SuperSport Schools Plus

SSS_logo_Cricket

Boishaai dra die krieket-kroon na Paarl-derby

By Willem Louw , in Cricket | Featured Cricket | News , at 2024-03-02 Tags: ,

PHOTO: EJ Langner

Die Paarl was Saterdag in rep en roer met die jaarlikse krieket-interskole tussen Paarl Gimnasium en Hoër Jongenskool Paarl.

Dian van der Westhuizen (50) en Christiaan Wege (42) het gewoeker met die wilgerlat om vir Boishaai tot ‘n klinkende sege te dryf.

Beleef die wedstryd weer op SuperSport Schools – Registreer nou Skakel na die wedstryd

Die Gimmies het die loot gewen en besluit om eerste te kolf, maar kort voor lank het Marco Cato die eerste deurbraak vir Boishaai bewerkstellig.

Cato het nog ‘n paaltjie laat kantel, voordat hy vir De Waal Vivier kon laat uithardloop om die teenstanders tot 33/3 te beperk.

Franco Boonzaier het mooi gekolf om 90 balle weg te sien en 32 lopies tot sy span se totaal by te dra, en het saam met Adriaan Louw (20) ‘n vennootskap van 39 lopies opgebou, voordat Daniel Lombaard vir Louw voor sy paaltjies betrap het.

Charles King het ‘n laaste gryntjie weerstand gebied om 31 lopies van 39 balle aan te teken, maar Gideon du Toit (3/22) het deur die res van sy span se kolwers gekerf om die Gimmies op 146 uit te boul in die 47ste beurt.

Louis Koen het die teenaanval vir Paarl Gimnasium op ‘n stewige noot begin deur ontslae te raak van twee Boishaai-kolwers.

Hoër Jongenskool Paarl (Foto verskaf)

Wege en Van der Westhuizen se vennootskap van 94 lopies het hul span egter spoedig binne trefafstand van die wentotaal gebring.

Met 13 grenshoue tussen die twee van hulle, het die twee vir Boishaai tot 108/2 gedryf, voordat Koch van Eyssen van Van der Westhuizen ontslae kon raak.

Liam Burger het verhoed dat Wege sy vyftigtal behaal, maar na nog ‘n blitsige 25 lopies deur JJ van der Sandt,  kon Gideon du Toit (7*) sy span tot oorwinning dryf.

Boishaai het slegs 29 beurte nodig gehad om Paarl Gim se telling in te haal en hul seisoen op ‘n uiters indrukwekkende noot af te sluit.

Beknopte telkaart:

Paarl Gimnasium: 146 (Franco Boonzaier 32, Charles King 31, Adriaan Louw 20; Gideon du Toit 3/22, Marco Cato 2/14, Daniel Lombaard 2/34). Hoër Jongenskool Paarl: 150/5 (Dian van der Westhuizen 50, Christiaan Wege 42, JJ van der Sandt 25, Liam Burger 2/16, Louis Koen 2/25). Boishaai wen met vyf paaltjies.

error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.