Berepark weer ‘n brug te ver vir Jansies
Hoërskool Garsfontein, op sy tuisveld, was weer nét te goed vir Hoërskool Dr. EG Jansen.
Herleef al die Noordvaal Cup se Beker-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die Pretorianers was blitsig uit die blokke om ‘n groot genoeg voorsprong op te bou en vir die Arende met 39-15 af te stof.
Dit was boonop die Jansies se eerste nederlaag in vanjaar se reeks en die feit dat hulle van voorloper tot derde op die puntelys gesak het, weerspieël die strawwe aard van die kompetisie. Die Arende het derhalwe ‘n tuishalfeind prysgegee en moet hierdie week terugkeer Berepark toe vir hul halfeindstryd.
Die Bere se buitesenter, Ruan Enslin, het gewys hoekom hy in 2023, toe hy nog op vleuel diens verrig het, een van die kompetisie se voorste driedrukkers was. Enslin en regtervleuel, Xian Erasmus, het die Jansies agterlangs gelooi en elk twee drieë gedruk.
Die grondslag vir die Bere se voortreflike vertoning agterlangs is deur die voorrymanne, Justin Blom en Luan van den Berg, gelê. Blom, die Bere se haker, was oudergewoonte ‘n yster in die vastelos, terwyl Van den Berg met sy barslopies vir die verdedigers van Boksburg al hul dae gegee het.
Die Arende het ietwat lusteloos voorgekom en kon eenvoudig nie hul ritme vind nie.
Slot, Gerhard van Aswegen, het nietemin voortgebou op sy belowende seisoen en vir die soveelste keer vanjaar oorgebars vir ‘n welverdiende tweekuns. Hy is moedig ondersteun deur steelkantflank, Divan Francis, maar hulle kon net nie genoeg voorwaartse momentum bewerk om die oorhand the verkry nie.
Hoërskool Rustenburg het sy eerste seisoen in die Beker-afdeling op die hoogste noot moontlik afgesluit en die loesing van 8-87 teen Monument duidelik afgeskud om die besoekende Hoërskool Menlopark met 46-31 kaf te draf.
Albei skole se ondersteuners was bederf met hardlooprugby uit die boonste rakke, met elke span wat binne die eerste 10 minute reeds agter die opponente se doellyn gaan draai het.
Die Parkies se Leskin Samuels het gewys hoekom hy vir die Blou Bulle by vanjaar se Cravenweek verteenwoordig het en het nie alleen die Rusties deurgaans met sy dartellopies aan die raai gehou nie, maar ook twee van sy span se vyf drieë gedruk. Hy het goeie ondersteuning op die aanval van regtervleuel, Gustav Schaffner en heelagter, Reinardt Herbst, ontvang.
Dit was egter die tuisspan se indrukwekkende duo bestaande uit heelagter, Lorenzo Snyers, en buitesenter, John-Re Jefthas, wat die momentum in die guns van die Rusties geswaai het met hul vermoë om die tuisspan keer op keer oor die voordeellyn te kry.
Agsteman, Coenraad Coetzer, het ook beïndruk met sy kragtige dryfspel, terwyl skrumskakel, Adriano George, laat in die wedstryd vir Menlopark die finale nekslag toegedien het met ‘n puik tweekuns.
Puntemakers:
Garsfontein 39 (31) – Drieë: Ruan Enslin (2), Xian Erasmus (2), Justin Blom, Luan van der Berg. Doelskoppe: Handre Maree (3). Strafdoel: Maree. EG Jansen 15 (10) – Drieë: Gerhard van Aswegen (2), Divan Francis.
Hoërskool Rustenburg 46 (29) – Drieë: Adriano George (2), Coenraad Coetzer, Xavier Steenkamp, Christiaan van der Bergh, Lorenzo Snyers, John-Re Jefthas. Doelskoppe: Awie Alberts (2). Menlopark 31 (19) – Drieë: Leskin Samuels (2), Anru Keun, Gustav Schaffner, Chrisjan Brits. Doelskoppe: Phillipus de Bruyn.
Ander spanne:
o.16: Garsfontein 54, Dr. EG Jansen 17; Rustenburg 22, Menlopark 20.
o.15: Garsfontein 29, Dr. EG Jansen 6; Menlopark 14, Rustenburg 12.
o.14: Garsfontein 52, Dr. EG Jansen 5; Rustenburg 61, Menlopark 0.
- Brandmuller’s bat the difference in Middelburg’s win over Secunda - 2024-09-10
- Big win for Wesvalia in nail-biter - 2024-09-09
- Swanepoel and Van Zyl, Merensky’s nightmare - 2024-09-09