Blou Tornado begin nuwe era onder Van Dyk

Die groot nuus uit Pretoria is dat Hoërskool Waterkloof ‘n nuwe era van rugby onder ‘n bekende gesig in die Klofie-gemeenskap gaan afskop.
Slegs ‘n paar dae nadat die nuweling in 2026 se SDC Noordvaal Cup Beker-afdeling, Hoërskool Middelburg, sy nuwe rugbydirekteur aangestel het, het nog ‘n groot hond in dié einste afdeling ‘n nuwe rugbybaas.
Cobus van Dyk sal vanaf 2026 leiding as baasbrein van die Blou Tornado se rugbystrukture neem.
Dit is welbekend dat Klofies se rugby vanjaar effens woema gekort het. Die skolereus uit die ooste van Pretoria moes enduit om oorlewing baklei, en dit is iets wat hulle in 2026 wil vermy.
Van Dyk is reeds vir die afgelope sewe jaar as sporthoof en eerstespan-afrigter by die Klofies betrokke, maar sien uit daarna om sy passie verder uit te leef.
“Die landskap van ‘n rugbydirekteur op skolevlak het die laaste klompie jaar aansienlik verander” het Van Dyk aan SuperSport Schools Plus gesê.
“Dit gaan nie slegs meer oor reëlings tref nie, maar myns insiens daaroor om ‘n gemeenskap bymekaar te bring, en hoop te skep vir ‘n gemeenskap. My taak gaan wees om ‘n sterk Klofie-gemeenskap bymekaar te bring deur Waterkloof-rugby, en om die nodige rolspelers hiervoor bymekaar te bring. Dit is hoe ons die pad vorentoe sien.”
Van Dyk het in 2013 sy eerste aansoek by SA Rugby ingedien om by die SA Skolespan se afrigtingskorps betrokke te raak. Dit is nie aanvaar nie, maar het hom op sy weg geplaas en hy het dieselfde jaar by die Pumas se Cravenweekspan begin afrig.
Daarna het hy vir 11 jaar ‘n rol vervul by SA Rugby, waarvan sewe as skrumafrigter van die SA Skole- en SA o.18-span – sedert die totstandkoming van die jaarlikse Internasionale o.18-reeks. Benewens daardie ervaring, is Van Dyk ook reeds vir vyf jaar betrokke by die Universiteit van Pretoria se eerste rugbyspan.
“Ek het natuurlik baie dankbaarheid in my hart. Eerstens gee ek al die lof en eer aan my Hemelse Vader, wat sedert die teleurstelling in 2013 ‘n yslike pad saam met my gestap het. Dan is daar natuurlik my vrou, Carika, en my twee kinders, waarsonder ek nie tot hier sou kon gevorder het nie.
“Ek is ‘n produk van ‘n groot groep mense wat my ondersteun en in my loopbaan belê het. Die groep by SA Rugby, Meneer Herman Masemla, Louis Koen, Nico Serfontein en ‘n ellelange lys van ander, waarby ek ongelooflik baie kon leer, het my beslis voorberei vir dié nuwe rol as rugbydirekteur.”
Van Dyk sal in 2026 steeds as die eerste span se hoofarigter aanbly. Sy afrigtingspan sal binnekort bespreek en uiteengesit word.
Die kans is boonop goed dat hy met sy verantwoordelikhede by onderskeidelik die Universiteit van Pretoria, die SA Skole en SA o.18 spanne sal voortgaan. Niks is egter nog op papier vasgemaak nie.
“Hou Kloof dop in 2026; ons werk hard agter die skerms en is besig met ‘n paar opwindende dinge wat beslis dividende sal betaal in die nuwe rugbyseisoen,” het Van Dyk opgewonde bygevoeg.
Die Klofies het reeds sy voorbereiding vir die 2026 seisoen afgeskop. ‘n Vier-week-lange gimnasiumprogram is sopas afgehandel en sal deur veldsessies, wat op 13 Oktober begin, gevolg word. Van Dyk glo dat dit alles ‘n stap in die regte rigting is om die Klofies se rugby weer ‘n krag in die Noordvaal Cup se Beker-afdeling te maak.

Click here for everything you need to know about the SDC Noordvaal Cup




