Boishaai gebêre deur Kwaggas in George

Die Hoërskool Outeniqua se Kwaggas het gister weereens gewys dat hulle nie sommer op hul tuisveld onderskat kan word nie.
Die Kwaggas het die Hoër Jongenskool Paarl met 21-20 in George getroef om Boishaai se seisoen op ‘n negatiewe noot te laat eindig. Boishaai sal waarskynlik in die toekoms herbesin om na die interskole teen Paarl Gimnasium nog ‘n wedstryd te speel.
Dit neem egter niks weg van die Kwaggas se vertoning nie. Gewoonlik is dit die span van George se agterhoede wat ‘n groot rol in hul wedstrydplan speel.
Dié keer was dit egter die agttal met die agtsteman, Camden-Jay Schoeman, aan die spits wat die grondslag vir die sege gelê het. Die Kwaggas het met hul rolmaalbewegings vanaf die lynstane vir Boishaai probleme besorg.
Die agttal se kruiptrekker is hier aangevuur deur hul jokkie – die skrumskakel, Jamil Pretorius, wat nie skaam was om die manne met die plathand aan te hits doellyn toe nie.
Die wendrie is deur die voorryman Ruan Swart met nog vyf minute se speeltyd oor gedruk. Toe Cliffe Jacobs met die doelskop slaag was dit die eerste keer wat sy span die voortou geneem het.
Boishaai se afrigters sou altyd sukkel om na ‘n interskole-sege hul span te motiveer vir die wedstryd. Die span van die Paarl se flank, Divan Fuller, asook die heelagter, JC Mars, het egter meer as hul kant gebring.
In die Beker-kompetisie van die Noordvaal-trofee weet ons dat Monument en Garsfontein die twee halfeindstryde sal aanbied. Die laaste ronde wedstryd sal nog bepaal waarnatoe Noordheuwel en EG Jansen onderskeidelik vir die halfeindronde sal reis.
Monnas se Wit Bulle het op sy tuisveld vir Menlopark met 38-10 verslaan. Die span van Krugersdorp het vroeër in die week ook vir HTS Middelburg met 78-19 afgeslag.
Monnas se kaptein en flank, Xander Schoeman, was op sy stukke in die sege teen Menlopark.
Garsfontein het weer met ‘n uitstekende vertoning in die eerste helfte gesorg dat hy die keer vir EG Jansen van Boksburg met 43-15 verslaan het.
Die Bere het teen rustyd reeds ‘n voorsprong van 31-5 geniet. Die wenspan se binnesenter, Pieter Coetzer, asook die slot Christopher Sjöblom het blink vertonings opgedis. Vir EG verdien sy heelagter, David Twala, vermelding.
Garsies se SA Skole-heelagter, Michail Damon, het ‘n ernstige beenbesring tydens die kragmeting opgedoen. Hy sal homself daarom nie volgende week saam met die Suid-Afrikaanse o.18-span kan aansluit nie.
Waterkloof het ook Vrydag vir die Rooi Bulle van HTS Middelburg met 65-0 kaf gedraf. Die Klofies se agtsteman, Zander Thirion, het gesorg dat hy sy goeie seisoen op ‘n hoogtepunt afsluit deur ‘n lopie van amper 100m af te rond.
Die nuutgestigte Hoërskool Trio van Kroonstad sal in sy eerste sportseisoen ook die voorreg hê om in die Griffon-eindstryd te speel.
Trio het die verdedigende kampioen, Welkom Gimnasium, met 26-22 in die halfeindronde getroef. Dit was slegs Gimmies se tweede nederlaag in die Griffon-liga in sewe jaar.
Gimmies se laaste nederlaag was in die halfeindstryd van die liga teen die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad (Rooiskool) in 2017. Trio het sy onstaan te danke aan die samesmelting van die Rooiskool en Blouskool (Hoërskool Kroonstad) en word deur die voormalige Italiaanse kaptein, Quintin Geldenhuys, afgerig.
