Bethlehem skuif reg vir Rusties se besoek

‘n Stryd tussen twee avontuurlustige agterlyne beloof om Saterdag aanskoulike hardlooprugby op Hoërskool Witteberg se tuisveld op te lewer.
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die span van Bethlehem verwelkom die gevaarlike groen golf, naamlik Hoërskool Rustenburg, vir ‘n vriendskaplike ontmoeting ter voorbereiding van die onderskeie ligas wat eersdaags afskop.
Witteberg het reeds beïndruk deur Hoërskool Wesvalia verlede naweek, in gietende reën en op ‘n modderbad in Klerksdorp, met 22-7 te tem. Die kliniese vertoning deur vernaam sy agttal, onder leiding van slot en kaptein, Pieter Nel, sou die Rusties se afrigtingspan laat regop sit het, maar die vertoning deur Witteberg se twee senters het verál die wenkbroue laat lig.
Sedwin Gysman en JC van Rhyn het deurentyd met fisieke barslopies hul span oor die voordeellyn gekry en dit beloof om Saterdag ‘n liplekker-stryd met die Rusties se senterpaar, Hendré Robinson en Jonré Jefthas, af te gee.
Vernaam Jefthas sal fyn dopgehou moet word deur die tuisspan se verdediging, aangesien hy nie alleen ‘n kragtige baldraer is nie, maar ook oor heelwat vaart beskik. Sy venynige voetwerk het dikwels vir Hoërskool Trio, in die Rusties se sege van 17-14 sege in Rustenburg, onverhoeds betrap.
Daar rus ook heelwat verantwoordelikheid op die besoekers se heelagter, Lorenzo Snyers, wat, nes Jefthas, bedrieglik is met bal in hand en ‘n groot gevaar inhou met sy teenaanvalle van agter.
Merensky Landbou Akademie loods sy 2025-veldtog op die plaas in Tzaneen teen Hoërskool Nylstroom, wat ‘n gedugte begin-vyftiental in die veld stoot. Die veelsydige Maritz Meinjies voer die Ligbloues uit die agterlyn aan en, hoewel hy verlede jaar naam gemaak het op heelagter, is hy vanjaar op binnesenter in aksie. Aan Meintjies se buitekant wag die blitsige Jens Bezuidenhout op die besoekers van Nylstroom.
Voorlangs sal haker, Carel Volschenk, Meintjies se onderkaptein en ook hoofseun van die trotse Landbouskool, die aanslag lei, met bystand van die breker-slot, Craig Walker, wat die Nylies deurlopend besig behoort te hou.
Die spanne:
Witteberg t. Hoërskool Rustenburg om 13:30 in Bethlehem:
Witteberg: 15 Qlin Booyse, 14 Donay Williams, 13 JC van Rhyn, 12 Sedwin Gysman, 11 Kenyon Morat, 10 Tshepo Motloang, 9 Christiaan de Boer, 8 Daniel Meintjies, 7 JP Cronje, 6 Divan Marais, 5 Jacques Jordaan, 4 Pieter Nel, 3 Mila Oersen, 2 Rico van Vuuren, 1 Cobus Labuschagne.
Hoërskool Rustenburg: 15 Lorenzo Snyers, 14 Raqiel Jaftha, 13 Jonré Jefthas, 12 Hendré Robinson, 11 Wes van Loggerenberg, 10 Wade Daivey, 9 Adriano George, 8 Donnie Moster, 7 Dirk Huisamen, 6 Pieta Niemandt, 5 Evan van Heerden, 4 Tristan Myburgh, 3 Ockert Grobler, 2 Xavier Steenkamp, 1 Carel Schoonraad
Merensky t. Hoërskool Nylstroom in Tzaneen:
Merensky: 15 George Steenkamp, 14 Armand Eloff, 13 Jens Bezuidenhout, 12 Maritz Meintjies, 11 Christo Venter, 10 JD Boshoff, 9 Muis Tolken, 8 Mukhetwa Musundwa, 7 PG Botes, 6 Jan Pretorius, 5 Craig Walker, 4 Blessing Mathebula, 3 Leander Burger, 2 Carel Volschenk, 1 Otto Muller.
Nylstroom: TBC