SuperSport Schools News

Boishaai en Klofies behaal seges op eerste dag van Noord/Suid-toernooi

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2022-03-25 Tags:

NewsG Waterkloof SkolerugbyDie Hoër Jongenskool Paarl het sy seisoen met ‘n gerieflike sege van 31-6 teen die Hoërskool Menlopark op die eerste dag van die NMI Toyota Menlyn Noord/Suid-toernooi in Pretoria afgeskop. 

Boishaai het teen rustyd ‘n voorsprong van 17-3 opgebou dankst ‘n strafdrie asook ‘n drie wat deur sy flank Divan Fuller afgerond is. Fuller was saam met sy span flankmaat, Matthew Fick, ysters voorlangs. 

Die loskopstut, Tian Vorster, het ook behoorlik in die los gewoel en ook op die verdediging ‘n paar manne hard in hul spore gestuit. 

Menlopark se flank Tiaan Engelbrecht was sy span se beste speler op die dag en het nooit moed opgegee nie.

Boishaai se losskakel, Thurlon Williams, asook die heelagter, Jean-Claude Mars, kan ook tevrede met stewige vertonings voel.

Waterkloof in die moeilikheid na die eerste helfte van sy wedstryd teen Welkom Gimnasium.

Die Klofies het egter in die tweede helfte met nuwe ywer en dalk ‘n paar harde woorde van die afrigters, Cobus van Dyk en Renier de Villiers, daarin geslaag om uiteindelik met 29-11 as oorwinnaars van die veld te stap. 

Die span van Welkom het teen rustyd ‘n voorsprong van 11-7 geniet. Dit kon wel ietwat slegter vir Klofies op die telbord gelyk het indien dit nie was dat sy loskopstut, Ruben Odendaal, in die laaste beweging van die helfte vir sy eerste drie oorgebars het nie. 

Dié drie het sy span se gemoedere net voor rustyd gelig en waarskynlik ‘n bietjie van Welkom Gimnasium se fut geblus. Klofies se agtsteman, Zander Thirion, het saam met Odendaal voorlangs die vuur aangesteek. 

Klofies het na Thirion se drie na 46 minute se speeltyd in die kragmeting vir die eerste keer met 14-11 die voortou geneem. 

Dit was egter die aanvallende spel van die heelagter, Reuven Ferreira, wat in die tweede helfte gesorg het dat sy span agterlangs al hoe meer gapings in die verloorspan se verdediging gevind het. 

Vir Gimmies het sy heelagter, Ronaldo Kiewiet, losskakel Naylen Goeda asook die skrumskakel, Connlin Theunissen, vertonings gelewer waaroor hul gelukkig kan voel. 

Puntemakers: 

Hoër Jongenskool Paarl 31 (17) – Drieë: Divan Fuller, Handré Nel, Matthew Fick, Strafdrie. Doelskoppe: Thurlon Williams (3). Strafdoel: Williams. Menlopark 6 (3) – Strafdoel: Marco Strydom (2).

Waterkloof 29 (7) – Drieë: Ruben Odendaal (2), Zander Thirion, Reuven Ferreira. Doelskoppe: Thorn Bester (3). Strafdoel: Bester. Welkom Gimnasium 11 (11) – Drie: Naylen Goeda. Strafdoele: Connlin Theunissen (2).

[powr-comments id=”56a27714_1648228154303″]

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.