SuperSport Schools Plus

Boishaai Bielies staan op 38 nie uit nie

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2016-10-02 Tags:

NewsG BoishaaiSpanDie Hoër Jongenskool Paarl se eerste rugbyspan se grootste sukses die afgelope twee seisoene lê nie op die rugbyveld nie, maar in die ontwikkeling wat die skool se afrigtingspan in die jong seuns se lewens gespeel het.

Ja, Boishaai was die afgelope twee jaar in 38 wedstryde nog nie aan die verloorkant nie en was ook sonder enige twyfel die voorste skolespan in die land, maar die span is boonop een van die mees diverse groepe spelers op skoolvlak in Suid-Afrika.

Die span word die afgelope twee jaar onder die slagspreek #ETFG (Every Try for God) saamgebind. Daarby is vanjaar se kaptein, Salmaan Moerat, ’n moslem. “Ons is ’n groep wat oop is om ons mede spanmaats se kulture en godsdienste te leer. Die waardes waarvoor ons as groep staan is baie soortgelyk as dit waarvoor my geloof ook staan,” het Moerat gesê.

Boonop was sewe van vanjaar se gereelde spelers sogenaamde spelers van kleur. “#ETFG het ontstaan in 2015 toe ons as ‘n span deur ‘n voorseisoen kamp gegaan het waar ons net deur alles beweeg het en ons was gemiddeld. Ons het daai dag in Yzerfontein hard met mekaar gepraat oor gemiddeld wees en jou beste wees, die seuns (eerste en tweede span altyd saam) het saam iets opgetrek wat ons wou voor staan en gekenmerk word as ‘n span.”

“God het amazing goed in die span gedoen met seuns, nie oor die wen nie maar in hulle harte en lewens. Niemand is perfek nie maar die manne probeer hard om n verskil te maak in areas van hulle eie lewens. Die seuns wat nie Christene was nie was benader en gevra hoe hulle voel deur die span en ek is baie trots oor hoe die manne mekaar se gelowe respekteer. Ons het oor mekaar se gelowe ook gesels en die verskille en uniekheid bespreek,” het Sean Erasmus, hoofafrigter van Boishaai, oor die span se slagspreek uitgebrei.

“Ek respekteer elke speler en maak tyd om die mens te leer ken. Dit beteken vir my jy kyk verby alles, kleur ingesluit en gee vir elke persoon dieslefde kans om homself te bewys en te groei. Ek was eenkeer deur iemand geluk gewens met die wen die jaar en toe bygese nogal met n “8/7” span, ek het net gedraai om te stap toe wonder ek wat n 8/7 span is en gevra? Toe antwoord die persoon dat ons ‘n span het wat 7 spelers van kleur het. Toe ons daarna as n afrigting span daaroor gesels het ons lekker gelag oor die feit dat ons nog nooit so na die span gekyk het nie. Niemand kan se dat spelers oor vel kleur hier speel by Boishaai nie, die mannetjies is puik spelers en goeie mense,” het Erasmus gesê.

In die Paarl word daar reeds gespot dat Boishaai se Seccies (tweedespan) ook die tweede beste span in die land is. Die naasbestes spog ook met ’n onoorwonne rekord die afgelope twee seisoene wat 36 wedstryde is.
Boishaai se eerstes het verlede jaar vir die eerste sedert 1982 daarin geslaag om ’n seisoen onoorwonne af te sluit.

Die segetog van Boishaai se eerstes sluit die twee seges uit wat hulle op die jaarlikse Nuweland-rugby teen onderskeidelik in 2015 teen Boland Landbou (10-0) en vanjaar teen Stellenberg (20-0) behaal het. Dit is nie volle wedstryde, terwyl daar ook stelskoppe toegelaat word nie.

NewsG SalmaanMoeratDie vraag op baie mense se lippe is wat is die rekord aantal wedstryde om onoorwonne te wees vir ’n skolespan. Die rekord staan agter Grey-kollege van Bloemfontein se naam.

Grey was in ’n goue era van 1985 tot in 1991 vir ’n ongelooflike 87 wedstryde onoorwonne. Die span van die Rosestad het wel in dié tydperk twee keer teen onderskeidelik Paarl Gimnasium (9-elk, 1988) en Grey PE (6-elk, 1990) gelykop gespeel. Grey was tussen 2007 en 2009 ook in 45 wedstryde op ’n streep aan die wenkant.

Sy laaste nederlaag in 1985 was teen Maritzburg College (4-10). Die span van Pietermaritzburg het die toekomstige Wêreldbeker-held Joel Stransky op losskakel in sy geledere gehad. Grey het se segetog is in 1991 deur Monument van Krugersdorp (14-16) tot ‘n einde gebring.

Boishaai het vanjaar agt spelers in die Westelike Provinsie se Cravenweek-span gehad en al agt het ook die Suid-Afrikaanse Skole-span gehaal, met Moerat wat ook die nasionale span aangevoer het. 

Die ander sewe spelers is Reece Bezuidenhout, Adam Neethling, Gianni Lombard, Khanya Ncusane, Daniel Jooste, Manuel Rass en Charl Serdyn. Lombard het vanjaar 249 punte vir sy skool se eerstespan aangeteken. Boishaai se losskakel, Rayhaan Lombaard, het vanjaar die skool se rekord getal wedstryd vir die eerstespan tot 66 wedstryde opgestoot.

Die vorige rekord vir meeste spelers in ’n SA Skole-span het ook aan Grey behoort. Grey het in 1981 die rekord daar gestel toe sy hele agterlyn behalwe die linkervleuel, Wimpie Burger, die nasionale skolespan se agterhoede gevorm het. Die span se heelagter Gerbrand Grobler, regtervleuel Leon Botha, senters Helgard Müller en André Greyling, losskakel Scheepers Gouws en skrumskakel Conrad de Beer het die SA-skolespan gehaal.

Burger is deur die toekomstige Springbok Kobus Burger (Paarl Gimnasium) destyds uit die span gehou.
Grey het in 2009 en 2010 sy rekord van 1981 geëwenaar toe onderskeidelik ses en sewe spelers vir die SA Skole-span gekies is.

Boishaai het dit oortref toe die SA Skole-afrigter, Lance Sendin, teen Wallis met sy plaasvervangings gesorg het dat daar sewe Boishaaiers vir die laaste ongeveer agt minute op die veld was, terwyl al agt ‘n rol in die wedstryd vertolk het.

Moerat, flank Serdyn, agtsteman Ncusane en die heelagter, Lombard het in die beginspan opgedraf. Serdyn is in die 58ste minuut vervang, terwyl die vaskopstut Neethling toe ook sy verskyning op die veld gemaak het.

Bezuidenhout, Jooste en Rass is daarna ook op die veld gestuur om die getal Boishaaiers wat op dieselfde tyd op die veld was sewe te maak.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.