SuperSport Schools Plus

Blackies wen in Worcester, Charlies steeds onoorwonne

By Willem Louw , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2024-04-22 Tags: , , , , ,

Foto: Hugenote Fotografie

Hugenote Hoërskool van Wellington het voortgebou op hul puik vertoning verlede naweek teen Milnerton om ‘n sterk Worcester Gimnasium-span op eie bodem met 31-28 te troef.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools – Registreer nou Skakel na die wedstryd

Die “Blackies” van Wellington het dit van die eerste afskop af duidelik gemaak dat hulle oorgehaal was vir die stryd en binne die eerste 15 minute twee keer die tuisspan se verdediging ontbloot.

Gimmies se agsteman, Ryan Jacobs, het oorgedryf om sy span se rekening oop te maak, maar Xavier Fredericks en Ethan-John Isaacs het saamgespan om ‘n pragdrie aan te teken, kort voor halftyd, om ‘n voorsprong van 19-7 aan Hugenote te besorg.

Die Gimmies het reeds by ‘n paar geleenthede vanjaar beïndruk met hul opwindende spel en het dapper teruggeveg in die tweede skof. Met 20 minute speeltyd oor het die tuisspan ‘n agterstand van 14-31 in die gesig gestaar, maar hulle het nooit opgehou gapings soek in Hugenote se verdedigingslyn nie.

Hul drieëvraat-stut, Amaan Adendorff, het die terugvegpoging begin en oomblikke later het Renang Mrashula ook gaan druk om hul span tot binne trefafstand van die besoekers te kry. Die laaste aksiebelaaide vyf minute het in ‘n oogwink verby gegaan met albei spanne wat alles in die stryd gewerp het vir ‘n oorwinning.

Na nog ‘n strawwe skof op verdediging kon Hugenote uiteindelik die bal uitskop om die stryd tot ‘n einde te bring en ‘n welverdiende sege tot hul rekord te voeg. Gimmies sal dadelik moet hergroepeer om hul buurskool, HTS Drostdy, Woensdag aan te durf. Daarna speel hulle ook eerskomende naweek teen ‘n witwarm Brackenfell in Kaapstad.

In Ceres het Charlie Hofmeyr die plaaslike ondersteuners bederf met ‘n klinkende sege van 50-5 oor Bredasdorp in hul eerste tuiswedstryd van die seisoen.

Die Charlies het agt pragdrieë ingeryg met hul opwindende jong losskakel, Luan Giliomee, wat weereens briljant was en self twee keer bresse in Hoërskool Bredasdorp se verdediging geslaan het.

Die twee neefs op vleuel, Danico en Zephinith Sass, het ook elk 10 punte bygedra, wat boekdele spreek oor hoe effektief die Charlies se agterlyn die breedte van die veld aangewend het.

Volgende naweek geniet die span van Ceres ‘n welverdiende blaaskans, voordat hulle vir Langenhoven Gimnasium op die 4de Mei in Oudtshoorn aanvat.

Montagu se ster-binnesenter, Ronaldo Koker, was weer aan die brand in hul vriendskaplike kragmeting met Montana. Koker het 19 van sy span se punte aangeteken en met die omdraaislag het hulle reeds 52 punte sonder antwoord teen die span van Worcester opgestapel.

Koker se sentermaat, Peter-Wayne Soldaat, het uitstekend met hom gekombineer in die middeveld en kon self twee drieë agter sy naam plaas, terwyl agsteman, Xolani Yanta, ook die veld vol gespeel en ‘n driekuns behaal het.

Vroeër in die week het Montagu ook vir Ashton Sekondêre Skool met 65-7 kafgedraf. Yanta het in daardie wedstryd vier keer agter die doellyn gaan kuier.

Puntemakers:

Hugenote 31(19) – Drieë: Joshua Lewis (2), Kieran Smith, Xavier Fredericks, Brayden Abrahams. Doelskoppe: Luke Daniels (2). Worcester Gimnasium 28 (7) – Drieë: Waylan Pienaar, Ryan Jacobs, Amaan Aendorff, Renang Mrashula. Doelskoppe: Aiden Abrahams.

Charlie Hofmeyr 50 – Drieë: Luan Giliomee (2), Danico Sass (2), Zephinith Sass (2), LeRoux Groenewald, Daniel Bakkes. Doelskoppe: Giliomee (4), Jay-Jay Janse. Bredasdorp 5 – Onbekend

Montagu 67 – Drieë: Ronaldo Koker (3), Xolani Yanta (3), Peter-Wayne Soldaat (2), Nazeer Ahmed, Donevon Fredericks. Doelskoppe: Koker (6), Linden da Silva. Strafdoel: Koker. Montana 5.

Montagu 65 – Drieë: Xolani Yanta (4), Ronaldo Koker (2), Algurvine Evertson (2), Saied Batt, Peter-Wayne Soldaat, Linden da Silva. Doelskoppe: Koker (5). Ashton 7 – Onbekend.

Ander tellings

o. 19 – Hugenote II 22, Worcester Gimnasium II 19.

o. 16 –  Worcester Gimnasium A 29, Hugenote 24; Hugenote B 15, Worcester Gimnasium B 0; Charlie Hofmeyr A 37, Bredasdorp A 12; Montagu A 24, Jakes Gerwel A 5.

o. 15 – Worcester Gimnasium A 40, Hugenote A 21; Worcester Gimnasium B 30, Hugenote B 10; Charlie Hofmeyr A 32, Bredasdorp A 13; Montagu A 19, Montana A 8; Ashbury A 19, Montagu B 0.

o. 14 – Worcester Gimnasium A 33, Hugenote A 3; Worcester Gimnasium B 22, Hugenote B 0; Charlie Hofmeyr A 17, Bredasdorp A 5; Montagu A 41, Montana o. 15 B 0.

Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.