 2016 met 13-31 teen Grey op die eerste dag verloor. Die span moes toe op die tweede dag hard werk op Stellenberg net-net met 19-18 te troef.

Vir die eerste keer sedert die ontstaan van die Sanix-toernooi in 2000 sal nie al die voorste skolerugbyspanne van die wêreld vanjaar in Fukuoka, Japan saamtrek nie.

Van die tien spanne wat in die Paarl in aksie sal wees, is daar ses Sanix-titels tussen hulle. Hulle is Grey-kollege (2001), Boland Landbou (2002), Christchurch Boys’ High (2005, 2006), Glenwood 2008, 2016). Boishaai (2014), Monument (2006) en Hartpury College (2013) het ook al tot in die eindstryd gevorder.

Buiten die toernooi in Japan, sal dit die eerste rugbyfees vir skole van regoor die aardbol sedert 1998 wees. In 1998 het 12 van die wêreld se voorste skolespanne by Prince Edward in Harare, Zimbabwe vir ‘n “Wêreld-kampioenskap” bymekaar gekom.

Kelston Boys’ High van Nieu-Seeland het Monument van Krugersdorp met 36-0 in die eindstryd van die toernooi verslaan. Helpmekaar-kollege van Johannesburg het ook aan die kampioenskap deelgeneem.

Die rugby wat dié week in die Paarl gespeel gaan word beloof om ongetwyfeld ‘n fees te wees en behoort die kroon op Boishaai se 150ste bestaansjaarvieringe te span. Toeskouers sal gewis ‘n paar toekomstige Springbokke en All Blacks hier in aksie sien.

Die bepalings:

Dinsdag, 3 April – 14:30: Boland Landbou t. Napier Boys’ High (NS); 16:00: Outeniqua t St Ignatius (VSA); 17:30: Oakdale Landbou t. Namibiese XV-tal; 19:00: Monument t. Cavaliers Rugby (AUS).

Woensdag, 4 April 2018 – 11:30: Glenwood t. Italian All Stars; 13:00: Paarl Gimnasium t. Rhino Rugby (VSA); 14:30: Hilton College t. AP Dragons; 16:00: Affies t. Hartpury College (ENG); 17:30: HJS Paarl t. Jaquares (ARG); 19:00: Grey-kollege t. Christchurch Boys’ High (NS).

Vrydag, 6 April – 13:00: Oakdale Landbou vs St Ignatius (VSA); 14:30: Glenwood t. Namibiese XV-tal; 16:00: Outeniqua t. Italian All Stars; 17:30: Monument t. Napier Boys’ High (NS); 19:00: Boland Landbou t. Cavaliers Rugby (AUS).

Saterdag, 7 April – 11:45: Hilton College t. Rhino Rugby (VSA); 13:15: Paarl Gimnasium vs Jaquares (ARG); 14:45: Grey-kollege vs Hartpury College (ENG); 16:15: Affies vs AP Dragons; 17:45: HJS Paarl t. Christchurch Boys’ High.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.