SuperSport Schools Plus

Blaaskans, net wat die dokter voorgeskryf het vir Parkies

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-06-12 Tags: , , , , , , ,

FOTO: Johan Orton.

Die blaaskans wat Die Hoërskool Menlopark in die vorige ronde van die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling geniet het, was presies wat nodig was op die vooraand van Saterdag se groot kragmeting met Hoërskool Dr EG Jansen in Boksburg.

Volg al die Beker-aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

Die Parkies se vorige kragmeting in Boksburg was teen Hoërskool Waterkloof, in die eindstryd van die NWU-Sportreeks, waar hulle die louere met 23-23 gedeel het.

Die Jansies het verlede naweek die einste Klofie-span vir die eerste keer sedert 2023, in Pretoria, met 22-20 getroef, wat die selfvertroue in die Boksburgers se kamp ‘n taamlike hupstoot sou gegee het. Dit was boonop slegs die Jansies se tweede sege in vanjaar se reeks.

Die Parkies het voor hul loslootjie gebuk gegaan onder verskeie beserings en siektes, wat hul momentum in die wiele gery en twee agtereenvolgende nederlae op tuisbodem tot gevolg gehad het, teen die verdedigende kampioen, Hoërskool Garsfontein (27-40), en nuweling, Hoërskool Transvalia (27-47). Hopelik was die blaaskans voldoende vir meeste van die afwesiges, soos vernaam loskopstut, Mattheus Prinsloo, om hul terugkeer te maak.

Hoewel daar steeds vraagtekens hang, beskik Parkies steeds oor genoegsame skietgoed, met die Blou Bulle se Cravenweek-senterpaar, Dylan Stumke en Leskin Samuels, wat vir ‘n opwindende tweestryd met die Jansies se middeveld-kombinasie van Nathan Delport en Christopher Combrink kan sorg. Die skrumskakelstryd tussen die Jansies se Joseph Diesel en Gustav Schäffner van die Parkies beloof ook vuurwerke.

Graig Lightfoot, die Jansies se woelige oopkantflank, het in sy laaste paar vertonings beïndruk en die Parkies se kantman, Nathen du Plessis, sal moet uithaal om die bedreiging wat Lightfoot inhou, in die los, te neutraliseer.

Hoërskool Waterkloof se paadjie raak nie makliker nie, met die naaswenners van 2024 wat hierdie naweek die Jukskeirivier oorsteek om die indrukwekkende Helpmekaar Kollege in Johannesburg die stryd aan te sê. Die Helpies beklee tans die die tweede plek op die Beker-puntelys met 22 ligapunte, drie agter die Garsies wat eerste is, maar is, nes die Klofies, gekwes na verlede Saterdag se naelskraapse nederlaag van 21-23 teen King Edward VII School.

Die groot nuus uit die Helpie-kamp is dat kaptein, Ty Ax, van heelagter na buitesenter skuif om die beseerde Clinton Cloete se plek in te neem. Cloete was reeds buite aksie teen KES, met Francois Tonkin wat toe op buitesenter diens gedoen het. Ax se terugkeer na senter, met die gevaarlike Ethan Lourens aan sy binnekant, behoort woema aan die Helpies se middeveld te verleen. Tonkin behou sy plek in die beginspan en wel in sy gunstelingposisie op linkervleuel.

Cravenweek-skrumskakel, Shaye Lourens, is steeds buite aksie weens harsingskudding-protokol, met Kean Butler wat vir die tweede agtereenvolgende week agter die kookwater Helpie-pak diens doen.

Afgesien van die nederlaag, het Klofies ongedeerd afgekom van die stryd met die Jansies, wat afrigter, Cobus van Dyk, toegelaat het om die beginspan dieselfde te hou met die oog op noodsaaklike kontinuïteit vir die Pretorianers se oorblywende vier wedstryde.

Die spanne: 

Hoërskool Dr EG Jansen t. Die Hoërskool Menlopark om 12:25 in Boksburg:

EG Jansen: 15 Deshean Pietersen, 14 Otlatleng Zulu, 13 Christopher Combrink, 12 Nathan Delport, 11 Jordan van der Westhuizen, 10 Dian Botha, 9 Joseph Diesel, 8 Slade Mowbray, 7 Jaco Engelbrecht, 6 Craig Lightfoot, 5 Breyton Kruger, 4 Jacques van Tonder, 3 Deveraux Wideman, 2 Marco Ventura, 1 Ruan Rossouw.

Menlopark (moontlik): 15 Reinhardt Herbst, 14 Bladen Petersen, 13 Leskin Samuels, 12 Dylan Stumke, 11 Lucian Reid, 10 Andru Keun, 9 Gustav Schäffner, 8 Ruan Strydom, 7 Dawid van den Heever, 6 Nathen du Plessis, 5 Xander Roets, 4 Tiaan Boshoff, 3 Ruvan van Aardt, 2 Declan Pelser, 1 Justin Toerien.

Helpmekaar Kollege t. Hoërskool Waterkloof om in Johannesburg:

Helpmekaar Kollege: 15 Michael Herbst, 14 Xander van Niekerk, 13 Ty Ax, 12 Ethan Lourens, 11 Francois Tonkin, 10 Wian Storm, 9 Kean Butler, 8 Llewelyn Vermaak, 7 Zaiden Krige, Jandré Botha, 5 Zian Smith, 4 Diandro Botha, 3 Dylan Engelbrecht, 2 Gustav Grotius, Liam Devenier.

Waterkloof: 15 Tiaan Posthumus, 14 Gustav Mienie, 13 Meyer Pretorius, 12 Dylan Botha, Jaiden Badenhorst, 10 Ronan Bastiaanse, 9 Jacobus van den Berg, 8 Marko Kok, 7 Dawid Prinsloo, 6 Divan Botha, 5 Heinrich Naude, 4 Phillip Mans, 3 Jedri Swart, 2 Ruan Jacobs, 1 Alexander Elliott.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.