Trio se teenstander in die eindstryd sal Voortrekker van Bethlehem wees. Die Trekkers het sy aartsvyand, Witteberg, met 32-20 in die ander halfeindstryd verslaan.
Die twee spanne het verlede week in die eindstryd van die Wesgrow-liga met 17-elk gelykop gespeel. Die Trekkers sal dus heelwat beter na die sege voel.
In die Vrystaatse-liga sal Jim Fouché en Sentraal mekaar in die eindstryd pak. JF het vir Fichardtpark met 26-17 in die halfeinronde uitoorlé, terwyl die Tralies vir Landboudal met 30-19 in die ander halfeindstryd met die kous oor die kop huis toe gestuur het.
Affies het ‘n oortuigende sege van 55-19 oor Pretoria Boys’ High in die twee skole se tradisionele kragmeting behaal. Dit was die 117de ontmoeting tussen die twee skole se eerstespanne.
FOTO: Francois Boshoff
Hierdie artikel het oorspronklik in Rapport (07/08/2022) verskyn.
Al die uitslae:
NOORDVAAL
Afdeling 1
Beker: Monument 38, Menlopark 10; Garsfontein 43, EG Jansen 15; Waterkloof 65, HTS Middelburg 0; Helpmekaar 38, Marais Viljoen 25.
Plaat: Ben Vorster 31, Zwartkop 21; Hoërskool Middelburg 37, Transvalia 29.
Skild: Hoërskool Klerksdorp 17, Oos-Moot 13; Hugenote (Springs) 31, Eldoraigne 19; Ligbron Akademie 24, Jeugland 17; Heidelberg Volkskool 18, Lichtenburg 17.
Bowl: Hoërskool Pietersburg 30, Hoërskool Alberton 22; Potchefstroom Volkskool 53, Centurion 22; Die Anker 40, Wesvalia 24; Secunda 64, Dr. Malan 12.
Noordvaal-halfeindstryde
Afdeling 2: Midstream College 32, Piet Retief 17; Frikkie Meyer 28, Brandwag (Benoni) 10; Ellisras 36, Oosterlig 24; Merensky 45, Ermelo 5.
Afdeling 3: Die Wilgers 25, Bastion 20; Vryburg 51, Fochville 24; CR Swart 30 Frans du Toit 5.
Afdeling 4: Eric Louw 17, Carel de Wet 13; Warmbad 22, Bekker 17; Allen Glen 36, Steelcrest 14; Parys 36, Northern Academy 7.
Afdeling 5A: Magalies 25, Die Wilge 20; Roodepoort 13, Akasia 10.
Afdeling 5B: Ferdinand Postma 22, Maragon Olympus 7.
VRYSTAAT/GRIEKWAS
Vrystaat-halfeindstryde
A1: Jim Fouché 26, Fichardtpark 17; Sentraal 30, Landboudal 19.
B1: Sand du Plessis 28, Brandfort 26.
Griekwa-halfeindstryde
Mediumskole: Hartswater 36, Hoërskool Kathu 26; Douglas 24, Martin Oosthuizen 18.
Kleinskole: Curro Kathu 55, De Aar 15; Wildeklawer 36, Postmasburg 0.
Griffon-halfeindstryde: Hoërskool Trio 26, Welkom Gimnasium 22; Voortrekker 32, Witteberg 20.
VRIENDSKAPLIK
Affies 55, Pretoria Boys’ High 19; Maritzburg College 34, King Edward VII 30.
WES-KAAP/OOS-KAAP
Outeniqua 21, Hoër Jongenskool Paarl 20; Bishops 31, St. Andrew’s College 22; Brandwag (Uitenhage) 18, Nico Malan 12; Marlow Landbou 73, HTS Daniël Pienaar 6; Pearson 15, Despatch 0; Tygerberg 33, Swartland 24; Grey High School 29, Muir College 23; Selborne College 33, Dale College 13; Graeme College 22, Queen’s College 19.




