Boishaai boul Paul Roos op Brugstraat
Die Hoër Jongenskool Paarl het Saterdag hul besoekers uit Stellenbosch, Paul Roos Gimnasium, se tjank op die krieketveld afgetrap.
Beleef die wedstryd weer op SuperSport Schools – Registreer nou – Skakel na die wedstryd
Marco Cato (3/23) en die Boishaai-boulers het ligte werk gemaak daarvan om die besoekers uit te boul en die deur oop te los vir hul kolwers om koning te kraai.
Matthew Seymore en Riley Norton kon die hoogste vennootskap van die dag (27; 41b) vir Paul Roos aanteken, voordat Christian van Zuydam hulle albei teruggestuur het na die kleedkamers toe.
Die Wege-broers het weer uitgeblink om die tuisspan in ‘n gunstige posisie te plaas, vir JJ van der Sandt (38*) en Roux Meyer (12*) om die oorwinning te bevestig in die 38ste beurt.
Christiaan Wege het 22 lopies bygedra en twee paaltjies gevat, terwyl Johan Wege sy vyftigtal net-net gemis het met sewe lopies, nadat hy 111 balle getrotseer het.
Van der Sandt het die Paul Roos-boulers gekasty met drie sesse en ‘n vier. Selfs met Norton, wat 11 paaltjies vir Suid-Afrika by die IKR se o. 19-Krieketwêreldbeker geneem het, op die aanval, kon die besoekers nie die nodige deurbraak bewerk om hul lae telling te verdedig nie.
Boishaai het verlede naweek reeds gewys waartoe hulle in staat is, toe hulle vir Bishops laat sweet het. Volgende naweek is dit Paul Roos se beurt om die Biskoppe aan te pak, so hulle sal die komende week wil poog om Saterdag se lesse oor te dra na daardie bepaling toe.
Beknopte telkaart:
Paul Roos Gimnasium: 120 (Beor van Reenen 25, Matthew Seymore 20; Marco Cato 3/23, Renaldo Windvogel 2/15, Christiaan Wege 2/19, Christian van Zuydam 2/36). Hoër Jongenskool Paarl: 125/4 (Johan Wege 43, JJ van der Sandt 38*, Christiaan Wege 22; Dian Winkel 2/27). Hoër Jongenskool Paarl wen met ses paaltjies.