Bergsig wen op drafstap, La Grange-vierkuns sink Hansies
Bergsig Akademie het nóg ‘n groot waarskuwing vir die res van die seisoen uitgestuur.
Herleef die aksie op SuperSport Schools. (www.supersportschools.com).
Die span van Rustenburg het, op tuisbodem, die besoekende Hoërskool Driehoek met ‘n telling van 47-3 oorweldig.
Die grootste skade was reeds in die eerste helfte aangerig, met die tuisspan wat teen rustyd gerieflik met 28-3 voorgeloop het.
Dit was die Bergsig-agterlyn wat met aanskoulike hardlooprugby vir Driehoek die uitklophou toegedien het. Dit sou egter nie moontlik gewees het sonder die fisiekheid en vuur van die groot manne voorlangs nie, wat die nodige platform vir die snellers agterlangs gelê en ‘n goed afgeronde spanpoging verseker het.
Linkervleuel, Alzandro dos Santos, was in ‘n vernietigende bui op die aanval, en het twee keer agter Driehoek se doellyn gaan draai. Losskakel, Simeon Botha, het nes Dos Santos, ook twee keer gedruk, terwyl haker, Johandre Steyl, voorlangs uiters bedrywig was en soos ‘n wafferse losvoorspeler die pap dik aangemaak het.
Hoërskool Secunda se “Blink Brink” la Grange het nie minder nie as vier keer die tuisspan, Hoërskool Hans Moore, se doellyn oorgesteek. La Grange se bydrae van 20 punte het verseker dat die manne van Mpumalanga met ‘n telling van 47-16 in Benoni kon seëvier. Heelagter, Damian de Beer, het met ses van sy sewe pogings pale toe geslaag om ook 12 punte aan te teken.
Merensky Landbou Akademie het hulself gate uit geniet in Nylstroom. Die span van Tzaneen het hul gashere, Hoërskool Nylstroom, met ‘n reuse telling van 62-13 oorrompel.
Losskakel, Byron Hendricks, het gewys waarom hy verlede jaar reeds generaal van die Limpopo Blou Bulle se agterlyn was. Hendricks het twee keer gedruk en ses doelskoppe oorgeklits vir ‘n persoonlike bydrae van 22 punte op die dag.
Puntemakers:
Bergsig Akademie 47 (28) – Drieë: Alzandro dos Santos (2), Simeon Botha (2), Johandre Steyl, Luanda Taffa, Dewald Potgieter. Doelskoppe: Botha (4), Lundro Scheepers. Driehoek 3 (3) – Strafdoel: Juandre Hugo.
Merensky 62 (38) – Drieë: Byron Hendricks (2), Tirelo Mashapa, Rico Pieterse, PG Botes, Hardus Terblanche, JD Boshoff, Jens Bezuidenhout, Ulrich Maré, Ashten Demos. Doelskoppe: Byron Hendricks (6). Nylstroom 13 (8) – Drieë: MJ Botha, Willie Kruger. Strafdoel: Willie Kruger.
Secunda 47 (21) – Drieë: Brink La Grange (4), Franko Rossouw, Bakkies Bezuidenhout, Nkanyiso Mashiteng. Doelskoppe: Damian de Beer (6). Hans Moore 16 (11) – Drieë: Warren Minnaar, Wikus Rossouw. Strafdoele: Stephan Kellerman, Ettienne Smith.
Ander spanne:
o. 16: Bergsig Akademie 52, Driehoek 0; Merensky 50, Nylstroom 0; Secunda 34, Hans Moore 21.
o. 15: Bergsig Akademie 66, Driehoek 0; Merensky 26, Nylstroom 0; Secunda 38, Hans Moore 12.
o. 14: Bergsig Akademie 37, Driehoek 21; Merensky 32, Nylstroom 7; Hans Moore 3, Secunda 0.